783 klagtes teen Suid-Afrika se oud-president

  • 0

’n Protesplakaat met Atul Gupta word deur twee EFF-lede voorgehou tydens die Zuma Must Fall-optogte in Kaapstad. (Foto: Discott (Eie werk) [CC BY-SA 4.0], via Wikimedia Commons)

Na nege jaar as president van Suid-Afrika gaan Jacob Zuma, glyjakkals van die postapartheid politiek, op meer as 783 beskuldigings van omkopery, geldwassery en korrupsie in die hof verskyn.

Op 6 April 2009 is die 783 aanklagte van omkopery teen Zuma in ’n 1999-wapenonderhandeling deur die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) teruggetrek.

Op 6 April 2018 daag die NVG die gewese president met dieselfde klagtes voor die hof. Meer klagtes word verwag. Op 12 April word Zuma 77 jaar oud.

Op 14 Februarie vanjaar het Jacob Zuma as president bedank ’n dag voor die negende mosie van wantroue in die parlement teen hom gedebatteer sou word.

Hy het agt sulke debatte oorleef en die naam “Teflonman” gekry.

Die nalatenskap van Jacob Gedleyihlekisa Zuma gaan ‒ so glo diegene agter die klagtes teen hom ‒ een van grootskaalse kriminaliteit word, asook ’n ongelooflike misbruik van belastingbetalersgeld vir sy vele teenaansoeke in die sake wat teen hom beslis word.

Zuma se Zoeloenaam beteken “hy wat nie kan stilbly as ander hom verraderlik toeglimlag nie”.

Zuma het self ’n tartende, glimlaggende gegiggel laat hoor – ’n he-he-he wat koggelend in debatte sou opklink.

Hy het graag gedans en gesing (opstookliedjies). Hy het sy Zoeloeheid ook in tradisionele velle en krale gevier. Hy was in die oë van baie ’n geslepe, opperste leuenaar, maar het ook groot sjarme gehad. Hy was ’n bobaas in faksievorming in sy party die African National Congress (ANC). Hy het inderdaad die liefling van miljoene mense, veral Zoeloes, geword. Hy het op veldtogte behuising belowe, meer werk, beter dienste ‒ en selde sy beloftes nagekom.

Zuma het in sy termyn ’n kabinet van altesaam 73 beheer met die vrees vir dikwels middernagtelike besluite oor wie van sy pos onthef moet word, en wie ingetree moet word. Hy het ’n uitgebreide span lojaliste opgebou en ingetrek in sy netwerk van korrupsie, omkoopgeld en uiteindelik staatskaping.

Staatskaping het die temawoord geword vir die invloed van drie Indiese broers, die Guptas, wat op verbysterende wyse miljarde rande se beleggings en inkomstes uit groot staatstransaksies sou “verdien”. Huidig het die broers en Zuma se seun Duduzane, wat betrokke geraak het by die intriges, na die buiteland gevlug toe hulle deur die ondersoeke na hul mag en geldwassery aangekla is.

’n Shakespeareaanse web speel nou uit van verraderlike vriendskappe, verloëning van ou kollegas tydens die vryheidstryd wat die ANC in Suid-Afrika en die buiteland beplan het. Zuma se afhanklikheid van geld het ondenkbare afmetings geneem. Hy het sy Zoeloe-woonkompleks, Nkandla, laat opgradeer tot afdelings vir hoenderhokke, beeskrale en weiplekke vir bokke. Uiteindelik moes hy geld leen om ’n bedrag daarvoor terug te betaal aan die fiskus, aangesien dit belastinggeld is waarmee hy ongereguleerde bouwerk laat doen het.

Zuma, ’n skramsgeleerde mens (hy kon met moeite lees), maar bekend as ’n uitstaande strateeg (hy was ook hoof van intelligensie in die verbanne ANC), het nie, soos baie ander postapartheid ANC-lede, groot aandeelhouding in Suid-Afrikaanse nywerhede gekry nie.

Hy was pateties arm. Na bewering was sommige omkoopbedrae belaglik klein.

Hy was lief vir weelde. Hy is ’n veelwywer en word gesien as die pa van tussen 22 en moontlik 30 kinders. Hy was ses keer getroud; vier van sy vroue leef nog as erkende eggenotes. ’n Gewese vrou, Nkosazana Dlamini-Zuma, het hom na vier dogters in 1998 geskei. ’n Ander vrou, Kate, het in 2000 selfmoord gepleeg. ’n Huidige vrou bekend as MaNtuli is van Nkandla verban ná gerugte dat sy Zuma sou vergif het deur voorbereide kos. Dit het Russiese dokters gekos om die oorsaak van ’n skielike baie maer en moeë Zuma, wat glo wel vergiftig is, te diagnoseer. Zuma het deurentyd die diens van ’n Russiese dokter tydens sy termyn gehad.

In 2006 is Zuma aangekla van verkragting deur die dogter van ’n ou vriend van Zuma. Sy was toe bekend as Khwezi (Fezekile Kuzwayo). Die opspraakwekkende verhoor het in ’n bisantynse skouspel ontaard. ’n Vragmotor het buite die hof gewag vir Zuma om daarop te klim na elke verhoordag en vir die hordes wat hom ondersteun, waaronder ’n massa vroue, te sing en sy danspassies uit te haal. Zuma het in sy verweer, toe dit bekend word dat Khwezi inderdaad MIV-vigs onder lede het, getuig dat hy slegs gestort het na die seks.

Die bekende spotprenttekenaar Zapiro het Zuma toe met ’n stortkop op sy kop geteken – ’n beeld wat deur ander gevolg is dwarsdeur sy termyn as president.

Uiteindelik is Zuma van verkragting onskuldig bevind. Khwezi het buiteland toe gevlug. Sy is verlede jaar oorlede.

Zuma het Suid-Afrika se lidmaatskap van die Brics-lande (Brasilië, Rusland, Indië, China, Suid-Afrika) hoog aangeskryf. Maar dit was met sy onderhandeling met veral Rusland oor ’n moontlike kernkraginstelling dat sy ekstreme onderduimsheid die grootste vlaag van anti-Zuma gesindheid in die land laat ontstaan het.

Die Teflonman met sy gesluierde, amper reptielagtige oë, kaalkop, fiere houding en duur klere, maar leë beursie, gaan nou die grootste uitdaging in sy lewe tegemoet.

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top