Afrikaans is belangrik, sê minister

  • 0

Foto: GCIS
Attribution-NoDerivs 2.0 Generic (CC BY-ND 2.0)

Die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, sê Afrikaans is een van die land se mees ontwikkelde Afrikatale en die regering het geen planne om dit af te skaf as taal van onderrig nie.

Haar uitlating volg op toenemende druk uit sommige oorde dat Afrikaans as onderrigtaal in alle staatskole deur Engels vervang moet word.

Die toekoms van Afrikaans as onderrigtaal is opnuut in die kollig nadat die hooggeregshof ’n versoek deur die Gautengse Onderwysdepartement tersyde gestel het dat die Hoërskool Overvaal in Vereeniging (wat ’n Afrikaansmediumskool is) verplig moet word om 55 bykomende Engelse leerlinge te aanvaar.

Die hof het bevind dat die skool vol is en dat daar genoeg plek vir die leerlinge in die Engelse buurskole is.

Die voorsitter van die Afrikaanse Taalraad (ATR), Conrad Steenkamp, sê hy verwelkom Motshekga en die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke se rol in die “deëskalering” van die spanning by Hoërskool Overvaal in Gauteng.

Motshekga sê Afrikaans kan nie net weggegooi word nie.

Sy het die opmerkings die afgelope naweek in Pretoria gemaak tydens ’n mediakonferensie oor die stand van basiese onderrig in Suid-Afrika.

Daar woed ’n fel debat in Suid-Afrika oor die voordele van moedertaalonderrig. Op universiteitsvlak is Afrikaans reeds dramaties afgeskaal en feitlik al die land se universiteite het heeltemal verengels.

Motshekga sê daar is ’n plek vir almal en elke taal in Suid-Afrika. Sy sê Afrikaans is nie net Afrikaners se taal nie, want daar is meer mense wat nie wit is nie wat Afrikaans praat en die taal moet bewaar word.

Sy het vrese besweer dat Afrikaans as onderrigtaal op skole afgeskaf sal word. Sy sê niemand het nog die reg vir Afrikaans om as ’n taal te bestaan bevraagteken nie. Meer as die helfte van die bevolking in die Wes-Kaap praat Afrikaans. Motshekga sê Afrikaans het al die vereistes vir ’n onderrigtaal.

Die voorsitter van die Afrikaanse Taalraad, Conrad Steenkamp, sê daar moet openlik oor ras en rassisme gepraat word. “Ons moet ook praat oor die onbedoelde gevolge van ‘transformasie deur Engels’. Wie word deur verengelsing bevoordeel en wie word benadeel? Wanneer sluit taal in en wanneer sluit dit uit? Hoe pas taal en meertaligheid in by die Suid-Afrika wat ons almal wil hê? Hoe rym dit alles met internasionale beste praktyk?”

’n Veldtog teen Afrikaans berus volgers Steenkamp op ’n foutiewe stereotipe van Afrikaanssprekendes en Afrikaanse skole.

Die bestuurder van die Suid-Afrikaanse Onderwysersontwikkelingstrust in die Wes-Kaap, Danie van Wyk, sê die tyd het aangebreek vir ’n gesprek oor onderwys, veral Afrikaanse onderwys, met die land se adjunkpresident Cyril Ramaphosa en die EFF. Die EFF het verlede week by die Hoërskool Overvaal betoog teen Afrikaans as onderrigtaal. Van Wyk sê so ’n afvaardiging moet bestaan uit rolspelers uit bruin, wit en swart Afrikaanse gemeenskappe.

“Dit moet help om Afrikaans en Afrikaanse onderwys te depolitiseer en te destigmatiseer. Ons kan nie toelaat dat Afrikaans as ’n konserwatiewe eksklusief Afrikaner-reaksionêre taal voorgestel word nie.

Van Wyk is die afgelope twee jaar betrokke by inisiatiewe waar die krisis in Afrikaanse onderwys bespreek is. Dit het gewissel van gesprekke met die Universiteit Stellenbosch tot die organisasie Gelyke Kanse wat hom vir die voortbestaan van Afrikaans beywer. Die byeenkomste het Afrikaanssprekers uit wit en bruin gemeenskappe ingesluit.

Volgens Van Wyk was sommige van die gesprekke meer suksesvol as ander. Hy sê daar is met wedersydse begrip met mekaar gepraat. Hy gee toe dat daar verskillende benaderings tot die krisis in Afrikaanse onderwys is, maar sê gesprek is die beste keuse om die verskille aan te spreek en op te los.

“My deurlopende betrokkenheid by skole – veral bruin Afrikaans gemeenskappe – het getoon dat Afrikaanse moedertaalonderrig die beste oplossing is vir die swak prestasie van baie van ons kinders.”

Twee bruin skole wat veral beïndruk het met Afrikaans, was die sekondêre skole Tafelsig en Aloe in Mitchells Plain. Tafelsig het die toekenning ontvang as skool wat die beste in Afrikaans as huistaal in die Wes-Kaap presteer het. Aloe se uitslae het met 50% verbeter, omdat hulle op moedertaalonderrig gefokus is.

Van Wyk sê dit is ’n wanopvatting dat Afrikaanse onderwys uitsluiting, diskriminasie en eksklusiwiteit beteken.

Buro: NB
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top