Afrikaanse vertalings in die kollig tydens Vertaalslag 2018, Amsterdam

  • 0

Die rol van die vertaler as kultuurbemiddelaar word dikwels onderskat, juis omdat vertalers gewoonlik in die agtergrond werk en hulle teenwoordigheid in ’n teks so onopsigtelik as moontlik maak. Dis dan nie vreemd dat hulle ook in die werklike lewe daarin slaag om onder die radar te beweeg nie, ten spyte van die berge wat hulle versit.

In Nederland is daar ’n gideonsbende van vertalers wat Afrikaanse letterkunde aan die lesers in die Lae Lande ontsluit het. In ’n land met ’n besonder sterk vertaalkultuur vorm hulle deel van ’n groter gemeenskap van vertalers wat aktief betrokke is by die literêre wêreld en terugploeg in die beroep deur middel van vertalersdebatte, slypskole en vertaalopleiding. Dit is dus beslis nie ’n geringe eer wat Ingrid Glorie vanjaar te beurt geval het om as Vertaalengel gekroon te word nie.

Rob van der Veer aan die woord (Foto: Marike van der Watt)

Ton Hoenselaars oor Shakespeare

Die afdeling Literair Vertalers van die Auteursbond, in samewerking met die Stichting Literair Activiteiten Amsterdam, se tiende Vertaalslag is op 26 Maart by Tolhuistuin aangebied, waartydens die Vertaalengel en die Vertaalduivel van die jaar aangewys is. Die tema van die aand was Zijn of (niet) vertaald zijn – Shakespeare in het Nederlands, en die veelsydigheid én aktualiteit van Shakespeare in Nederland(s) is geïllustreer deur Ton Hoenselaars, skrywer van Shakespeare forever!, woordkunstenaar Smita James met haar moderne weergawe van en antwoord op ’n Shakespeare-gedig, en die Belgiese digter, skrywer en dramaturg wat in Suid-Afrika geen bekendstelling nodig het nie, Tom Lanoye.

Met die Vertaalengel-toekenning word erkenning gegee aan persone of instansies wat hulle op Nederlandse vertaalgebied onderskei, terwyl die Vertaalduivel-tiekenning eerder ’n aansporing as ’n straf is om die vertaalgemeenskap beter te dien. So byvoorbeeld het die gewilde Nederlandse TV-program De wereld draait door een jaar die Vertaalduivel ontvang omdat hulle nie tydens gesprekke oor vertaalde werke die name van die vertalers genoem het nie. Ná die toekenning van die Vertaalduivel het hulle wel daarop gelet om aan die vertalers erkenning te gee, en die volgende jaar se Vertaalengel is toe aan die program toegeken. Vanjaar is die woordeboekgroep Van Dale as die Vertaalduivel aangewys omdat hulle digitale woordeboeke nou slegs met jaarlikse lidmaatskap beskikbaar is, wat baie duurder is vergeleke met die programmatuur wat voorheen verkoop is. In sy repliek op die toekenning het die verteenwoordiger van Van Dale, Jaap Parqui, verduidelik waarom die nuwe stelsel genoodsaak is en vertalers genooi om insette te lewer om die woordeboeke en gebruik daarvan te verbeter en te vergemaklik.

Smita James

Tom Lanoye

Rob van der Veer

Maar die ster van die aand was Ingrid Glorie, en Rob van der Veer, die Nederlandse vertaler van onder andere André Brink en Karel Schoeman, kleur die laudatio op vermaaklike wyse in met foto’s van Ingrid in aksie tydens die Week van de Afrikaanse roman. Daarin word sy nie net omring deur Suid-Afrikaanse skrywers soos Etienne van Heerden, Irma Joubert, Marlene van Niekerk, Simon Bruinders, Marita van der Vyver, Ingrid Winterbach en Willem Anker nie (om maar ’n paar te noem wat sedert 2014 saam met Ingrid die Lae Lande kon deurkruis), sy neem ook die voortou (wat aan haar die eretitel van “Hoofmeisie” deur Etienne van Heerden besorg het), sleep koffers swaar gelaai met boeke rond en sit agter tafeltjies as boekverkoper. Hy vertel van die Afrikaanse leeskring by Zuid-Afrikahuis wat sy 15 jaar gelede op die been gebring het, Maandblad Zuid-Afrika (sedert 2018 Zuid-Afrika Spectrum) waarvan sy die redakteur is; haar rol as Nederlandse korrespondent vir die nuwe webwerf vir Afrikaans, Nederlands en Vlaams, Voertaal.nu; die vertaalpenning wat op haar inisiatief oorhandig is aan Riet de Jong-Goossens, vertaler van meer as 60 boeke uit Afrikaans in Nederlands; en die Festival voor het Afrikaans wat sy vir 22 en 23 September 2018 in Amsterdam organiseer. En dan is daar natuurlik die borrels ter afsluiting van elke geleentheid en waartydens die vertalers sosiaal saam met kollegas en “hulle” lesers en skrywers kan verkeer.

Ingrid Glorie met haar Vertaalengel

In haar aanvaardingstoespraak verskuif Ingrid weer die fokus na die Afrikaanse taal en letterkunde, waarvoor sy ’n passie het wat min Afrikaanse moedertaalsprekers sal kan ewenaar. Sy beskou haarself nie as ’n goeie vertaler nie, al het sy vertalings van skrywers soos Deon Meyer, Deon Opperman, Etienne Leroux en Simon Bruinders op haar kerfstok. Sy vertel van die ooreenkomste en verskille tussen Afrikaans en Nederlands, en bieg dat sy soms sukkel om te oordeel waar Nederlands ophou en Afrikaans begin. Daarom bewonder sy die vertalers wat dit regkry om die twee tale netjies uitmekaar te hou, al hou hulle soms daarvan om ’n Afrikaanse woord of wat in ‘n Nederlandse vertaling in te smokkel. Sy erken dat daar besorgdheid oor die taal se toekoms is, maar glo dat Afrikaans terselfdertyd springlewendig is danksy ’n bloeiende kultuur op die gebied van literatuur, musiek en teater. Vir Ingrid is daar net een rede waarom ’n mens jou met die taal moet besig hou, en dit is nie om politieke of essensialistiese redes nie – die taal moet tot jou hart spreek. Sy verbly haar oor uitgewers soos Podium, Mozaїek en Brevier wat die sprong waag en in Afrikaanse literatuur belê, oor die uitbreiding van die Nederlandse vertaalkorps wat uit Afrikaans in Nederlands vertaal, en ook oor nuwe subsidies wat beskikbaar is van die nuutgestigte PEN Afrikaans Vertaalfonds.

Toe sy net lank genoeg by die gebruiklike borrel vertoef het, verdwyn Ingrid stil-stil agter haar twee reusebosse blomme en kies koers huis toe, waar sy nog aan ’n toespraak vir die volgende dag moes timmer – ’n groep afgetrede diplomate het haar genooi om hulle toe te spreek oor Suid-Afrika en Afrikaans.

Die Vertaalengel en die Vertaalduivel met Shakespeare wat oor hulle skouers loer

Die Vertaalengel is beslis nie die kroon op Ingrid se betrokkenheid by Afrikaans nie, maar net prettige verposing voor sy weer agter haar rekenaar inskuif en passievol verder werk om Afrikaans in Nederland en Vlaandere te bevorder. Almal wat lief is vir Afrikaans, is groot dank aan ons Nederlandse taalambassadeur verskuldig.

Marike van der Watt is ’n PhD-student aan die Universiteit Stellenbosch en die Katholieke Universiteit Leuven, en doen navorsing oor Afrikaanse prosa in Nederlandse vertaling.

  • Foto’s: Elize Zorgman
Buro: MvH
  • 0
Top