Australië se krieketskandes het Suid-Afrikaners verenig

  • 0

Die Australiese krieketspan se skande in Suid-Afrika toe daar met die bal gepeuter is maak wêreldwyd opslae nadat die kameras langs die veld hulle kullery aan die hele wêreld ontbloot het.

Australië se eie media het dié land se kriekethelde ook ernstig geroskam namate die skandaal verder uitkring. Koerante in Australië het hulle land se span op die voorblaaie in groot vet letters as “Hypocrites” en skelms uitgekryt. The West Australian se bladsy een opskrif beskryf dit as ʼn nasionale skandaal terwyl die Herald Sun sê die hele span behoort in die pad gesteek te word.

Die kleeflint-debakel hou ook ernstige finansiële implikasies vir Australië se krieket in. Van die land se grootste krieketborge wat handelsmerke soos die Qantas-lugredery, die ontbytgraan-vervaardiger Sanatarium en die brouer Lion insluit heroorweeg nou hulle verbintenis met die span.

Nassar Hussain, oud-kaptein van Engeland, het aan Sky Sports gesê die skandaal kan veroorsaak dat mense ook die uitslag van ander onlangse reekse bevraagteken wat deur Australië gewen is.

Koerante in Suid-Afrika het selfs hoofartikels oor die sogenaamde balpeuterskandaal geskryf.

Die Burger skryf in ʼn hoofartikel die stigma van balpeuteraars sal nou vir altyd aan kaptein Steve Smith en sy spanmaats kleef en hulle sal dit sekerlik verkies om Australië na die toer een-een binne te sluip sonder die skerp mediasoeklig.

Volgens Die Burger kon die skandaal vir Suid-Afrika nie op ʼn beter tyd gekom het nie. In tye van onverkwiklike debatte oor grondhervorming en toenemende polarisasie het die voorval Suid-Afrikaners volgens die koerant se redaksionele kommentaar weer laat saamstaan.

Die man wat in beheer was van die krieket-uitsending wat die knoeiery met hulle 30 kameras langs die veld op film vasgelê het, Alvin Naiker, het aan Netwerk24 gesê die Australiërs was dom om te dink hulle kan met ʼn geknoei op die veld wegkom.

Die Australiese krieketskrywer Brydon Coverdale het geskryf die skandaal is groter as krieket.  

Hy sê sy land se krieketspelers stamp al so lank kop met hul kultuur van skellery, gekerm, skynheiligheid en arrogansie dat hulle ʼn onhoudbare nasionale skeelhoofpyn geword het.

Die briewekolomme in Suid-Afrika se koerante was ook vol kritiek teen Australië se krieketspan en talle lesers het hulle mond uitgespoel oor die krieketbalskandaal.

“Noudat dit vir hulle warm word, kerm die afrigter, Darren Lehmann, oor die gedrag van Suid-Afrikaners. Wat het hy verwag?” Lehmann se opmerkings het die toeskouers net meer opgesweep, skryf een van die lesers. Hy sê Lehmann moet hom nie kom vertel dat die toeskouers in Australië nie presies dieselfde doen nie en hy meen hulle is nog erger.

Krieket Australië het amptelik verskoning gevra vir alle Australiërs, Krieket Suid-Afrika en Suid-Afrikaanse krieketondersteuners.

Buro: NB
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top