Bonita Avenue deur Peter Buwalda: ’n resensie

  • 0

Bonita Avenue
Peter Buwalda
Uitgewer: Protea Boekhuis
ISBN: 9781485305927

Bonita Avenue, die Nederlandse skrywer en redakteur Peter Buwalda se debuutroman, word beskryf as as ’n “kaleidoskopiese sederoman.” Ook is dit, volgens die agterblad, “’n portret van ’n era wat die gaping tussen generasies [...] aanpak”. Dus, ’n familiesage wat vir die Afrikaanse leser aangebied word deurdat Zandra Bezuidenhout, ervare en bekende vertaler, die Nederlandse teks – reeds in 2010 gepubliseer – vernuftig in Afrikaans omgeskakel het.

Bezuidenhout, wat vertroud is met die Nederlandse taal en omgewing (sy het ook daar gestudeer) moes nie net sekere woorde en begrippe wat aan Afrikaanssprekendes onbekend is, verafrikaans nie, maar dit so doen dat daar vloei in die teks is wat juis moeilik lees omdat die skrywer tussen karakters, tonele en tyd rondspring – ook tussen eerste- en derdepersoonperspektiewe. Wat my besonder gepla het, is Buwalda se manier om nie die betrokke karakters dadelik aan die leser bekend te stel nie. ’n Paragraaf, toneel of hoofstuk begin tipies só: “Voordat hy op die harde enkelbed gaan lê, soek hy in sy rekenaarsak [...].” So begin hoofstuk 18 van die 477 bladsy lange roman en eers op die volgende bladsy is daar ’n aanduiding dat “hy” wel die “briljante wiskundige, kranige judoka, rektor magnificus” is, oftewel Siem Sigerius, een van die hoofkarakters en beslis so kleurvol as wat hy hier beskryf is.

Die vermelde briljantheid van die groter-as lewensgrootte Siem word oor die eerste dosyn of wat bladsye in kleur en geur beskryf deur hoofsaaklik Aaron Bever, die weersinwekkende swakkeling wat ’n lang verhouding met Siem se pragtige stiefdogter Joni het. Hoekom iemand soos Joni hoegnaamd met iemand soos die halfmal fotograaf sou wou assosieer, is vir my net so moeilik om te aanvaar as hoekom hy aan judo sou deelneem. Niks aangaande Aaron laat ’n mens dink dat hy die kompetisiedrang en selfdissipline kan hê om die uitdagings van enige sport die hoof te bied nie. Siem, ja – hom kan ’n mens as ’n sportman sien; dit pas by beide sy innerlike en sy uiterlike. Verder wonder ’n kritiese leser sekerlik ook hoekom Siem die Manjifieke, wat so wedywerend van geaardheid is en dus hoë standaarde stel, tevrede sou wees met sy vrou, die onaansienlike Tineke. Die verhouding tussen hulle oortuig nie regtig nie, nes Siem se reaksie toe hy Joni se geheim ontdek – spilpunt van die hele verhaal, veel eerder as die veelbesproke ramp wat in Enschede plaagevind het. Sou die liberale, wêreldwyse Renaissance-man regtig so oordadig optree, en dit oor Joni, wat nie eens sy eie bloed is nie, terwyl hy sy eie seun, Wilbert (wel ook ’n afstootlike karakter), summier verwerp? Iets oor vaderlikheid en lojaliteit werk nie regtig hier nie. Bloed is tog bloed.

Van oordadig gepraat, dis iets wat dwarsdeur die boek merkbaar is: veral die metafore en vergelykings wat darem soms te dik vir ’n daalder is. Nie net is hulle soms onoortuigend as beeldpraak nie, maar hulle is pure melodrama, selfs blote mooiskrywery. Byvoorbeeld: “’n Klein dorpie rol langs ’n kanaal oop, ’n afgeroomde maan hang raaiselagtig vroeg teen die hemel.” Raaiselagtig vroeg? Hoekom raaiselagtig? En: “Vir ’n goeie drie uur staan hy daar, skud hand, ruil skerpsinnigehde uit, terwyl die lang sliert van geduld in sy blinkleerskoene weerkaats.” Lang sliert ... Wát?

Ai, dis asof die skrywer net nie die versoeking kan weerstaan om sy verbeelding te laat sneeubal nie: “Vol taxi’s waaier die spieëlende water in die lug op, in portale en onder afdakke skuil klante met arms vol inkopies, staar voor hulle uit of gesels in gekodeerde taal.” Goed, dis eers genoeg, of hoe? Maar nee, Buwalda tel spoed op: “Dis vroeg donker en die andersins stralende, vibrerende, bruisende straat met sy ontelbare winkels, inkopiesntrums, hotels en restaurante lyk nou soos ’n oordekte steeg.” Ontelbare? Darem seker nie.

Ja, daar is ook gangbare metafore: “Sy prop die wenteldroër vol beddegoed, maar eintlik is dit ek wat daarin tol. Die nuus slinger my rond, dreineer die bloed uit my are.” Ook effe oordadig, met die dreinering van bloed en als, maar tog nog verteerbaar. En aangesien Aaron nie altyd so lekker tussen werklikheid en verbeelding kan onderskei nie (nogmaals: hoekom het die pragtige, intelligente Joni so lank by hom gebly?), is die volgende dalk nog aanvaarbaar: “Die ontelbare lugborreltjies in die beton van sy sel het hom soos ’n kosmiese newel omvou.” En: “Op homself, iemand wat tot op die grond afgebreek was en wie se selfrespek soos ’n pap voetbal op die kliniek se grasperk gelê het.” Miskien ’n bietjie lomp gestel, maar dit kan nog gaan. Maar dis asof Buwalda jou net gerus sus, dan klap hy weer die oordaad soos haelgeweerskote op mossiekuikens aan.

Van stelwyse gepraat: die stem van die skrywer is dalk die belangrikste element van ’n boek vir baie lesers – die woordkeuse en vermoë om beelde te skets, maar ook die vloei en toonaarde van daardie stem is wat lesers weer en weer laat lees, wat hulle laat uitsien na nóg ’n aanbeiding van hierdie verteller. Buwalda is egter vir my soos ’n sanger wat werke van wisselende gehalte sing.

Maar dis hoofsaaklik die beeldspraak wat hinder – soos: “Hy klink asof hy aan ’n sweeftuig hang.” Hoe de joos klink dit? Sal die leser weet? Of: “Dit was asof hyself te water gelaat is, in die Noordelike Yssee.” Miskien beteken só ’n verwysing meer vir ’n Nederlandse leser, maar tog voel dit lomp en net ’n titseltjie melodramaties.

Die plot is ingewikkeld en sal die meeste lesers van ontspanningslektuur intrek, dalk fassineer, maar dit voel steeds asof die skrywer heelwat kan ontwikkel (hopelik minder naïef skryf) en dat die uitgewers nie sal huiwer om met ’n ferm hand tussen die little darlings in te vaar nie. Om eerlik te wees, ek het met moeite deur die teks geploeg en hoe dié boek vir agt pryse benoem is en wel vier ontvang het, verbyster my. Bonita Avenue het interessante dele en soms het die karakters se manewales vermaak, maar nooit het ek met een van hulle geïdentifiseer nie, en het ek vere gevoel oor wat met hulle sou gebeur.

Daar is heelwat terugflitse, en die afwisseling van vertellersperspektiewe sou beter gewerk het as die leser elke slag geweet het wie die avatar is waardeur hy of sy die verbeelde milieus ervaar, sonder om eers te wonder. Dit breek die leesvloei en irrriteer later erg. Soms is daar ook die gewaarwording dat dit “vertel” is en nie “wys” nie, wanneer dit voel asof die skrywer self aan die woord is, soos Joni wat skynbaar met haarself in gesprek is: “Die laaste keer wat ek vir Aaron gesien het was aan die einde van Desember 2000, toe hy so psigoties soos ’n lekergoedghoen was.” Hoekom sal Joni dit aan haarself sê? Sy praat met die leser, en die skrywer praat deur haar, heel ooglopend. Is dit egter so bedoel? Helaas, dis onduidelik.

Die boek kom vir my ietwat pretensieus voor, soos die omslag wat werklik niks aangaande die boek se inhoud sê nie, maar bloot ’n mooi prentjie is.

Kan ek hierdie boek in alles eerlikheid aanbeveel? Ek dink daar kan min twyfel oor my antwoord wees. Al het ek empatie met enige skrywer, met die lang eensame ure by die lessenaar en die nóg meer ure se gewag op die uitgewer se antwoord, is hierdie boek, hierdie pryswenner wat hoë verwagtinge stel, vir my geen groot werk nie, en wonder ek of ek al een is wat erg teleurgesteld is in die eindproduk. Nogtans, daar is soveel skrywers, soveel boeke, soveel briljante werke vir die leser vandag, dat dit amper krimineel is om tyd te mors op swakker pogings.

Nogtans kan min foute is die teks gevind word, soos dat ’n spinnekop nie ’n insek is nie (183), en die boek maak fisies ’n goeie indruk; maar ai, as “Skerp Junielig [...] die linoleumvloer van die voormalige klaslokaal aan repe [sny]”, lig my nekhare nogmaals. En: “Toe hy my naam hoor, skiet sy oë soos yshokkieskywe heen en weer, [...].” Eina. Dan voel “Die tentsak lê soos ’n bloedblaas op die rand van die kom in die aarde” asof daar ook ’n paar blase op my brein verskyn; en wanneer ek lees: “Terwyl hy soos ’n vark in die sneeu sit en grawe”, wil ek my kop ook in iets kouds druk om myself te lawe.

Buro: NM
  • 0
Top