Chris Chameleon verkleur steeds

  • 0

Foto: Jaco Bothma

Chris Chameleon is vandag een van Suid-Afrika se mees gevierde en gewilde musikante. Sy nuwer aanhangers sal moontlik sukkel om te glo dat hy aanvanklik glad nie as musikant bekend geword het nie, maar as akteur.

Chris, in 1971 gebore, en getoë in ’n huis waar “Abba [se musiek] as te wild beskou is”, het in die vroeë ’90’s naam gemaak met die televisiereeks Sonkring, waarin hy die rol van ’n verstandelik gestremde seun vertolk het. Nog ’n rits televisieverskynings het gevolg. Vele jong Afrikaanse kunstenaars met só ’n wegspringgeleentheid sou kies om hulself gemaklik te maak in die hoofstroom en daar te bly. Chris Chameleon was nie so as jong kunstenaar nie, en nou – op 46-jarige ouderdom – is die hoofstroom eerder ’n gereelde kuierplek as ’n tuiste.

Chris was reeds van 1990 aktief op die musiekfront (al was dit in die agtergrond), met die betreklik onbekende groep Blue Chameleon. Toe hy egter in 1997 die groep Boo! saam met Ampie Omo en Leon Retief stig, was dit duidelik: musiek is sy voorland. Vernuwende, idiosinkratiese, aandag-vereisende musiek. Boo!, met Chris as voorsanger en baskitaarspeler, het vinnig wêreldwyd kultusstatus bereik. Altyd met Chris se fopdosser-persona en indrukwekkende vokale vermoëns vooraan, het hul bekendheid só gegroei dat – so loop die legende – daar selfs Chris Chameleon action figures in Europa verkoop is. Boo! het hul musiek beskryf as Monkipunk, en ook hul samestelling was uniek: ’n Driemangroep met ’n baskitaar, tromme, en Ampie Omo op klawers en blaasinstrumente was beslis nie in ooreenstemming met die “wenresep” van rock nie: hulle tree dan op sonder ’n enkele kitaar! Verder is aanhangers by konserte aangemoedig om hulle uit te jou eerder as toe te juig. Chris verwys in optredes en onderhoude sonder skaamte na die wilde Boo!-dae, maar dring aan dat hy waardes soos beleefdheid en beskaafdheid aktief uitgeleef het, “selfs in my mees ‘seks, dwelms en rock ’n roll’-jare”.

Boo! het in 2004 ontbind en later weer, in 2010, vir optredes (met Riaan van Rensburg nou op tromme) saamgetrek. Aan die begin van dié blaaskanstydperk het Chris gegriffel aan ’n nuwe album, waarvan hy self sekerlik nie die sukses sou kon voorspel het nie. Die meerderheid luisteraars van Afrikaanse musiek sou voor 2005 waarskynlik nog gesê het “Chris Watsegoed?”, maar die album Ek herhaal jou – ’n rits verwerkings/interpretasies van die gevierde digter Ingrid Jonker se werk – het hom eensklaps in die plaaslike kollig geplaas. Dié album sou uiteindelik in Suid-Afrika platinumstatus bereik – beslis geen alledaagse prestasie nie.

Die daaropvolgende 10 jaar het waarlik die “chameleon” in Chris versinnebeeld. ’n Rits Engelse en Afrikaanse albums het gevolg – met oorspronklike liedere, met toonsettings (nog een met Ingrid Jonker-gedigte – As jy weer skryf) en een met die gedigte van Danielle Deysel – Posduif. (Danielle het uiteindelik ook sy vennoot op die verhoog en in die liefde geword). Die toekennings en benoemings wat Chris in dié tyd met sy musiek ingeryg het, is te veel om hier te noem. En dan was daar die optredes: benewens talle uitverkoopte vertonings in Suid-Afrika, het Chris jaarliks na die Lae Lande gereis om daar op te tree. In 2017 – voor die bekendstelling van sy jongste album, Jy en ek en ek en jy – is sy en Leoni Jansen se produksie, Ja gesê, in 28 teaters in Nederland uitgevoer.

Sy groot aanhang in dié gebied sou sekerlik ’n professionele emigrasie kon regverdig, maar Chris is eenvoudig te betrokke in en met Suid-Afrika. Hy het weer ’n toetrede tot die toneelfront gemaak, onder meer met ’n korttermynverskyning in die supergewilde sepie 7de Laan, wat ook tot ’n album genaamd 7de Hemel gelei het. Verder het hy ook in die SABC-reeks Sober companion verskyn, en in die vollengtefilms Suurlemoen en Fanie Fourie’s Lobola). Ook verhoogproduksies as solokunstenaar en saam met die Drakensberg-seunskoor het resensente gaande gehad.

Die plaaslike betrokkenheid hou nie by sy kuns- en toneelloopbaan op nie. Chris is al bekend daarvoor dat hy dikwels sy mond uitspoel oor aktuele kwessies – soms op sosiale media, soms in rubriekvorm. Onder meer het een van Suid-Afrika se grootste banke, Absa, selfs ’n openbare verklaring en verskoning uitgereik nadat Chameleon op Facebook gekla het oor dié bank se gebrek aan Afrikaanse kliëntediens.

Foto: Jaco Bothma

Dié semipolitieke benadering kan seker beskou word as nog een van die verkleurmannetjie se skakerings. In ’n onderhoud met LitNet het Chris genoem dat die verkleurmannetjie-element van sy loopbaan, en die rigtingveranderings wat dit inhou, egter verkeerdelik as opsetlik gesien word: “Ek word dikwels verdink van beheer oor my kunskeuses. Hoewel dit vleiend is, is dit vals, omdat dit my laat lyk na iemand wat met ’n plan werk en weet wat hy doen. Ek kies nie my projekte nie. Hulle kies my.” In ooreenstemming met hierdie filosofie wil Chris ook nooit te veel verklap oor sy volgende rigting of projek nie. Trouens: hy hou doelbewus die opkomende vergestaltings nie net vir die publiek nie, maar ook vir homself geheim. In dieselfde LitNet-onderhoud het hy gesê: “’n Goeie manier om by voorbaat ’n poephol van jouself te maak, is om jouself gesag oor die toekoms te gun.”

 

Boo! is eersdaags in Nederland vir ’n toer. Die datums is:

7 Februarie – Musicon, Den Haag
8 Februarie – Cul de Sac, Tilburg
9 Februarie – Studio Gonz, Gouda

 

Buro: MvH
  • 0
Top