Dare not linger: Jakes Gerwel se onmisbare rol in Suid-Afrika se oorgang

  • 0

Op die vooraand van wat Jakes Gerwel se 72ste verjaardag op 18 Januarie sou wees, skryf Heindrich Wyngaard dat die nuwe Mandela-(outo)biografie Dare not linger – The presidential years Gerwel se onmisbare rol in Suid-Afrika se oorgang en die uitbou van Madiba se nalatenskap beklemtoon.

Jakes Gerwel en Nelson Mandela (Fotobron: Jakes Gerwel-stigting)

Oor sowel Nelson Mandela as Jakes Gerwel word gesê dat hulle nederig was; dat geen posisie of eerbewys na hulle kop toe sou gaan nie.

Maar ook – of dalk veral – dat hulle besonderse voorbeelde is van die belangrikheid daarvan dat ’n mens jou woorde moet tél of moet wéég voordat jy jou mond oopmaak om iets te sê; en dat dit veral nie wenslik is om impulsief te handel nie – juis nie in posisies van mag of invloed nie.

Gerwel, nes Madiba, het ook, moet onderstreep word, oor die uitsonderlike gawe beskik om met opregte belangstelling na ander te kon luister– op sigself ’n skaars menslike kommoditeit. Die les is dat jy aan jou gespreksgenoot, sonder aansiens des persoon, die nodige eerbied betoon; klaar laat praat vóórdat jy reageer.

“Prof” was as Direkteur-Generaal in die Presidensie en sekretaris van die Kabinet die eerste senior aanstelling in die Mandela-administrasie. Dit was ’n aanstelling “wat gravitas na die presidensiële personeelkorps gebring het”, aldus Mandla Langa, medeskrywer van Dare not linger.

En dit was belangrik dat ’n bekwame “kader” in die Presidentskantoor aangestel word om te vergoed vir die verlies van die sestig personeellede wat FW de Klerk saam met hom na sy nuwe kantoor as een van twee adjunkpresidente geneem het. Selfs al was Gerwel deur Madiba met die hand uitgekies vir hierdie rol, het Madiba eers sy huiswerk gedoen.

Die ANC se adjunk-sekretarisgeneraal, Jesse Duarte, vertel in Dare not linger die president wou “alles weet wat daar oor Jakes te weet was” voordat hy Gerwel die pos aangebied het. Oudminister Trevor Manuel, ’n prominente UDF-leier, moes byvoorbeeld sý indrukke oor Gerwel deel, sê Duarte, terwyl Mandela ook met heel paar ander aktiviste gepraat het “oor wie hierdie Gerwel-kêrel is”.

In die oorspronklike (onvoltooide) weergawe van die nuwe Mandela-(outo)biografie, is dit duidelik presies hoe hoog die ontslape staatsman sy nou ontslape voormalige “voorman” geag het. Eers gee hy ’n oorsig oor Gerwel se vername openbare rolle in onder meer die Presidensie, Nelson Mandela-stigting, WNNR en Instituut vir Geregtigheid en Versoening; dan oor sy lidmaatskap en voorsitterskap van direksies soos dié van Brimstone, Naspers en WP Krieket; asook sy akademiese prestasies en poste, waaronder rektor van die Universiteit van Wes-Kaapland en kanselier van Rhodes-universiteit.

Hierna herinner Madiba die leser aan onder meer Gerwel se rol in die Lockerbie-deurbraak toe die Libiese leier, Muammar Gaddafi, deur Gerwel en Prins Bandar van Saoedi-Arabië oorreed is om twee verdagtes in verband met hierdie lugaanval vir verhoor aan die owerhede te oorhandig.

“Solank as wat daar mans en vroue van hierdie kaliber en visie is,” skryf Madiba oor Gerwel en Prins Bandar, “sal wêreldvrede en stabiliteit die hoeksteen van nasionale en internasionale verhoudings wees.”

Maar Gerwel se invloed was selfs meer onmisbaar in die Presidensie se oorgangsjare: hy was begeleier van sowel personeel uit die ou orde as die nuutaangesteldes. Tegelykertyd was hy die bewaker van vrede tussen ministers uit die vorige bedeling en die inkomende ANC-kabinetslede.

Terwyl Madiba hom gehaas het om bestaande personeel gerus te stel dat hy nie van hulle ontslae sal raak nie, was Gerwel “se benadering tot die vestiging van die nuwe Kantoor van die President, ’n studie in die kalm bestuur van ’n oorgang”. Dit is wat Joel Netshitenzhe, Madiba se destydse kommunikasiehoof, in Desember 2012 by Gerwel se gedenkdiens gesê het, waar hy “Prof” tot die “dekaan van staatsdiens” verklaar het.

Madiba het “Prof” gerespekteer en sy raad aanvaar. Ambassadeur Barbara Masekela, wat destyds deel van die Presidensiespan was, word as volg in Dare not linger aangehaal: “Ek dink dit verg ’n sekere mate van nederigheid en selfbelang om die beste raad te vereis en dit te aanvaar.” Maar dan ook hierdie onthulling oor die aansien wat gegradueerdes by Madiba geniet het: “Hy het geleerde mense net ’n bietjie té veel waardeer, sou ek sê.”

Dié geleerdheid van Gerwel het in 1968 begin toe hy sy BA-graad met onderskeiding aan die destydse Universiteitskollege van Wes-Kaapland (UWK) ontvang het, soos wat Die Burger op 11 Januarie 1968 berig het.

Ook goed dat Madiba dié teenperspektief vir Masekela se siening oor sy waardering vir Gerwel in die boek aandui: dat “Prof” op die gebied van menslike verhoudings ontpop het “as ’n ware leier sonder paranoïese neigings en [iemand] wat beginselvaste diskoers aanmoedig” en dat hy ’n “indrukwekkende en vreeslose onafhanklike denker” was.

Dié “eerbetoon” is selfs meer betekenisvol, skryf Langa, as in ag geneem word dat “Prof” uit ’n Swartbewussynsagtergrond (Steve Biko se “Black Consciousness” oftewel BC) gekom het – en nie ’n kaartdraende ANC-lid was nie. In sý huldeblyk het die letterkundige Hein Willemse onder meer ook onthou dat Gerwel hom as derdejaarstudent by UWK op ’n dag daarop gewys het: “BC is nie alles nie.”

Straks is dit waarom hy homself as selfverklaarde “non-racialist” kon handhaaf in ’n omgewing waar ras ’n belangrike rol in die Mandela-versoeningsprojek vertolk het, soos aangedui deur hoe gesteld Madiba daarop was dat sy eerste Kabinetslede van alle rasse ingesluit het.

Dare not linger vertel die leser nie hoe Gerwel en Mandela ras in hul werksverhouding gehanteer het nie, maar dalk het Madiba as oud bokser sy voetwerk goed gedoen nadat hy hom in die verlede teen twee ander “non-racialists” vasgeloop het: sy mede-Robbeneilander Neville Alexander en die Kaapse onderwyslegende RO Dudley.

Netshitenzhe het in 2012 ook gesê: “Heel dikwels verwys ons na Gerwel as ’n toevoegsel tot ’n ikoon. Maar jy moes kon aanskou hoe hy in sy interaksies met pres Mandela wysheid en inskiklikheid gebruik het om regeringsbeleid en -praktyk te beïnvloed.” En: “Hy was die stewige hand wat verseker het dat dinge ewewigtig verloop.”

Madiba self skryf in ’n 60ste verjaardagboodskap aan “Prof” dat talle mense die wêreld oor trots is op hom en dat hy hoop jong mense sal by Gerwel leer “dat ’n mens groot aansien kan geniet, maar terselfdertyd so nederig soos jy kan wees”. Dit was Madiba se wens dat “Prof” goeie gesondheid sal geniet en nog vele verjaardae sou kon vier, maar die noodlot het dit anders bestuur: Gerwel (66) sterf op 28 November 2012, omtrent presies ’n jaar voor Mandela (95) op 5 Desember 2013.

In Dare Not Linger word dié twee uitsonderlike Oos-Kapenaars se blywende bydrae tot die totstandkoming van ’n nuwe Suid-Afrika opnuut beklemtoon: die bokwagtertjie van Qunu wat President geword het; en die plaaswerkersklong van Kommadagga wat ’n gevierde intellektueel geword het.

Buro: MvH
  • 0
Top