Die Kaapstadkarnaval: kleur, klank en ’n klomp mense

  • 0

Die negende Kaapstadkarnaval het Saterdagaand 17 Maart 2018 in Groenpunt plaasgevind. Dit was ’n visuele skouspel; rol af vir foto’s van die vlotte en die dansers.

’n Demokratiese ruimte

Die Stad Kaapstad maak seker dat enigeen toegang het tot die optog, wat oor ’n afstand van 1 km plaasvind. As jy bereid is om te staan, is dit gratis. Daag net op en staan jou staan, waar jy ook al ’n gaatjie kry.

Die probleem is dat dit nie so maklik is as wat dit klink nie, want daar is baie mense.

Ek het as ’n lid van die publiek gegaan – geen vooraf reëlings dus vir perstoegang nie. Saam met die gewone mense het ek my staanplekke gaan soek. En gewag. Ons hét gewag.

Baie ander het ook gewag; sommige moes gou die waterlose toilette besoek.

Daar is verskeie selfies geneem.

Oral om ons het mense aangekom, kos en roomys gekoop en geluister na die musiek wat reeds van 3 nm af begin speel het.

Die stad is trots daarop dat meer as 1 000 werksgeleenthede met die karnaval geskep is. ’n Mens sou kon vra hoeveel volhoubaar is.

Die karnaval het ook buitelanders getrek. Hierdie meisie kom uit die VSA. Sy sê na dese wil sy Rio ook beleef. 

Gelykheid vs billikheid

Ek was benoud oor lig, want teen 7 nm is dit al donker. My keuse was dus ’n staanplek naby een van M-Net se TV-kameras, want hulle het spreiligte.

Aanvanklik het ek ’n goeie skoot op die pad gehad, met net ’n vriendelike veiligheidswag om my lyn op te toets.

Ander het egter by my aangesluit, en teen 7 was daar soveel mense dat ek gesukkel het om die pad te sien.

Boonop het almal selfone en almal wou, soos ek, kiekies kry.

Kort mense sou sukkel om te sien. Jongmense ook.

Ek is langer as die gemiddelde Kapenaar, maar selfs ek het nie alles gesien nie. My seun, wat slegs ’n kortkop korter is, was gou moerig. Hy is Waterfront toe om by vriende aan te sluit, en ons het mekaar ná die tyd weer daar gekry op ’n afgesproke plek.

Jong kinders kon op hulle ouers se skouers sit en talle kleingoed is deur die loop van die aand van een paar skouers na die ander aangegee.

Die geboue langs die roete was gesog.

Die vlotte was meestal hoog genoeg dat enigeen, selfs klein kinders, hulle sou kon sien. Dit was egter die dansers en die lopers wat dikwels nie duidelik sigbaar was nie.

Wat die stad daaraan gaan doen, weet ek nie. Die een opsie sou wees om meer dansers bo-op lorries te laat dans, maar dit sal weer die koste opjaag.

Terloops: Daar is orals stellasies gebou waar ’n mens R300 kon betaal om ’n goeie uitsig te hê. Daar is selfs ’n BBP-opsie vir R1 300. Ek wou egter tussen die mense staan, want dit is waarom die karnaval in die eerste plek plaasvind – vir die mense van Kaapstad.

Gemeensaamheid

Ek het die geleentheid geniet, juis weens die mense om my. My kiekies sou dalk beter gewees het van die R300-sitplekke af, maar dan sou ek die opmerkings en die debatte heeltemal gemis het.

Kort voor die amptelike afskop van die karnaval het die Stad Kaapstad se reddingsdienste ’n toetslopie gehou en die meeste manne was kaalbolyf – wat die vroue luidrugtig hul goedkeuring laat bulder het.

Anders as in Rio, waar kaal boude en vroueborste skynbaar alledaags is, was Kaapstad kuis. Daar was talle manlike tepels, maar vroue se bolywe was bedek. Ook boude is netjies weggesteek.

Die parade

Om 7-uur is ’n paar ligfakkels afgeskiet en toe gebeur daar ... niks. Ek was aan die einde van die parade en dit het 40 minute geneem vir die eerste vlot om by ons op te daag.

Dit was egter die staan werd.

Ek deel my kiekies in dieselfde volgorde as die gebeure. Vanjaar se tema was “Moederstad, Moeder Natuur”.

Ek kon egter nêrens ’n program opspoor wat vertel watter vlot deur wie gemaak is nie, dus deel ek gewoon die indrukke van ’n Kaapstadinwoner langs die pad.

Die eerste “vlot” was indrukwekkend. Hierdie bidsprinkaan was byna so groot soos my huis. Dit is met stokke gemanipuleer om die indruk te skep dat dit rustig in die pad af loop.

Disas – die skare het dadelik gesê dis WP se blom.

Hierdie beeld kon selfs haar oë knip. Let op die skaal: meet haar gerus aan die lamppaal en die gebou langs haar.

Voëls van verskillende vere.

Daardie kuikens was honger.

Die Young Presidents Organisation, ’n internasionale instansie vir jong sakeleiers. Nie alle deelnemers het probeer dans nie.

Ek het die Stad Kaapstad se pogings tot inklusiwiteit verwelkom. Hier kan fisiek gestremde deelnemers gesien word. Daar was ook mense met Downsindroom wat in hierdie groep geloop het. Volgens die amptelike verklarings het meer as 2 000 mense aan die optog deelgeneem.

Ruspes word ...

Skoenlappers!

Dansers van alle ouderdomme het deelgeneem.

Toe kom daar nog skoenlappers.

Verskeie blomme het ook geparadeer.

Hierdie vroue het tamboere geslaan en geglimlag.

Kyk hoe groot is hierdie vrou.

Sy kon haar middel skud!

Hulle kon óók hulle middels skud!

Dié klompie het sommer alles geskud.

Verskillende diere, ook ’n indrukwekkende spinnekop, was volgende.

Hierdie seekat het voortdurend van kleur verander.

Statige renosters.

Hierdie groep het die mense om my aan die gesels gekry – in Xhosa. Ek moet ruiterlik erken my Xhosa is vreeslik sleg, maar ek kon net genoeg verstaan om te weet dat die omstanders onseker was wie se kultuur nou eintlik hier uitgebeeld word, want die idee was, volgens die omstanders, om Kaapstad se kulture uit te dra.

Toe kom daar nog blomme.

Soos so dikwels is die bye kort op die blomme se hakke.

Gelukkig het die bye nie dié twee getakel nie!

Vrugte af die plaas.

Indiese danse.

Trompoppies.

Netjies in gelid.

Selfs motors het aan die staptog deelgeneem!

’n Blaasorkes.

’n Hele stad op wiele.

’n Woertswarts Sjinese draak.

’n Baie rustige Sjinese by.

Nog drake.

Nog ’n pragtige vlot met ’n Oosterse tema.

’n Paar spekbome en hulle meelopers het ook deelgeneem.

Hierdie boom was indrukwekkend.

Kfm se vlot het die optog afgesluit.

Fotografie – ’n paar tegniese puntjies

Vir iemand wat volgende jaar die geleentheid wil afneem, sou ek die R300-sitplekke aanbeveel. Ek het opsetlik vanuit die skare geskiet, maar dit is bitter moeilik.

Die lig is ontsettend laag. Ek het deurgaans met ’n 2.8-lens geskiet – vol oop. My ISO was 6400.

My idee om naby die TV-kameras se lig te staan, het by tye gewerk, ander kere nie. Soms is kritieke dele van die foto weggebrand; ander dele was weer hopeloos onderbelig. Ek moes verskeie foto’s weggooi hieroor, en julle sal sien dat ek met ander gewoon die beste uit swak foto’s moes kies.

Die meeste vlotte ry egter hulle eie lig saam. Dit het baie gehelp.

Selfone? Hulle neem deesdae goeie foto’s in lae lig en as jy jou kiekies net op Instagram en Facebook wil deel, gaan jy baie hartjies en likes kry met jou selfoonkiekies. Wees net bewus van die grein, want selfs die beste fone se sensors is baie klein.

Sal ek weer gaan?

Sal ek volgende jaar weer gaan? Ek weet nie. Dalk. Die vlotte is indrukwekkend, maar meer nog, om lyf aan lyf te staan met ander Kapenaars maak alles baie lekker.

Hierdie twee manne het die aand vir my gemaak. Name is in die gedrang geruil, maar het verlore gegaan in die lawaai. Daardie glimlagte sal lank in my hart bly. Ons het ure saam gestaan, saam gelag en saam die spektakel geniet.

Buro: MvH
  • 0
Top