Droogte word ’n nasionale ramp

  • 0

Daar wag ’n nasionale ramp op die land as die droogtetoestand in veral provinsies soos die Wes-Kaap, die Oos-Kaap en die Noord-Kaap voortduur.

Al drie hierdie provinsies wat die ergste deur die huidige droogte geraak word, is reeds tot provinsiale rampgebiede verklaar.

Die nasionale regering oorweeg dit nou om die droogte tot ’n nasionale ramp te verklaar.

Die minister van samewerkende regering en tradisionele sake, Des van Rooyen, het aan parlementslede gesê planne is reeds onderweg om die droogte tot ’n nasionale ramp te verklaar. Dit sal beteken die wetlike verantwoordelikheid om die ramp te koördineer word die nasionale regering se verantwoordelikheid en dat die ramp dus deur die nasionale regering bestuur sal word.

’n Ekonoom van die Old Mutual Beleggingsgroep, Rian Le Roux, sê die Wes-Kaapse waterkrisis benadeel nie net dié provinsie se ekonomie nie, maar die hele land s’n. Dit is veral die toerisme en landbou wat die ergste daardeur getref word.

Le Roux sê die Wes-Kaap verteenwoordig 13% van die land se bruto binnelandse produk (BBP). As die Wes-Kaapse BBP met net een persent daal, sal die nasionale BBP met 0,13% daal. Hy sê die waterkrisis is nasionaal en die hele land sal onmiddellik moet aanpas hoe hulle water verbruik en herwin.

Intussen moet Kapenaars hulle hande al hoe dieper in die sak steek vir water. Inwoners van Kaapstad betaal van 1 Februarie baie meer vir nie net water nie, maar ook vir sanitasiedienste.

Die tarief vir huishoudelike water het gestyg van R4,56 per kiloliter vir mense wat minder as 6 000 liter per maand gebruik tot R29,93 per kiloliter.

Hoe meer water ’n gesin gebruik hoe duurder word dit.

Twee van die Wes-Kaap se fietsrenne, die Tour of Good Hope en die Liberty Winelands Encounter, sal egter voortgaan, ondanks die droogte. Eersgenoemde vind van 5 tot 9 Maart in die Paarl plaas en die tweede een, wat ’n bergfietstoer is, van 13 tot 15 April, ook in die Kaapse Wynland. Die organiseerders sê die twee fietstoere het elkeen ’n maksimum van 500 ryers en dit behoort nie ’n merkbare invloed op die skaars waterhulpbronne te hê nie. Deelnemers is gevra om water spaarsaam te gebruik in die gastehuise of verblyfplekke waar hulle tuisgaan.

’n Waterspesialis, Anthony Turton, het die afgelope week op ’n mediakonferensie by die Nasionale Persklub in Pretoria gewaarsku dat Suid-Afrikaners en die regering hulle houding teenoor water sal moet verander as hulle ’n krisis wil voorkom. Volgens Turton is die waterkrisis in Kaapstad soos die Titanic wat reeds ’n ysberg getref het maar nog nie gesink het nie. Hy sê dit is onvermydelik dat die skip gaan sink. Daar moet oplossings oorweeg word, soos die herwinning van rioolwater, die ontsouting van water sowel in die binneland as aan die kus, en die grootskaalse berging van ondergrondse water om ’n ramp te voorkom.

Die uitvoerende hoof van Accéntuate, Fred Platt, het op dieselfde nuuskonferensie gesê die land se mense moet die erns van die land se waterkrisis besef. Hy sê dit is ’n nasionale krisis en mense neem dit nie ernstig genoeg op nie.

Intussen hoop Kapenaars dat ’n koue front wat besig is om die provinsie te nader, dié naweek verligting sal bring. Volgens die Suid-Afrikaanse Weerdiens is daar ’n 80%-kans op reën in die Kaapstad-metropool, Overberg-distrik en die suidwestelike dele van die Kaapse Wynland-distrik.

Van die Wes-Kaap se grootste damme, soos die Theewaterskloofdam, is in die gebied waar reën voorspel word en inwoners hou duim vas dat die damvlakke sal styg. Die gemiddelde vlak van Kaapstad se damme het Maandag op 25,17% gestaan teenoor byna 37% verlede jaar.

Buro: NB
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top