Duisende wil Zuma ondersteun

  • 0

By Copyright World Economic Forum www.weforum.org / Matthew Jordaan mattjordaanphoto@gmail.com (Jacob Zuma - World Economic Forum on Africa 2009) [CC BY-SA 2.0], via Wikimedia Commons

Duisende ondersteuners van Suid-Afrika se gewese staatspresident, Jacob Zuma, gaan hom ondersteun wanneer hy Vrydag in Pietermaritzburg se hooggeregshof verskyn op verskeie aanklagte van korrupsie, bedrog en rampokkery.

Inwoners in Durban is ook gewaarsku dat hulle groot verkeersopeenhopings kan verwag wanneer Zuma se ondersteuners die stad tot stilstand gaan dwing ter ondersteuning van Zuma.

Onder diegene wat beoog om Zuma tydens sy hofsaak te steun is die National Interfaith Council of South Africa en die Commission of Religious Affairs (CRA). Die organisasies het tydens ʼn mediakonferensie amptelik aangekondig hulle gaan Zuma moreel ondersteun tydens sy hofsaak.

Zuma wat, as president, die ongewildste was wat Suid-Afrika gehad sedert die land in 1994 ʼn demokrasie geword het, is sowat ʼn maand gelede deur sy eie party, die ANC gedwing om te bedank.

Die ANC het reeds aangekondig hulle gaan Zuma nie formeel ondersteun tydens sy hofsaak nie. Die party het lede van die ANC gevra om nie ANC kleredrag te dra of onder die party se simbole by die hof op te daag indien hulle Zuma wil ondersteun wanneer hy in die hof verskyn nie.

Nog een van sy voormalige bondgenote, die Suid-Afrikaanse Kommunisteparty, het ook aangedui dat hulle Zuma nie tydens die korrupsiehofsaak gaan steun nie.  Zuma se hofsaak hou verband met die omstrede wapentransaksies in die jare negentig. In 2005 toe Zuma in die hof verskyn het, was die SAKP een van sy grootste ondersteuners. Die party het hom sedertdien van Zuma gedistansieer weens bewerings van patronaatskap, korrupsie en staatskaping teen hom. Die SAKP se sekretaris-generaal, Blade Nzimande sê die reg moet sy loop neem.

Die omstrede oud-staatshoof geniet nog groot steun in sy tuisprovinsie KwaZulu-Natal waar die hofsaak sal plaasvind.

Zuma wat jare gelede gespog het hy sal graag sy dag in die hof wil hê om sy onskuld te bewys, ontglip die gereg reeds sowat tien jaar. Die klagtes teen hom is aanvanklik deur die Nasionale Vervolgingsgesag teruggetrek, maar onlangs weer heringestel. Dit het gevolg nadat die burgerlike samelewing, opposisiepartye en howe vanuit verskeie oorde druk op Zuma uitgeoefen het.

Uiteindelik was dit sy eie party wat onder leiding van president Cyril Ramaphosa daarin geslaag het om hom uit die kussings te lug voordat sy termyn sou verstryk. Daar word verwag Zuma se regsverteenwoordigers gaan alles in hulle vermoë doen om die saak so lank as moontlik uit te rek. Sodoende sal kans dat hy tronk toe gaan al hoe skraler word. Zuma is reeds diep in die 70 en die saak kan jare lank sloer. Dit beteken hy kan reeds ongeveer 80 jaar oud wees wanneer hy gevonnis word. Dit maak dit onwaarskynlik dat hy ooit agter tralies sal beland al is hy skuldig. Howe lê nie maklik tronkstraf op vir mense met so ’n hoë ouderdom nie.

Die Durbanse koerant Northglen News berig dat daar groot verkeersontwrigting in die stad verwag word tydens Zuma se hofverskyning. Een van die organiseerders van die protesaksie Sboniso Khomo het aan die koerant gesê hulle gaan betoog om Zuma se eer te beskerm omdat hy hard gewerk het vir die ekonomiese bevryding van Suid-Afrika. Die klagtes teen Zuma hou almal verband met korrupsie, bedrog, geldwassery en rampokkery. Die oudpresident staar altesaam 16 klagtes in die gesig maar dit hou verband met meer as 700 voorvalle van beweerde korrupsie en bedrog.

Die hofsaak teen hom wat Vrydag begin sal na verwagting miljoene rand kos. Daar is nie sekerheid of dit wéér die belastingbetalers sal wees wat daarvoor moet opdok nie en of Zuma self aanspreeklik gehou sal word vir ten minste ʼn deel van die kostes nie.

Buro: NB
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top