Eastern Food Bazaar

  • 0

Eastern Food Bazaar

Langmarkstraat 96, Kaapstad
+2721 461 2458
info@easternfoodbazaar.co.za
Handelsure: Maandag tot Donderdag 11:00–22:00; Vrydag en Saterdag 11:00–22:30

Eastern Food Bazaar, Langmarkstraat 96, Kaapstad

Eastern Food Bazaar se ingang

Kies uit ’n verskeidenheid internasionale geregte wat jou mond sal laat water!

By Eastern Food Bazaar is daar ’n rits bedrywige stalletjies, onder meer Indiese, Chinese en selfs Turkse stalletjies, wat elk ’n wye verskeidenheid geregte bedien. Daar is altesaam tien kombuise waar jy kan kyk hoe die kantienstyldisse voorberei word terwyl jy daarvoor wag. Hier kan jy jouself help en is daar genoeg tyd om jou keuse te maak voordat jy onderdak gaan sit en die smaaklike kantienstylkos geniet.

Wanneer jy Eastern Food Bazaar besoek, is dit die beste om saam met ’n geregistreerde gids of georganiseerde groep te gaan eerder as om alleen soontoe te stap. As jy alleen gaan, is gereëlde vervoer soontoe en terug noodsaaklik.

Al die disse is halaal en daar is ook vegetariese opsies. Beproef gerus die disse van die 10 kombuise – Bombay Bites, Chats, China Town, Istanbul, Madras, Nizami, Delhi Pizza, Punjabi, Snacks en Tandoori. Rook is verbode. Die plek is gesellig en vriendelik. Almal weet van Bombay Bites; dit is gerieflik en maklik om te eet wanneer jy oor ’n maaltyd sit en gesels – Indiese tapas op sy beste. Geen alkohol word bedien nie, maar smaaklike faloodas en lassis word vars voorberei en komplementeer die disse. Die pryse is oor die algemeen baie billik en vir R50 per persoon kan jy ’n lekker maaltyd kry.

By Eastern Food Bazaar kan jy sien hoe die kos voorberei word.

Heerlike tandoori wat warm uit die tandoor kom, pikant en lekker!

Kyk byvoorbeeld na die hoender tikka masala, wat bedien word met rys, dhal en slaai, en knoffelnaan wat in ’n klei-oond gebak word. Naan is altyd ’n veilige en smaaklike opsie en het ’n lang geskiedenis. Die woord is Persies en beteken “brood”. Vandag assosieer ons dit met die Indiese plaatbrood wat in ’n tandoori-oond gebak word – destyds ’n silindriese klei-apparaat, maar vandag van metaal gemaak. Dieselfde metode is wel van toepassing: ’n platgedrukte deegballetjie word teen die binnekant van die oond gegooi en gaargemaak tot dit ’n dun, bros kors vorm.

Dit is ’n goeie idee om die plek gedurende die dag te besoek, alhoewel dit ook lekker is om in die somer vroegaand te gaan. Gedurende die dag kan jy egter gaan terwyl jy die besienswaardighede besoek. In die omliggende gebied is daar baie belangrike besienswaardighede wat ’n integrale deel van die Moederstad uitmaak.

Heerlike samosas (links) en brijani (regs) by die Eastern Food Bazaar

Madras-kerrie van Dosa House, Suid-Indiese kos, op ’n dosa bedien, of ander smullekker disse om van te kies

Aangesien Old Town House op Groentemarkplein die middelpunt van Kaapstad se historiese sentrum is, sluit Kortmarkstraat en Langmarkstraat die nuwe deel van die mark af. Die benaming "mark" verwys na die feit dat Kaapstad tradisioneel die plek was waar varsprodukte aan plaaslike mense en buitelanders verkoop is – van die verbygaande skepe tot Kaapstad se inwoners self. Dit is steeds deel van die kommersiële karakter en lewe van die stad en brei steeds uit. Behalwe hiervoor is dit kenmerkend aan Langmarkstraat dat dit een van die min strate is wat oor die hele stad se breedte strek – al die pad van die historiese Bo-Kaap tot by die ewe historiese (ongelukkig nou vernietigde) Distrik Ses. Geleidelik sal hierdie straat sy historiese belang terugneem soos wat Distrik Ses herontwikkel word, inwoners daarheen terugkeer en voormalige verbindings met die sentrale sakegebied herstel word. Alhoewel baie van Kaapstad se ou geboue tydens die apartheidsera deur stadsbeplanners afgebreek is, staan ander steeds in dele van Adderleystraat en veral Langmarkstraat. Dit maak van Langmarkstraat ’n argitektoniese skat wat spog met geboue in die art deco-styl sowel as geboue uit vorige eras. Soms sien jy nie hierdie geboue in die verbygaan raak nie, maar besoekers moet hul oë opwaarts rig om die estetiese skoonheid van hierdie geboue te waardeer.

In Langmarkstraat is Kaapstad se eertydse argitektuur en verskillende boustyle steeds te sien.

Feitlik net om die hoek van Eastern Food Bazaar af spog die stadsaal met sy klassieke motiewe in ’n komposietstyl. Hierdie gebou is die tuiste van die Kaapstadse Filharmoniese Orkes en konsertgangers stroom daarheen vir hul konsertreekse. Die stadsaal se geskiedenis van wêreldbekende dirigente en kunstenaars het dit die stad se skat van skatte gemaak. Dit is ook die plek van waar die Suid-Afrikaanse ikoon Nelson Mandela sy eerste toespraak gelewer het na sy vrylating op 11 Februarie 1990 (nadat hy 27 jaar tronkstraf as politieke gevangene uitgedien het). Bespreek vir konserte wanneer jy jou verblyf in die Moederstad reël om teleurstelling te voorkom. Besoek http://www.cpo.org.za vir die konsertprogram.

Die balkon van die stadsaal waar Mandela na sy vrylating verskyn het, is op die foto sigbaar.

Die skare het op 11 Februarie 1990 op die Parade saamgedrom om na Mandela se baanbrekerstoespraak, waarin ware vryheid vir alle Suid-Afrikaners geïnisieer is, te luister.

Dit was van die balkon van die stadsaal af waar Mandela vir die gehoor gewaai het. Dit is in Darlingstraat geleë, net om die draai van Eastern Food Bazaar in Langmarkstraat. Die telefoonnommer (tydens kantoorure) is +27 (021) 444 7518; GPS-koördinate 33.925368, 18.423752; e-pos Cynthia.kensley@capetown.gov.za; www.capetown.gov.za/Family%20and%20home/see-all-city-facilities/our-recreational-facilities/Signature%20venues/Cape%20Town%20City%20Hall.

Vanuit die Parade se rigting kan jy die stadsaal se indrukwekkende fasade beskou. Die gebou is in 1905 voltooi en is een van die min sandsteengeboue uit Kaapstad se Victoriaanse era wat steeds staan. Baie stadsverkenners sluit vandag nog hierdie ikoniese gebou by hul reisplanne in en dit kan ’n lekker blaaskans bied wanneer jy die stad te voet verken; jy kan ingaan en in die leë ouditorium se koelte gaan rus. Vandag word die gebou vir sosiale aangeleenthede gebruik en dit is ook die tuiste van Kaapstad se Sentrale Biblioteek.

Die standbeeld van koning Edward VII op die Parade kyk uit oor die stadsaal.

Van die stadsaal af kan jy in die rigting van Adderleystraat beweeg en die Kerkplein besoek. Die imposante standbeeld van Onze Jan Hofmeyr is in 1920 opgerig ter herdenking van sy rol in die erkenning van Nederlands as ’n taal met gelyke status as Engels in die Kaap. Die Kerkplein is ’n terrein van groot belang en 11 granietblokke dien as gedenkteken van die plek waar slawehandel plaasgevind het. Daar het destyds ’n boom gestaan wat die slawe teen die son beskut het terwyl hulle moes wag tot hul eienaars uit die kerk uit kom. Die vroeë Nederlandse handelaars het slawe besit en gedurende hierdie tyd is die slawe se kinders in slawerny gebore. Meer as 60 000 vroue, kinders en mans is gedurende die tydperk van 1652 tot 1807 na die Kaap gebring en slawerny het voortgeduur totdat dit in 1834 formeel afgeskaf is. As jy vir ’n rukkie op die plein bly, is daar stoele waarop jy kan sit en oor die gebeure kan nadink. Daar is slawe se name op die twee opgehewe blokke ingegraveer, en die oorblywende nege blokke staan digby mekaar. Die rangskikking en oppervlakke van die blokke roep die slawe se stiltes op; die swaarmoedigheid van hul smart is in die blokke graniet; die motiewe roep herinneringe op vir dié wat daar loop en die gedenkteken sien. Die poging om Kaapstad se tragiese en onmenslike verlede en spesifiek die lewens van slawe en slawerny aan die lig te bring, is deel van die Wes-Kaapse regering se openbarebewussynsprogram. Kontak hulle vir ’n besoek of vir meer inligting: https://www.westerncape.gov.za/facility/social-history-collections.

’n Granietblok op Kerkplein met die name van slawe daarop ingegraveer

Die standbeeld van Jan Hofmeyr (Onze Jan) op Kerkplein

Die verband tussen Kerkplein en die Nederduitse Gereformeerde (NG) Kerk net langsaan is nie moeilik om raak te sien nie. Die NG Kerk was stewig veranker in die tyd van die Nederlandse setlaars in die Kaap in die 17de eeu, en was so gebonde aan die ideologie van apartheid dat hulle in 1982 uit die Wêreldgemeenskap van Gereformeerde Kerke geskors is. Die kerk het eers in die tagtigerjare berou getoon deur vir lede van alle rassegroepe te preek om as een liggaam te bid. Dit sal ’n hoogtepunt vir enige besoeker wees om in die Groote Kerk (met sy ingang in Kerkplein) na die orrelspel op die barok-orrel te gaan luister. Vir meer inligting, besoek http://grootekerk.org.za. Die orrel, wat in 1954 geïnstalleer is, het 5 917 pype en is bekend as die grootste orrel in Suid-Afrika. Die klank wat dit vandag nog voortbring is ’n aanduiding van die hoë gehalte van die tin-en-lood-allooi.

Die fasade van die Groote Kerk in Adderleystraat

Van Adderleystraat af is die fasade van die Groote Kerk indrukwekkend. Die eerste kerkgebou is in 1678 op die terrein gebou en is in 1841 met die huidige gebou vervang, maar die oorspronklike toring is behou. Die pièce de résistance is egter die manjifieke preekstoel wat uit stinkhout gekerf is. Dit was die werk van die bekende Suid-Afrikaanse beeldhouer Anton Anreith en die timmerman Jacob Graaff. Die eerste preek is op 29 November 1789 van die preekstoel af gelewer.

Ou geboue in art deco en ander style in Adderleystraat. Die straat is in 1850 na Charles Bowyer Adderley vernoem. Adderley het die Britse regering se planne om Kaapstad ’n strafkolonie te maak, gedwarsboom. Dit is Kaapstad se hoofstraat.

Terwyl besoekers hul ervaring by Eastern Food Bazaar en die Moederstad se besienswaardighede geniet, kan hulle ook die geleentheid gebruik om Kaapstad se komplekse verlede wat onlosmaaklik aan die verskillende kulture verbind is en wat neerslag vind in gedenktekens wat deel van die maatskaplike en politieke landskappe vorm, te oordink.

Volg hierdie skakels vir meer inligting oor:

Buro: MvH
  • 0
Top