Ervaar Kaap-Maleise kookkuns in die Bo-Kaap

  • 0

Die rye en rye kleurvolle huise is kenmerkend aan die Bo-Kaap.

Die Bo-Kaap is ’n buurt in Kaapstad waar die stad se Kaap-Maleise kultuur duidelik sigbaar is. Dit word deur die Moederstad omarm en is een van die buurte wat die meeste gefotografeer word. ’n Mens kan eintlik sê dat dit, beide histories en kultureel, die hartjie van die stad is. Baie van die bevryde slawe en Kaapse Moslems het hier kom woon na die afskaffing van slawerny tydens die eerste helfte van die 19de eeu. Hul nageslagte woon vandag nog hier. (www.bokaap.co.za/history)

Die Kaap-Maleise inwoners van die gemeenskap neem elke jaar deel aan een van die mees geliefde tradisies in die stad, naamlik die parade van die Kaap-Maleise kore. Die kore staan bekend as die Kaapse Klopse en neem deel aan dié kleurvolle parade wat op die tweede dag van die jaar (Tweede Nuwejaar) plaasvind. Die parade begin in die Bo-Kaap en eindig by die Parade (Grand Parade) in die stad. Bykans 100 000 toeskouers woon die parade by. (www.capetownmagazine.com/tweede-nuwe-jaar)

Die woord Kaap-Maleis verwys na die kultuur van eet, kos en kookkuns wat eie aan die stad is, en is diep gewortel in tradisie. Vir toeriste wat hierdie unieke kookkuns eerstehands wil ervaar, is daar nie ’n groot verskeidenheid om uit te kies nie. ’n Baken van Kaap-Maleise kookkuns is Biesmiellah, ’n restaurant in die Bo-Kaap wat teen die hange van Leeukop geleë is. ’n Bietjie hoër teen die hang is daar ’n skouspelagtige uitsig oor Kaapstad, veral in die aand. (www.capetownmagazine.com/lions-head)

Die uitsig oor die stad en hawe van bokant Biesmiellah

Hierdie pragtige uitsig oor Tafelbaai het aanleiding gegee tot die bekende tradisionele Afrikaanse lied "Daar kom die Alibama". Daar is verskeie stories oor die ontstaan van hierdie vryheidslied. Een teorie is dat die woorde geïnspireer is deur die koms van die Alabama, een van die Gekonfedereerde State van Amerika se seilskepe wat in 1863 in Tafelbaai aangekom het. Die skip was bekend daarvoor dat die gevangenes wat aan boord was, in neutrale waters vrygelaat is in plaas daarvan dat hul gevangenskap onbepaald voortgesit is. (www.bimba.co.za/sa-cultural-song/die-alibama)

Hierdie woorde het ’n spesiale betekenis vir diegene wie se voorsate slawe was.

Die oorsprong van Kaap-Maleise kookkuns is omstrede en daar is heelwat literatuur daaroor beskikbaar. Dit is egter onbetwisbaar dat hierdie kenmerkende cuisine en benadering tot kookkuns ’n onlosmaaklike deel van die identiteit van die Kaap-Maleise gemeenskap is. Vandag is Kaap-Maleise disse in aanvraag onder lede van die plaaslike sowel as die toerismemark, maar daar is nie baie tradisionele restaurante wat hierdie disse bedien nie. In die kookboek Cass Abrahams cooks Cape Malay is daar wel 300 disse uit plaaslike kombuise opgeneem en die geure van die unieke Kaap-Maleise kookkuns word daarin beskryf. (www.metzpress.co.za/books/book-details/cass-abrahams-cooks-cape-malay)

Die buitekant van Biesmiellah op die hoek van Walestraat en Pentzstraat in die Bo-Kaap (die Maleise kwartier)

Binne-in die restaurant

Maak jou besoek aan Biesmiellah – verkieslik vir aandete – ’n spesiale uitstappie. Bespreek deur jou hotel, B&B of telefonies en maak gebruik van ’n taxi of ander gereëlde vervoer. Jy kan jou regmaak om vir minstens 90 minute te bly. (www.biesmiellah.co.za)

Skop jou restaurantervaring af met ’n Falooda. Hierdie kenmerkende koue drankie bestaan uit roosstroop, vermicelli (koring, araroet, mielieblom of sago), basiliekruidsaad en jellie met melk, en word afgerond met ’n skeppie roomys. Jy mag dalk dink dit is heeltemal verkeerd om, maar hierdie aperitief laat jou mond water vir die volgende gang. Bestel daarna ’n bord met voorgeregte – samoesas, chili bites en Wada. Die gewildste is Wada met aartappelmoes, garam masala, gemmer en borrie.

Falooda

Wada

Daar is ’n groot verskeidenheid hoofgeregte. Die kenmerkende Kaap-Maleise disse is onder andere Denning Vleis (’n Kaap-Maleise lamsmoor wat op geelrys opgedien word); pienang (blokkies beesvleis in ’n soetsuur kerriesous wat saam met gebraaide aartappel opgedien word); en bobotie (soetsuur maer maalvleis met ’n eier-en-melk-glaseersel bedien op geelrys wat met saffraan gekleur is).

’n Tydlose gunsteling is die tamatiebredie – blokkies lamsvleis wat in ’n soetsuur tamatiesmoor gaargemaak word. Dit word saam met gegeurde rys en soms ’n halwe aartappel opgedien. Die dis word met kaneel, kardemom, gemmer en naeltjies gegeur. Die woord bredie is van Maleise afkoms. Van al die disse is die tamatiebredie een van die mees tradisionele disse. Jy kan langsaam daaraan smul eerder as om dit in ’n paar minute op te eet. Die Kaap-Maleise gewoonte is om gesellig aan tafel te sit en gesels terwyl jy rustig eet. Die beste manier om die ete af te sluit, is met ’n soet "doughnut" wat ’n koeksister genoem word, en ’n koppie jasmyntee.

Tamatiebredie

Die Kaap-Maleise eetervaring regverdig natuurlik ook ’n besoek aan die plaaslike museum. Probeer om daarheen te gaan voordat jy gaan eet. Die Bo-Kaap Museum is naby die restaurant in die historiese buurt met die kleurvolle huise en keisteenstrate geleë, maar reël vervoer daarheen net om veilig te wees. Die museum is in 1978 gestig en beeld die lewenstyl van Moslemgesinne in die 19de eeu uit.

Die museum se besoektye is 10:00 tot 17:00 van Maandag tot Saterdag en is toe op Sondae, 1 Mei, 25 Desember, Eid-ul-Fitr (die einde van Ramadaan, die heilige vastydperk), Eid-UL-Adha (die offertydperk) en 2 Januarie (Tweede Nuwejaar). Die museum se telefoonnommer is +27 21 481 3938. Daar is ’n minimale toegangsfooi. (www.iziko.org.za/museums/bo-kaap-museum)

Lees ’n artikel oor die Kaap-Maleise geskiedenis by www.sahistory.org.za/article/cape-malay. Die artikel bied ’n oorsig van die slawetydperk onder die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie (die VOC), die moderne era en vandag. Van die Moslems wat destyds in die Kaap kom bly het, was prominente figure wat die Nederlandse besetting van Oos-Indië teengestaan het. Die artikel verduidelik ook die historiese Heilige Sirkel van kramatte, en verwys na belangrike besienswaardighede in Kaapstad en die omliggende gebiede. (http://www.capetourism.co.za/things-to-see-and-do-around-cape-town/monuments-kramats-cape-cultural-history/kramats-cape-mazaars-monuments.html)

’n Belangrike deel van die Kaap-Maleise kultuur is die taalgebruik en die taaleienskappe se invloed op die ontwikkeling van Afrikaans. (http://www.safariafrica.co.za/tourist-information/afrikaans.htm) Vir diegene wat in taal- en letterkunde belangstel, is dit interessante leesstof; so ook die gedigte van ID du Plessis.

Sonder die verrykende Kaap-Maleise ervaring sal daar ’n leemte in jou besoek wees, want as ’n kulturele ervaring belig dit baie dele van die diepgewortelde geskiedenis van Kaapstad.

Die kelners by Biesmiellah (met hul toestemming): Nosiphiwo Diamond, Phatunia Pier en Divan Prins

Biesmiellah
Tel: +27 21 423 0850
E-pos-adres: biesmiellahrestaurant@gmail.com

 

Buro: MvH
  • 0
Top