Juliana. Een vorstin in een mannenwereld deur Jolande Withuis: ’n lesersindruk

  • 0

Juliana. Een vorstin in een mannenwereld
Jolande Withuis
Uitgewer: De bezige bij
ISBN: 9789023449485

’n Boeiende en uitgebreide biografie oor wyle koningin Juliana van Nederland, getiteld Juliana. Een vorstin in een mannenwereld, het gedurende 2017 verskyn. Jolande Withuis, ’n sosioloog, historikus en bekroonde skrywer, het ongeveer ses jaar aan die navorsing en skryf van die boek gewy. Die biografie ontlok ’n geweldig goeie reaksie van die Nederlandse media. NRC Handelsblad se resensent verwys daarna as “een uitstekende biografie”. Ad Liempt, ’n joernalis verbonde aan die gewilde TV-program De Wereld Draait Door, beskryf die boek as verslawend.

Die skrywer slaag daarin om die leser mee te sleur na die inner sanctum van Juliana die mens. Die leser word ingelig oor Juliana se onderskatte deugde as politikus, diplomaat, feminis, asook charismatiese openbare spreker, geborduur oor die boeg van ’n veelbewoë eeu. Die ongewone invalshoeke is insiggewend, veral in die lig van die feit dat koningin Juliana selfs vandag nog te dikwels slegs met die holruggeryde Greet Hofmans-skandaal geassosieer word. Die Greet Hofmans-debakel het ontstaan kort ná die geboorte van die jongste Oranje-prinses genaamd Marijke (later bekend as Christina). Prinses Marijke is gebore met ’n ernstige oogprobleem. Beide prinses Juliana en prins Bernard het hulle tot die geloofsgeneser Greet Hofmans gewend vir hulp. Hofmans slaag nie daarin om Christina te genees nie, maar het wel ’n noue verband met koningin Juliana gesmee en as haar geestelike adviseur opgetree. As medium het Hofmans sogenaamde direkte goddelike boodskappe aan Juliana deurgegee. Die rol van hierdie vroulike Rasputin het mettertyd egter ’n doring in die vlees van beide prins Bernard en die Nederlandse kabinet geword. Hofmans is die paleis verbied en Juliana is gedwing om alle bande met die geloofsgeneser te verbreek.

Withuis besweer in haar boek die mite dat Juliana tydens die Tweede Wêreldoorlog veilig en sorgeloos in Kanada as voorstedelike moedertjie geskuil het. Haar vernuftige insette ten behoewe van die Geallieerdes, en haar knap aanwending van haar vriendskap met die Amerikaanse premierspaar, Franklin en Eleanor Roosevelt, dwing respek af. Tydens haar propasifistiese fase het Juliana alles in haar vermoë gedoen om die VSA oor te haal tot deelname aan die oorlog. Gedurende hierdie periode het Juliana ’n sterk identiteit en karakter openbaar en in ’n vaardige diplomaat ontpop. Sy het heelwat talente ontgin wat haar later tydens haar bewind goed te staan sou kom in haar strewe na ’n moderne, demokratiese monargie.

Na afloop van die Tweede Wêreldoorlog was Juliana in alle erns betrokke by die heropbou van Nederland. Sy het ook ’n belangrike rol gespeel in die Nederlandse oorgang na ’n moderne welsynstaat en Nederland daardeur op die voorgrond van sosiale hervorming in Europa geplaas. Ná haar vader, prins Hendrik, se dood, het sy hom onder andere as president van die Nederlandse Rooi Kruis opgevolg.

Juliana het rotsvas gestaan agter die uitbou van vroueregte, met spesifieke verwysing na die openbare sektor in Nederland. Tydens haar bewind is daar vir die eerste keer ’n vrou, Marga Klompé, as kabinetsminister aangestel. Deur Juliana se toedoen is die grondwet in 1983 aangepas met betrekking tot die opvolgingsreg. Te danke hieraan sal haar agterkleindogter, prinses Amalia, haar vader, die huidige koning Willem Alexander, opvolg, selfs al word daar dalk nog ’n manlike nasaat gebore.

Juliana was onwrikbaar teen die doodstraf gekant gewees. Volgens oorlewering het die Koningin lasbriewe vir die finale goedkeuring van die doodstraf gewoonlik argeloos in ’n lêer geliasseer. Weens koninklike etiket en dekorum is die saak dan net so onaangeraak gelaat. Tydens die oplegging van die doodstraf aan ’n Nazi-oorlogsmisdadiger in 1949 het Juliana voet by stuk gehou en die vonnis teëgestaan. Sy het selfs gedreig om te abdikeer ter wille van haar dogter, prinses Beatrix. Die parlement en ander saakgelastigdes het die vonnis gevolglik soos ’n warm patat laat vaar. Met verloop van tyd sou die parlement die doodstraf in 1983 uiteindelik finaal tot niet maak.

Juliana. Vorstin in een mannenwereld is nie met groot entoesiasme deur die Huis van Oranje ontvang nie. Dit is veral prinses Irene wat geen geheim daarvan gemaak het dat sy diep gekwets is deur die inhoud van die boek nie. Sy is naamlik van mening dat die boek inbreuk maak op die koninklikes se reg op privaatheid. Voorts maak sy die bewering dat Withuis as historikus te veel staat maak op haar eie interpretasie van gebeure.

Withuis is die voorreg ontsê van toegang tot die koninklike argief, asook gesprekke met lede van die koninklike familie tydens die voorbereidingsfase van die boek. Sy het wel toegang tot privaat korrespondensie (wat onder andere korrespondensie van Juliana se jare lange vriendinne insluit) verkry, asook heelwat ander ongepubliseerde materiaal. Withuis het verder uitgebreide onderhoude met relevante individue gevoer, onder andere die dogter van die destydse hofcouturier, Pretorius, en die vrouepredikant Welmet Hudig, wat Juliana se begrafnisdiens in 2004 waargeneem het.

Juliana was uiters geliefd onder haar onderdane – waarskynlik juis omdat sy so ’n versugting na “normaliteit” gehad het. Weens haar hooggebore herkoms was haar lewensverloop egter allesbehalwe normaal. Haar bemoeienis en empatie met haar volk se wel en wee, in sowel goeie as slegte tye, het ’n geweldige indruk op Nederlanders gemaak. Juliana was ook bekend vir haar uitgesproke wrewel teen die benepenheid van die Nederlandse monargie en pompeuse adellikes.

Volgens ’n anekdote het koningin Juliana haar kabinetshoof tydens een van die weeklikse oudiënsies by Paleis Soestdijk versoek om haar in plaas van die gebruiklike “Haar Majesteit” tog eerder as “Mevrouw” aan te spreek. Uit respek vir die koningin en protokol het die kabinetshoof homself uiteindelik sover gebring om die koningin as “Mevrouw Majesteit” aan te spreek.

Benewens Juliana se eensaamheid en isolasie as jong kind was dit veral die periode vandat sy en die jong prinsesse uit ballingskap in Kanada teruggekeer het, tot die einde van haar lewe wat groot uitdagings gebied het. Die tydperk as inwonende student aan die Universiteit Leiden (ook ’n eerste vir ’n koninklike van die Oranje-dinastie), asook die periode van ballingskap in Kanada word tog deur Withuis uitgelig as moontlik van die gelukkigste tye in Juliana se lewe.

Juliana se bewind van 32 jaar het afgespeel teen ’n agtergrond van wêreldwye, radikale maatskaplike wendings. Die Tweede Wêreldoorlog en die ingrypende nagevolge daarvan kan natuurlik nie geringgeskat word nie. Die inhoud van die biografie bevestig Juliana se unieke karakter en talente wat haar deeglik sou toerus vir die uitdagings en vraagstukke van dié tydperk. In vergelyking met haar internasionale koninklike tydgenote was Juliana haar koninklike portuurs ver vooruit en op die koop toe in voeling met die Zeitgeist van haar tyd.

Gedurende ’n televisie-onderhoud in 1987, ter viering van die goue huweliksherdenking van die koninklike egpaar, het Juliana die volgende stelling gemaak: “Ik ben altijd vooruitstrevend geweest. Ik heb altijd het land gehad aan alles wat conservatief was. Ik doe mijn leven lang mijn best om niet ouderwets te worden.”

Withuis beskryf prins Bernard, die koningin se eggenoot, as haar Achilleshiel. Bernard se deurlopende ontrouheid, gekonkel, ondermyning van haar gesag, klakkelose opportunisme en bedrog het vele ellende aan die koningin besorg. Met die Greet Hofmans-skandaal het Bernard verder behendig daarin geslaag om vir geruime tyd ’n wig in te dryf tussen koningin Juliana en haar oudste dogters, prinsesse Beatrix en Irene.

Mens kry die idee dat Bernard ook dikwels die etterpot roer in alliansie met, of eerder ter wille van, sy moeder, prinses Armgard zur Lippe-Biesterfeld. Withuis maak die stelling dat alhoewel Bernhard volgens alle aanduidings nie vir liefde met Juliana getrou het nie, hy sy moeder wel innig liefgehad het. Dit is ’n liefde wat miskien tog ietwat herinner aan die dinamika van ’n Oedipus-kompleks. Ten spyte van Bernard se kilheid teenoor Juliana, het sy lief gebly vir hom. ’n Paar keer het sy hom egter wel met egskeiding gedreig.

Die eerste krake in die sprokie was reeds tydens die egpaar se lang, uitgebreide Europese wittebroodsreis waarneembaar. ’n Nederlandse burger, wat toevallig ook in die Hôtel de Paris in Monte Carlo tuisgegaan het, maak die volgende stelling: “Aan de Grande Table kwam Juliana naar hem toe, maar hij is alleronhebbelijkst tegen haar voor de ogen van het publiek. Zij is vreselijk lief tegen hem en komt iedere keer weer, later aan een roulettetafel, en staat zijn rok af te borstelen. Maar hij neemt geen notitie van haar en praat alleen met andere vrouwen (....) Hij mag een prins zijn, een heer is hij niet.”

Juliana het tydens die wittebrood in ’n elegante swaan verander. Sy het ook gewig verloor – waarskynlik die invloed van Bernard. Besoeke is gebring aan bekende Paryse ontwerpers en die pers het berig oor Juliana se moderne kapsel, asook haar sjiek uitrustings en bykomstighede. Sy het dikwels die prentjie afgerond met ’n sigaretjie in die linkerhand.

Bernard het ongetwyfeld die grootste verraad jeens Juliana gepleeg toe die nou berugte voorbladartikel in die gesaghebbende Duitse nuustydskrif Der Spiegel (13 Junie 1965) verskyn het. Die tydskrif het die hele Greet Hofmans-skandaal onthul. Die artikel, met die titel “Zwischen Königin und Rasputin”, het Juliana se geestesgesondheid en bevoegdheid as vorstin bevraagteken. Ironies genoeg was die publikasie ’n geval van mosterd na die maal, aangesien die regering, in samewerking met prins Bernard, teen daardie tyd reeds daarin geslaag het om Greet Hofmans uit die koninklike paleis te verwyder. Jare later het prins Bernard beken dat hy self die informant van Der Spiegel was.

Juliana het reeds as jong meisie belangstelling in die mistieke en esoteriese getoon. Sy het in haar lewe verskeie simposiums in hierdie verband gefasiliteer en bygewoon – iets wat haar heelwat kritiek op die hals gehaal het.

Soos voorheen vermeld, was Juliana ’n charismatiese openbare spreker en op die koop toe ’n woordpaljas, geseënd met ’n fyn aanslag en spitsvondigheid. Sy het toehoorders selde onaangeraak gelaat. Sy het ook die meeste van haar toesprake self geskryf. Tot kabinetslede, adviseurs en prins Bernard se frustrasie het sy nie dikwels kompromieë met die inhoudelike aangegaan nie.

Die finale gedeelte van haar destydse inhuldigingsrede het ’n blywende indruk gelaat:

“Sedert eergisteren ben ik geroepen tot een taak die zo zwaar was dat niemand die zich daarin ook maar een ogenblik heeft ingedacht, haar zou begeren, maar ook zo mooi dat ik alleen maar zeggen kan; wie ben ik dat ik dat doen mag?”

Juliana se verwysing na die koningskap as “een mooie maar een zware taak” sou haar lewenslange mantra word.

Sy was na alle berigte ’n redelik eksentrieke vrou. Withuis maak byvoorbeeld melding van haar maniërismes, byvoorbeeld wanneer sy haar oë hemelwaarts gedraai het ten uiting van ’n oorwoë stelling. Haar gewoonte om norme te bevraagteken en onreg kaalvuis te takel, het seker ook genoegsame redes gebied om haar kritici tot raserny te dryf. Sy het die parogiale benepenheid van haar amptenare met ’n vlymskerp intellek en ’n goeie skoot koppigheid aangedurf.

Tydens die laaste geleentheid waar Juliana in die openbaar verskyn het, het sy vir oulaas die wenkbroue laat lig tydens die huweliksbevestiging van haar kleinseun, prins Maurits, toe sy as gereformeerde Protestant met devote gemak die Katolieke nagmaal meegemaak het.

Dit is verdrietig om vanuit die biografie te leer dat Juliana se laaste jare taamlik droefgeestig en eensaam was en dat prins Bernard nie tot die verligting van haar lydingsbeker bygedra het nie. Juliana is op 21 Maart 2004 op die rype ouderdom van 94 oorlede.

Jolande Withuis verleen gravitas en konteks aan ’n inderdaad buitengewone vorstin in ’n manswêreld. Juliana was ’n pionier en passievolle humanis wat die rol van die Europese konstitusionele monarg aansienlik verander het. Sy kan beskou word as ’n monarg wat, ondanks die “mooie en zware taak” van die koningskap, nie weggeskram het van die menslike reg om haarself te wees nie.

Leve Mevrouw Majesteit, Brava Jolande.

Hierdie lywige boek van oor die 700 bladsye is tans slegs in Nederlands beskikbaar, maar is gemaklik leesbaar vir Afrikaanse moedertaalsprekers. Juliana. Een vorstin in een mannenwereld is verkrygbaar van die uitgewers De Bezige Bij, http://www.debezigebij.nl/boeken/juliana. Prys R588.

 

Buro: NM
  • 0
Top