Klimaatsverandering kom huis toe

  • 0

12 April 2018 is in suidelike Suid-Afrika as Dag Zero aangekondig. Van daardie dag af sal daar nie ’n druppel water in die krane oor wees nie.

Armageddon. Die grootste natuurramp in die opgetekende Suid-Afrikaanse geskiedenis. Die toekoms is ’n postapokaliptiese landskap.

Suid-Afrikaners is geneig tot sensasie. Die nasie ry (nogal gretig) op ’n wipwa van politieke rampe, grootskaalse staatskorrupsie, persoonlikhede soos ’n veelwywer, halfgeletterde president, onbegrip vir ou stamtradisies, rassebeheptheid, en les bes ’n onlangse bedreiging van totale elektriese ineenstorting.

Maar nou, water. Van alle dinge, water? Suid-Afrika ken droogtes, maar nog nooit was daar enigsins in hierdie bedrywige landbouland ’n voorspooksel van waterskaarste nie.

Dit terwyl die land reeds in ’n hewige politieke omwenteling verkeer. Die dramatiese veranderinge in die regerende party dui op ’n heel moontlike herroeping van die ongewilde president Jacob Zuma. Indien hy nie self uittree nie, wag daar ’n mosie van wantroue in die parlement wat blykbaar geen genade vir die president sal toon nie.

’n Skouspelagtige ineenstorting van een van die land se sterk sakeondernemings, Steinhoff, het ’n byna ongekende belangstelling ontlok in die “gesondheid” van ander groot instellings in wat nou as ’n geteisterde ekonomie bestempel word.

Om waternood te beleef bring ’n heel ander dimensie na die daaglikse gesprek. Inderdaad word die politiekery ook hieroor aangevuur. Die drie regeringsvlakke – staat, provinsie en munisipaliteit – het mekaar aan die kraag beet oor beskuldigings oor wanbestuur of totale gebrek aan bestuur Kaapstad en omstreke, en ook die Oos-Kaap (verlede jaar die Vrystaat en Noordwes) beleef die droogte tans. Storms woed gereeld oor Gauteng en KwaZulu-Natal, maar in die suide sal die damme wat tans 25% “vol” is, op 12 April tot onder 13% sak. Dag Zero.

Klimaatsverandering het tuisgekom. Ook die voorspooksels van ongekende ramp. Helen Zille, die soms omstrede premier van die Wes-Kaapse provinsie, beskou die komende ramp as erger as die Tweede Wêreldoorlog. Lughawens sal stellig gesluit word, baie ander instellings ook. Maar Zille, ’n onderwyskenner, glo tog dat skole wel sal oorleef.

Twee jaar gelede het Kaapstad daagliks 1 000 miljoen liter verbruik. Vanjaar het dit reeds tot 450 miljoen liter gesak.

Vier miljoen inwoners van Kaapstad is gevra om met minder as 50 liter per dag klaar te kom. Die wynbedryf gaan ’n tekort van 700 m liter lewer; geen tuine mag nagespuit word nie, swembaddens mag nie hervul word nie (in die erge warm somer is swembaddens amper verpligtend). Dis ’n statussimbool om met ’n ongewaste motor te ry.

Water word in groot trokke van die natter dele van die land aangery, met berghoogte-vragte plastiekbottels. Waterpunte in Kaapstad self is aangewys waar inwoners hul plastiekbottels kan gaan vul.

Sekuriteitsbeamptes is reeds aangestel om toe te sien dat die watersoekers mekaar nie irriteer of leed aandoen nie.

So ’n watertapper, Jessica Huwenhuizen van Dieprivier, vertel dat sy slegs tweeliterbottels by die fontein volmaak, want dit moet na bejaardes geneem word wat stellig nie die groot vyfliterbottels kan hanteer nie. Liese Forbes van Kaapstad, wat self twee keer per week water gaan soek by die fontein, meen dit “sou lekker wees as mense meer verdraagsaam, geduldig en behulpsaam sou wees. Water raak ons almal, ryk, arm, swart, wit, almal.”

Rampspoed slaan sy kloue in die grootste deel van die Kaapse inkomste in: toerisme. Die besoekers verwag swembaddens, baie koue water en genoeg vir daaglikse baddens en storte. ’n Enkele stort giet sowat agt liter water. (Dis nie genoeg vir ’n baba se bad nie.) Wasmasjiene gebruik 20 liter water per was. Pleks van twee liter water per dag te drink, drink liewers een en ’n half liter.

Oplossings om die komende apokalips die hoof te bied sluit ontsouting in. Maar hierdeur sal Kaapstad slegs 16 miljoen liter per dag kan verkry. Boorgate wat teen ongekende spoed en dikwels met rampspoed geboor word, kan 150 miljoen liter oplewer.

Swak onderhoud van pypleidings veroorsaak watervloede oor strate – iets wat gewone inwoners ongekend kwaad maak. Nog kwater wanneer hulle verneem dat uit 320 aanmeldings binne ’n sekere tydperk net 42 klagtes ondersoek is.

Uiteraard ontstaan die vrae: Hoe moet klimaatsverandering hanteer word? Hoe vinnig verander ’n spesifieke “klimaat”? Hoe kan aangepas word by die nuwe bewuswording van sulke veranderings?

Feit bly dat die infrastruktuur onder druk is in ’n land soos Suid-Afrika waar sosiale ongelykheid geweldig baie beplanning en voorsorg vereis. Water en sanitasie word onder een regeringsdepartement hanteer. Die betrokke departement word algemeen as van mindere belang beskou. Besoedeling deur afval en veral ook afvalwater uit myne word gereeld deur aktiviste aan die lig gebring, maar politiekery en blote gebrek aan kennis maak van “water en sanitasie” ’n niefunksionerende departement.

Sal daar nou, met ’n Dag Zero-bedreiging, wel groter aandag geskenk word en werk gemaak word van “water en sanitasie”?

Staatskaping, korrupsie, ’n mank president en politici wat vasgevang is in botsende belange wil en kan blykbaar nog net nie glo dat die krane wel kan opdroog nie.

Klimaatsverandering? Wat is dit nou weer?

Buro: MvH
  • 0
Top