Leiden-studie-uitruil: onderhoud met Marlies Haupt

  • 0

Nederland is ’n gewilde studiebestemming vir Suid-Afrikaanse studente. Marlies Haupt het aan die Universiteit Leiden studeer as uitruilstudent as deel van haar MA Afrikaans en Nederlands (Universiteit Stellenbosch). Sy werk tans by LAPA Uitgewers in Pretoria.

Wat het jy verwag van Nederland voordat jy na die lughawe toe gery het?

Toe ek tien jaar oud was, het ek en my gesin vir een jaar (September 1996 tot September 1997)  in die destydse Suid-Afrikaanse huis in Mauritzstraat 76, Utrecht gewoon. My pa het toe verder studeer aan die Universiteit Leiden. Ek het daar skoolgegaan en ’n jaar vol opwinding, avontuur en nuwe ontdekkings beleef. Op pad na die lughawe in Jan 2010, dié keer om as uitruilstudent aan die Universiteit Leiden te studeer, was ek onbeskryflik opgewonde om terug te gaan na ’n land waarmee ek reeds ’n hegte band gehad het. Ek het daarna uitgesien om ou vriende te sien, bekende plekke te besoek, maar ook om nuwe avonture te gaan beleef.

Ek en my vriendin Geertine Blok (deesdae Geertine Zwijnenburg) ry op ’n motorfiets in die Nederlandse platteland. Sy was my klasgenootje toe ek as tienjarige in Nederland skoolgegaan het. In 2010 het ons weer gereeld saamgekuier toe ek in Nederland gaan studeer het.

Wat was jou eerste indrukke van Nederland toe jy van die vliegtuig afgeklim het?

’n Familievriend was so gaaf om my en my drie Suid-Afrikaanse klasmaats plus al ons bagasie met sy kar kom te haal. By die lughawe het hy ons eers trakteer op iets te drinke. Ek onthou ons het gehou van die woord “warm sjokolademelk” vir hot chocolate en ons het ook gelag vir “koffie verkeerd” – dis wat die Nederlanders koffie noem wat jy met melk drink. In die kar het ek gebid en vir myself gesê dankie tog ek hoef nie te bestuur nie. Ek het ’n paar keer amper hardop geskree wanneer ek dink die familievriend gaan in aankomende verkeer se pad beland. Die bestuur aan die regterkant van die pad was vreemd. Ek was gek oor die klein legkaarthuisies, nou straatjies en hustle en bustle van mense wat stap en fietsry.

Hoe verskil ’n universiteit in Nederland van ’n Suid-Afrikaanse universiteit?

Die grootste verskil (en frustrasie) vir my was dat daar nie een sentrale biblioteek was waar jy aan boeke kon vat en in verskillende afdelings kon rondloop en self boeke van die rak kon afhaal nie. Jy moes aanlyn die boeke wat jy wil hê, bespreek. Dan kon jy sodra jy die kennisgewing ontvang het, die boeke in ’n locker gaan haal waar personeel dit vir jou in die studie-/rekenaarsentrum gelaat het. Die pluspunt van die “bestel”-biblioteek en -rekenaarsentrum was dat dit saans tot middernag oop was en ook op Sondae. Baie van die klasse was eerder gesprekke as lesings en is in ’n lekker informele en interaktiewe wyse aangebied.

Uitsig vanuit ons woonstel: Sneeu in Oude Singel, Leiden.

Ek en Janienke van Zyl Crafford in Keukenhof op my verjaarsdag. Ons het dit daar gaan vier (2010).

Het jy enigiets nuuts oor die Nederlandse taal en kultuur geleer?

Ek het baie van die mense, menswees  en kultuur geleer. Die vreemdste verskynsel vir ons was dat feitlik die hele nasie saans sesuur aandete eet. Dis ’n soort heilige instelling en ongeskrewe reël. Indien jy jou daardie tyd buite en op straat bevind, is ’n dorpie/stad soos Leiden vreemd stil en verlate.

Wat was jou gunsteling Nederlandse gereg/dorp/stad/besienswaardighede?

Krokette wat jy sommer so in vending machines kan koop was ’n gunsteling. ’n Soutpannekoek met spek en kaas … jy kan my nou nog daarmee omkoop. Ek was gek oor die botaniese tuin in Leiden en het ook graag koffie gedrink, want die Nederlanders se koffie is heerlik. Die vryheid en onafhanklikheid wat jy daar het omdat jy van openbare vervoer gebruik kan maak, was wonderlik. Dit was ’n fees om rond te rits met ’n trein of om met my eie fiets na ’n bestemming te ry. Elke uitstappie was ’n belewenis, maar ek kan sê dat ek baie lief geword het vir Amsterdam.

Wat was jou gunsteling Nederlandse gesegde?

Die naaste supermark aan ons was ’n Digros en ek het dit baie geniet dat die tellers/kassiere die saak beklink met “Fijne dag nog”, waarmee hulle basies vir jou sê hulle hoop jy het ’n mooi dag verder. ’n Vreemde ontdekking was toe ek my huismaat van iets vertel en ons die uitdrukking “kop aan kop” gebruik en sy toe sê maar in Nederlands is dit “nek aan nek”.

Buro: MvH
  • 0
Top