Muchu gustu: Blank vs wit

  • 0

Ek wonder wat ’n lekker vertaling sou kon wees vir “voortschrijdend inzicht”. Dié Nederlandse frase beteken iets soos “tot insig kom”, maar daardie “schrijdend”, afkomstig van die werkwoord “schrijden”, is so veelseggend. Dit beteken mos om op ’n statige of plegtige manier te stap of loop.

Daardie wyse van stap is sowel vernaam as stadig, en stadig en vernaam is ook hoe nuwe insigte dikwels groei en vorm kry. Partykeer het ons ’n “eureka-moment”, maar meestal verander ons denke maar in fases, deur ontmoetings met ander mense, ander denkwyses en ander verhale en kwellinge. Dit is nou as jou denke in staat is om te verander.

In Nederland kan die NOS (Nederlandse Omroep Stichting) se onlangse taalstrategie bestempel word as ’n vorm van “voortschrijdend inzicht”. Die NOS is in Nederland verantwoorddelik vir programme wat ’n nasionale en min of meer neutrale karakter het. Nuus, aktualiteite en sport word byvoorbeeld deur die NOS versorg. Dié uitsaaier staan bo of langs die al dan nie kommersiële stasies en uitsaaiers met ’n spesifieke teikengehoor en ’n meer spesifieke sinjatuur – regs, kultureel georiënteer of sosialisties. Omroep Max is dan weer opgerig om programme te vervaardig en uit te saai vir mense wat oor die algemeen ouer is en met pensioen.

Onlangs het die NOS laat weet dat in die beriggewing ’n wysiging gaan plaasvind: die Nederlandse term “blank” word voortaan ingeruil vir “wit”. In ’n verklaring sê die NOS:

We gebruiken bij voorkeur wit in berichten omdat blank in tegenstelling tot zwart een positieve connotatie heeft [...]. En dat doen we met name bij nieuws waarin het over de tegenstelling met zwart – of de relatie tussen wit en zwart – gaat. [...] Blank roept associaties op met rein en schoon en zwart is dat dan blijkbaar niet.

NOS se hoofredakteur, Marcel Gelauff, stel dit uitdruklik dat die term “blank” nie verbied sal word nie.

Dit is op sulke momente dat ek vervreem voel van die land waar ek ’n paar dekades gelede gebore is. Dat hierdie diskussie nou eers gevoer word, voel so laat. Nie net in die Engelstalige wêreld nie, waar ons almal so na opkyk en wat ons oorheers op die gebied van omtrent alles – kultuur, politiek, sport ens – is die verwysingsraamwerk “white” en “black”. Die Nederlandse taal kan ook ’n voorbeeld neem by Afrikaans, waar mens praat van “swart”, “wit” en “bruin”. Ja, “blank” is ’n bestaande Afrikaanse woord, maar “wit” word algemeen gebruik, in die media en in die daaglikse omgang, sonder dat daaroor baie ophef ontstaan.

Die NOS het egter gevoel dat daar ’n verklaring uitgereik moet word rondom die gebruik van “wit”, nadat daar op sosiale media breedvoerig gekla is oor ’n nuusberig waarin gepraat word van “witte boeren”. Nou hoekom praat die NOS skielik van wit boere, dit is tog blanke boere?, het baie Nederlanders op Twitter laat weet. Uiteraard word genoem dat die term nie verander moet word nie, omdat dit weer so ’n tipiese voorbeeld van politieke korrektheid sou wees.

“Politieke korrektheid” ... daar is min terme wat my so pla as daardie een. “Politieke korrektheid” moes inderwaarheid ’n positiewe uitdrukking gewees het, maar dit word feitlik gebruik as ’n beskuldiging vir ’n te veel aan weldenkendheid, ’n te veel aan empatie en omsien na die ander. Politieke korrektheid sou ’n knieval wees vir die meerderheid, en vir ’n sentiment waarin die medemens eerbiedig word.

Die Nederlandse samelewing is egter al geruime tyd besig om te verander van samestelling, veral in die groot stede waar bruin, swart en wit en verskeie kulture en gelowe naas en deurmekaar bestaan. Geen wonder dat “blank” toe is aan ’n herevaluering nie. Ombudsman Adri Vermaat van die koerant Trouw stel dit so:

De samenleving kiest steeds vaker voor de term “wit” omdat “blank” – indachtig het koloniale verleden – een superioriteit tegenover gekleurde mensen uitstraalt die er niet zou moeten of mogen zijn. Media dragen bij aan deze ontwikkeling. Ze kiezen vaker voor “wit” omdat er een groeiend aantal redacteuren is dat “blank” naar racisme vindt neigen.

Dit is so iets as die diskussie rondom die fenomeen “Zwarte Piet” (hieroor ’n ander keer): ’n mens kan nie glo dat ’n demokratiese land as Nederland nog so outyds is in die krampagtige omarming van terme en gebruike wat diskriminerend is nie. Enigiemand met ’n sekere intelligensie sou vra: Wat kan jy verloor deur jou taalgebruik ’n bietjie te wysig en aan te pas by die samelewing wat besig is om te verander? Wat is verkeerd daaraan om ’n bietjie rekening te hou met die ander? Dit is dan mos “voortschrijdend inzicht”.

Die oorsprong vir die vrees vir enige politieke taalvernuwing lê waarskynlik in ’n mate van angs vir verandering, ’n tipe angs wat voortspruit uit nostalgie. Daardie nostalgie is ’n sentiment wat mens dikwels bespeur op gewilde Nederlandse webwerwe met ’n regse, en dikwels stereotipiese en diskriminerende inslag, soos Geen Stijl:

Behalve een lelijk Anglicisme dat op de heteluchtstroom van de sociale rechtvaardigheidshysterie vanuit Amerika is meegevoerd naar Nederland, is het ook gewoon onzin: autochtone Europeanen zijn blank, niet wit, en in veel Europese talen wordt derhalve het woord “blank” gebruikt: bianca, blanche, blanca. Maar de NOS-logica is nóg maffer, want Baas van het Journaal Marcel Gelauff ziet “blank” en “zwart” niet als huidskleuraanduidingen, maar als tegenstellingen. [Gelauf] zegt [...]: “Er is gekozen om ‘wit’ te gebruiken, en niet blank, omdat blank associaties oproept met ‘schoon’ en ‘rein’, en als dan zwart de tegenstelling is, is zwart blijkbaar niet schoon en rein.” WTF!? Het gaat om huidskleuraanduidingen, om uiterlijke kenmerken dus, niet om inhoudelijke tegenstellingen tussen mensen. Een zwarte kan uiteraard net zo goed schoon & rein zijn, zoals een blanke vies & onrein kan zijn. Zwart is niet automatisch negatief, omdat blank positief zou zijn.

Toeligting: Geen Stijl is ’n webwerf wat in die verlede die term “dobberneger” gebruik het as ’n verwysing na mense van die Afrika-kontinent wat per boot na Europa probeer vlug. Boelies wat trots is dat hulle kan en mag boelie – dit bly tog ’n snaakse fenomeen.

Intussen kan ’n mens wel vasstel dat verskeie Nederlanders nog nie so ver is as die gedagte agter die titel van die digter Nathan Trantraal se nuwe boek nie: Wit issie ’n colour nie.

Verdere leesstof

Blank of wit Een taalstrijd met een politieke ondertoon

Waarom gebruikt de NOS soms wit en soms blank

NOS verruilt de aanduiding blank voor wit en dat leidt dan tot kamervragen en een greep in de moppentrommel

NOS doet te positief klinkend woord blank in de ban.

Buro: MvH
  • 0
Top