’n Besoek aan Alex la Guma in Havana – 32 jaar later

  • 0

In die loop van vroeg-Oktober 1985 was ek besig om reëlings te tref vir ’n besoek aan Havana, Kuba. Dit was nie die soort besoek wat ’n mens deur ’n reisagent in ’n blink gebou in ’n hoofstraat reël nie. Niks daaromtrent was maklik nie.

Die Kubane was nie ingerig vir buitelandse besoekers of toeriste nie, en dié het hulle maar drupsgewys toegelaat. Daar was geen diplomatieke bande tussen Suid-Afrika en Kuba nie. Trouens daar was slegs sprake van veldslae. Sedert Operasie Carlota in 1975 was dié land se troepe saam met die Angolese MPLA-regering gewikkel in ’n grensoorlog met die Suid-Afrikaanse Weermag.

In die VSA, waar ek my destyds bevind het, was enige skakeling met Kuba verdag en die handelsverbod wat kort na die missielkrisis van 1962 ingestel is, het in felheid toegeneem. Vir Ronald Reagan, die Amerikaanse president, was Fidel Castro die verpersoonliking van ’n nuwe fascisme wat geesdriftig die vryhede van spraak en oortuiging onderdruk het. Ten spyte van al die sosialistiese slagspreuke en danksy die kommunisme, het Reagan gesê, het Kuba agteruit geboer, want die kommunisme werk net op twee plekke: in die hemel, waar dit nie nodig is nie, en die hel, waar dit reeds bestaan.

Dit was na dáárdie Kuba dat ek met ’n ompad op pad was, ’n saadjie wat geplant was tydens ’n laatnaggesprek met ’n ANC-uitgewekene in ’n woonstelletjie op Amsterdam Avenue in New York. Bo en behalwe al die groot hindernisse was ook my Suid-Afrikaanse paspoort ’n lastigheid – oral was dit die teken van die uitgeworpene en bloot die feit dat jy ’n paspoort gehad het, ’n bron van verdagmakery. Ook daarmee kon ’n plan gemaak word, het die kameraad my verseker. Ek sou afreis na ’n derde land, een of ander reisdokument bekom en dan toegelaat word om ’n paar dae met Alex la Guma, die ANC se verteenwoordiger in Havana, onderhoude te voer oor allerlei, maar veral oor sy skrywerskap.

Alex la Guma

Ek onthou dat ek in Oktober 1985 A walk in the night vir die eerste keer kon doseer, noodwendig in die buiteland, omdat La Guma in Suid-Afrika as ’n politieke aangehoudene,  verbanne persoon en kommunis gelys was. Hy kon glad nie in Suid-Afrika aangehaal of gedoseer word nie. Ek onthou dat ek in my lesings oor sensuur en dissidensie uitgewei en gesuggereer het dat sy naturalistiese novelles soos And a threefold cord, The stone country, In the fog of the season’s end en Time of the butcherbird ’n Afrikaanse wêreld beskryf wat in die Suid-Afrikaanse letterkunde onderbeskryf is. Aan die einde van die lesingreeks het ’n damestudent ’n kalender van die Pan African Revolutionary Socialist Party met die onderskrif “struggle against apartheid, Southern Africa, year of decisive commitment” as geskenk gebring – ’n geskenk wat ek nie sonder risiko in my koffer na Suid-Afrika kon terugbring nie.
La Guma het uit ’n ou Kaapse familie gekom met sy pa Jimmy wat een van die bekendste kommuniste en vakbondleiers van die middel-20ste eeu was. Alex was ’n boekhouer, ’n joernalis, ’n spotprenttekenaar en ’n leier van die South African Coloured People’s Congress (SACPO) en een van die aangeklaagdes in die hoogverraadverhoor van 1956.

Die reisreëlings sou egter nie ver vorder nie. ’n Voorbereidende foonoproep of twee, en daarna die oproep waaroor ek in Mei 1986 in Stet berig het:

“Alex la Guma is dood”
“Wat?”
“Ja, Vrydagaand.”
“En nou?”
“Die trip is af.”

Daar was geen verdere nut vir omslagtige reisreëlings of geheimsinnige dokumente nie. Die rede vir my besoek het nie meer bestaan nie. Dit sou waarskynlik onmoontlik wees om enigeen in ’n ANC- of Kubaanse gesagsposisie te oortuig om my toe te laat. Wat sou ek in ieder geval onder sulke omstandighede in Havana doen? In plaas van Kuba, is ek na Puerto Rico waar kort tevore ’n modderstorting tydens ’n tropiese sikloon ’n bergdorpie naby die suidelike stad Ponce totaal verwoes het.

As dit nie Kuba kon wees nie, dan sy Karibiese buureiland waar die omgekeerde Kubaanse vlag getuienis is van ’n soortgelyke geskiedenis en kultuur, soortgelyke polsende ritmes en ’n vryheidsoeke en -stryd wat vir geen Kubaan onbekend sou wees nie. “Kuba en Puerto Rico is twee vlerke van ’n voël,” dig Lola Rodríguez de Tió in “A Cuba”, en “hulle kry blomme of koeëls in dieselfde hart”:

Cuba y Puerto Rico son
de un pájaro las dos alas,
reciben flores o balas
sobre el mismo corazón …

Al kon ek in Puerto Rico ’n paar guayaberas, Kubaanse hemde, aanskaf, was nóg Ponce of San Juan nóg die bomba of die plena Havana, die rumba, die tumbao of die guaracha. Dit was nie die plek waar Fidel of Camilo Cienfuegos op stadspleine vereer word, of afbeeldings van Korda se Ché-foto menige muur of straathoek versier of revolusionêre spreuke die volk tot gemeenskapsdiens oproep nie. Daar was voorheen moontlikhede om die reis na Havana voort te sit, maar uiteindelik moes ek 32 jaar wag voordat ek ’n voet op José Marti Internasionale lughawe kon sit.

Vandag is ’n totaal ander tyd as 1985. Die Berlynse muur het geval; die Suid-Afrikaanse paspoort word oral aanvaar; die uitgewekenes het teruggekeer; Kubaanse medici en hidroloë werk op Suid-Afrikaanse plattelandse dorpies en Suid-Afrikaanse studente studeer aan Kubaanse universiteite. Barack Obama en sy gesin het met Air Force One op Kubaanse grondgebied geland; toerisme is ’n hoofinkomstebron en Fidel, die laaste van die drie revolusionêre ikone, is dood. Al is Fulgencio Batista se bewind byna 60 jaar gelede omvergewerp, is daar vandag oraloor Kuba nog steeds Fidel- en Ché-slagspreuke wat die stryd aanmoedig en die Revolusie verdedig – sommige splinternuut, ander erg verweer: ¡Venceremos!; ¡Hasta la victoria siempre!; ¡Patria o Muerte!

Vir jongmense die wêreld oor, ook in Suid-Afrika, was die Kubaanse revolusie die uitstaande voorbeeld van wêreldverbetering, ’n wêreld sonder armoede met gelykheid vir almal: “Esta es la Revolución socialista y democrática de los humildes, con los humildes y para los humildes.” Fidel het talle geïnspireer: “Hierdie is ’n sosialistiese revolusie en demokrasie van die eenvoudiges, met die eenvoudiges en deur die eenvoudiges.” Nicolás Guillén se ode “Che Comandante” het hul bewondering verwoord:

¡Salud, Guevara!

Espéranos. Partiremos contigo. Queremos
morir para vivir como tú has muerto,
para vivir como tú vives,
Che Comandante,
amigo

Gesondheid, Guevara!

Wag vir ons. Ons sal met jou gaan. Ons wil
sterwe om te lewe soos jy gesterf het,
om te lewe soos jy leef,
Che Comandante,
vriend.

By ’n  linkse boekwinkeltjie in Observatory naby die Universiteit van Kaapstad kon ’n mens die internasionale Engelse uitgawe van Granma, die mondstuk van die Sentrale Komitee van die Kubaanse Kommunistiese Party, koop. Ondergrondse kamerade het in geheimsinnigheid die beginsels van foquismo, die voorhoedeteorie, van Ché se La Guerra de Guerillas in sy Engelse vertaling met die rooi omslag, Guerilla warfare, bestudeer. Geswore internasionaliste kon in solidariteit selfs die wysie van Carlos Puebla se “Hasta siempre, Comandante” neurie:

Aquí se queda la clara
la entrañable transparencia,
de tu querida presencia,
Comandante Che Guevara

Hier is die helder,
bekoorlike deursigtigheid,
van jou liewe aanwesigheid,
Comandante Che Guevara.

“Es frío,” dis koel, het María, ons hospita, gesê. Op die TV-skerm agter haar loop ’n huldiging by Fidel se rotsgraf in Santiago de Cuba ten einde met die boodskap ¡Fin al bloqueo!, beëindig die blokkade! Sy is vriendelik en innemend. “Teen die einde van November is die weer matig, die wind het bedaar en dit reën slegs af en toe.”

“… y los huracanes?”

“¡Si, si … terrible! Irma was erg. Die Malecón … die seemuur hier in die voorkant was heuphoogte oorstroom. Ons straat was heeltemal onder water, maar dit was erger in Caibarien in die noorde. Hulle’t nou nog nie van die orkaan herstel nie.”

Ons netjiese art deco-gastehuis in Ou Havana, Havana Vieja, is ’n toonbeeld van ondernemerskap, ingerig na die behoeftes van die buitelandse reisiger. Met die gladde afwerking van blink swart teëls is ’n paar kamers van die woonstel omskep in koel kitsch hawens, behalwe twee beddens – een enkel en die ander dubbel, bedek met helderkleurige dekens – is elk toegerus met ’n plat TV-skerm, ’n yskassie, ’n waaier, ’n lugversorger, ’n kluis, ’n eie stort en toilet. Dié opgeknapte casa particulares naby die polisiestasie staan uit te midde van die talle verweerde geboue aan weerskante van die nou straatjie.

’n Drieverdiepinggebou, minder as 50 treë verder af in die straat, sien erg vervalle daar uit, erger as die res. Dié moes voorheen ’n kantoorgebou met ’n binneterras gewees het. Die ligblou verf van die eens swierige gewel en die houtvensterrame het waarskynlik jare gelede afgedop, en is sedertdien nie onderhou nie. Plek-plek is daar nie meer ’n heel hortjie aan die luike nie en die gate is toegemaak met stukke karton of lap. Die terras wat voorheen ’n verkwikkende oop ruimte vol helder lug moes gewees het, is nou ’n hool met die oop gat van ’n riool in die middel en dig gepak met rommel. Met die revolusie is herehuise en woonstelblokke deur die staat oorgeneem, nywerhede genasionaliseer en hul kantoorgeboue gebruik om die armes te huisves, soms ’n gesin per kantoor, meesal sonder voldoende ablusiegeriewe. Anders as die casas particulares waarby die eienaars ’n belang het, is die staat verantwoordelik vir die gebou, maar in werklikheid lyk dit of niemand daarna omsien of dit probeer onderhou nie. Die inwoners leef karig.

Tog kry ’n mens die gevoel dat die straatjie binnekort anders daar sal uitsien. Kubane het ’n diepgewortelde selfhelpkultuur ingegee deur ontbering. Oral in die buurt is ambagsmanne besig om die verwering gebou vir gebou te bestry. Die pleine van Ou Havana is meesal reeds gerestoureer, van die boomomgeefde Plaza de Armas of die Plaza Vieja waar ’n man tuisgemaakte roomys in halwe kokosneutdoppe verkoop en laerskoolkinders onder toesig van hul onderwyser speletjies speel tot die Plaza de la Cathedral met sy ou koloniale herehuise en die statige ou kerkgebou.


“’n Man met die naam Eusebio Leal het jare gelede begin om Ou Havana stuk-stuk te restoureer,” sê Juan, ons gids op ons eerste dag in Kuba, “en nou help toerisme en Unesco se geld die restourasie, en so aan …”

As jy jou oë toemaak, kan jy jou vergis en dink dat jy op een van die kleurvolle piazzas van Granada of Buenos Aires is waar toeriste mengeldrankies drink, straatmusikante beluister, en verbygangers gade slaan. Die reuse-plesierbote uit die Bahamas of Miami meer aan langs Plaza de San Francisco en hul passasiers vorder waarskynlik nie verder as dié skoon ruimtes of toeristestrate soos Obispo en Mercaderes met hul aandenkingswinkels, nagklubs, kafees en restaurante nie, plekke waar die gewone Havanees selde kom en waar ’n ete vir twee byna net so duur is as die gewone Kubaan se maandelikse loon.

Met Juan besoek ons in sy 1959 groen tweedeur-Opel Olympia Rekord al die bekende toeristeplekke, ook die geteerde Revolusieplein met sy afbeeldings van Ché en Camilo met sy cowboyhoed – “ons mees gekoesterde held” – op die mure en die reusagtige José Marti-toring waar Fidel in sy fleur Kubane vir ure in die hitte toegespreek het. Pous Johannes Paulus II het in 1998 die nagmaal aan meer as ’n miljoen gelowiges bedien met die versugting, volgens Juan, “dat Kuba vir die wêreld sal oopstaan, en die wêreld Kuba sal omarm …”

Op pad terug na ons blyplek ry ons verby die Castro-familiekompleks, en met Avenida Quinta, of Vyfde Laan, in die buurt Miramar verby verskeie ambassades, onder meer die reusagtige toringambassade van die voormalige Sowjetunie. “Hier is oral groot en mooi huise … Kyk daardie pragtige gerestoureerde gebou,” wys Juan ’n roomkleurige dubbelverdiepinggebou met ’n versorgde tuin uit. Aan die vlagpaal wapper die Suid-Afrikaanse vlag, maar ons kan nie stop vir foto’s nie – op dié deel van Avenida Quinta is parkering verbode.


Ek was van plan om die ambassade te nader om te hoor of hulle weet waar die graf van Alex la Guma in Havana se beroemde begraafplaas geleë is, maar uiteindelik was dit nie nodig nie. Toe ons op ons laaste dag in die stad per bus die Cementerio de Cristóbal de Colón aandoen en navraag doen, kon ’n man by die ontvangs sonder aarseling die graf uitwys.

Die begraafplaas, vernoem na Christophorus Columbus, met die duisende wit grafstene en talle praalgrafte lê skoon en glinsterend voor ons in die najaarson. Die mense, meesal vroue, staan tou om blomme te koop vir hul geliefdes se grafte, sommige met offerandes soos kerse, bottels rum, poppe en tjalies. By ’n tydelike blou skeepshouerkantoor kan die buitelandse besoeker vir drie pesos convertibles toegang daartoe kry. In reisgidse word dié begraafplaas dikwels aangegee as een van die besienswaardighede van die stad, al is daar diegene wat daarna verwys as “un territorio de profanadores y ladrones”, ’n plek van die heiligskenders en skelms.

“Dis so groot soos sestig sokkervelde,” het Juan die eerste dag gesê, “en almal kan daar begrawe word, van die arm Kubaan tot intellektuele en sportmanne.”

“En wat van die politici …?”

“Natuurlik hulle is altyd daar en die helde van revolusie en so aan …”

Inderdaad, in beskrywings van die begraafplaas val die name van bekende politieke figure op, en ook dié van kunstenaars soos Ibrahim Ferrer, die musikant van Buena Vista Social Club, die fotograaf Alberto Korda, en skrywers soos Lola Rodríguez de Tió, Nicolás Guillén en Alejo Carpentier; ook dié van skrywers met wie ek minder bekend is, soos José Lezama Lima en Dulce María Loynaz.

“Maar die populêrste graf is dié van ’n gewone vrou,” sê Juan, “Amelia, La Milagrosa, die wonderwerker. Julle sal sien hoe mense kranse, blomme en dankoffers en so aan by haar graf los … Mense los poppe en babaklere om Amelia se voorspraak te verseker. Kubane is baie gelowig … of liewer … baie bygelowig. Daar is St Lazarus en St Barbara, en …”

“Amelia …”

“Ja … en Amelia. Die storie is dat sy met die geboorte van haar dogter gesterf het. Die kind het ook gesterf en dié is tussen haar bene in die kis geplaas. En toe hulle jare later die kis oopmaak, toe lê die kind in haar arms”

“Die beendere van die kind, bedoel jy.”

“Moenie die storie bederf met te veel vrae nie,” lag hy.

Tot ons spyt het ons minder as ’n uur opsy gesit om na La Guma se graf te soek. Ons moes die versoekinge van die begraafplaas weerstaan.

“Amiga, dónde está la tumba de …” Die ontvangsdame roep ’n man nader en ek herhaal my vraag: “Alex la Guma, el escritor de Sudáfrica?”


“¡No problema, No problema!” sê hy. “No problem, it’s easy, just ‘round the corner, just ‘round the corner!” Die graf is letterlik net etlike meter van die ingang op Avenida Obispo Espada, die toegangspad van Cementerio de Colón, op die terrein van Emigrados Revolucionarios Cubanos. Die bruin art deco-praalgraf van José Marti se ouers, Leonor en Mariano, toring uit bo die omringende wit grafte:

Alex Lagumas
20-10-1985
Del pueblo Sudafricano.

Die gedenkplaat is gekraak; sy van is verkeerd gespel; die datum wat aangegee word, is dié van sy begrafnis – maar dít is die laaste rusplek van Alex la Guma, voorheen van Rogerstraat 2, Distrik Ses, Kaapstad, na wie ek 32 jaar gelede op pad was. Onwillekeurig dink ek aan Blanche wat tydens die spitsuur van Vrydag 11 Oktober hospitaal toe gejaag het met haar man wat sy vierde hartaanval gekry en naby die hospitaal sy laaste asem uitgeblaas het met haar naam op sy lippe. Ek dink aan Pablo Neruda se bekende “Sólo la muerte” – “Alleen die dood”:

Hay cementerios solos,
tumbas llenas de huesos sin sonido,
el corazón pasando un túnel
oscuro, oscuro, oscuro,

Daar is eensame begraafplase,
grafte vol beendere sonder geluid,
die hart gaan deur ’n tonnel
duisternis, duisternis, duisternis,

Persoonlike opoffering neem verskillende vorme aan. Niemand kan die angs van ’n voortvlugtige vir geregtigheid meet of ’n syfer toeken aan die vrees van familielede of die alleenheid van die gewetensgevangene in ’n tronksel of die gedwonge skeiding van dierbares of die ontsettende eensaamheid van ’n balling in die vreemde nie. Dit is alles ontasbaar. Dit kan op geen skaal, op geen tabel, in rand en sent of in pesos en centavos gemeet word nie. Alex la Guma was ’n ingeperkte onder huisarres, ’n gevangene sonder verhoor in eensame aanhouding, sonder enigiets om te lees en sonder ’n pen en papier. Sy gesin is geteister en sy vrou aangehou om druk op hom te plaas, en teen hulle sin is hulle tot ballingskap gedwing. Hy sterf voordat die moontlikheid enigsins bestaan om terug te keer na die land en sy mense waarvoor hy sy lewe opgeoffer het.

In sy novelles word dikwels ’n wêreld van armoede en uitbuiting voorgestel, soos in And a threefold cord:

[The] headlamps [of the car] cut cones of yellow light out of the blackness and did not touch the smell of fermenting rubbish that mingled with the live smell of boiled six-penny meat bones, or the dead smell of rusty metal and rotten wood […] [I]t did not touch the lights in the shanties, the glow of paraffin lamps or coals embering in a pierced drum. The rich automobile beams swept above the tiny chunks of malnourished light that tried to escape the sagging shanties, like restless hope scratching at the door. Along the highway the night-traffic spun past and did not notice the tumbledown latrines that circled the listing shacks and shipwrecked people like sharks in a muddy sea.

Dit is die wêreld wat La Guma wou verander en wat die derduisende “shipwrecked people like sharks in a muddy sea” steeds wil verander. Daar is geen groter offerande as om jou lewe vir die idees van menswaardigheid, geregtigheid en die vryheid van andere te gee nie.


Ek lê my bossie blomme op Alex la Guma se graf neer met diep dankbaarheid vir sy skrywerskap en sy opoffering en dié van sy gesin en familie. Hier onder die bruin marmer van Emigrados Revolucionarios Cubanos behoort hy vir sy stryd teen armoedeverligting, vir volle menswaardigheid, ware vryheid en gelykheid aan Kuba net soos hy aan Suid-Afrika behoort. Ek weet ook in die skerp sonlig van Cementerio de Colón dat die volvoering van dié droom ons meesal ontwyk.

In sy geboortestad, Kaapstad, is daar nog geen openbare erkenning van sy en sy familie se opoffering van byna ’n eeu nie.

Havana – Santa Clara – Wildernis
Desember 2017 – Januarie 2018

 
Lees verder:

Foto's verskaf.

Buro: NB
  • 0
Top