LitNet-argief: ’n Besoek aan die Zuid-Afrikahuis – en omswerwinge in Holland

  • 0

Op Sondagnamiddag 17 September klim ek in Kaapstad op ’n vliegtuig van Turkish Airlines, op pad na Amsterdam. My missie was meerledig: ek wou in my hoedanigheid as maatskappy-argivaris van Naspers die argief en biblioteek van die Stichting Zuid-Afrikahuis besoek, en as daar tyd is ook ’n draai maak by ’s-Hertogenbosch, die stad waar my stamvader Jacobus Verster gewoon het voordat hy gedurende die tweede helfte van die 18de eeu na die Kaap gekom het.

Die vlug van Kaapstad na Istanbul, waar ek moet oorklim, verloop gemaklik. Die lugwaardinne is stylvol en vriendelik, en alles is van goeie gehalte, van die spys en drank tot die diens – wêrelde weg van SAL se huidige opset, waar ’n nors waardin sommer ’n passasier toesnou dat sy hom nie nou gaan help nie, want haar voete is seer. Hierdie herinnering laat my egter met net soveel skaamte vir swak dienslewering in my vaderland as met waardering vir Turkish Airlines. Dit laat my ook dadelik besef dat ek nou nie net ’n ander tydsone gaan betree nie, maar ook nuwe kulture gaan ervaar: hulle gaan sien, proe en voel, afhangend van in watter mate ek my daarvoor oopstel.

Maandagoggend halfelf kom ek by my hotel aan, en maak eers vinnig ’n paar notas, want ek moet gaan kos soek en die nabye omgewing verken. Ek hou my dokumente, geld en selfoon (wat ook heeltyd as kamera diens doen) altyd by my, vreesbevange dat ek alleen in ’n onbekende wêreld gestrand mag raak. Hierdie vrees sou my laat los eers toe ek Sondagmiddag halfeen (24 September) by my eie voordeur instap.

Met my uitstap uit die hotel en eerste kennismaking met Amsterdam reën dit liggies. Ek gaan staan onder ’n deuringang en kyk na die mense. Die fietsryers wat aanhoudend verbyswiep, trek my aandag onmiddellik. Sommige ryers lees hulle selfone terwyl hulle teen ’n hoë spoed beweeg. Niemand ry stadig nie – dis asof hulle die vloei wil behou – en net hier en daar ry iemand selfs vinniger as die ander. Bromponies is ook volop en het skynbaar hulle eie padreëls, dog net effens anders as dié van die krioelende fietsryers – bloot die alfahonde van dieselfde trop. Dit blyk dat voetgangers maar die verantwoordelikheid moet aanvaar om botsings te voorkom.

Gou leer ek om eers om te kyk voor ek van rigting verander. En ek dink aan Kaapstad se poging om fietsry aan te moedig, maar die bane in Adderleystraat word vir parkering gebruik, of deur voetgangers wat verby die padstalle wil swenk.

Later loop ek tot by ’n brug en kyk na ’n rivierboot – van Blue Boat Canal Cruises – wat onderdeur gaan, en ek neem foto’s met my selfoon. Op die hoek lê ’n fiets, voorwiel onherstelbaar gebuig, seker deur ’n verwoede voetganger vertrap.

Ek kyk rond, taamlik honger, want ek het die oggend laas op die vliegtuig geëet. ’n Paar treë verder waarsku ’n kennisgewing: “In de rekken/vakken maks 14 dagen”. Die stukkende fiets was reeds verwyder toe ek weer daar verbyloop.

Die eerste restaurant waar ek inloop, bedien net soggens kos en dis reeds middag. Ek loop verder. ’n Vrou met ’n foksterriër aan ’n leiband kom verby en ek merk dat die hondjie se oë my volg, al hou hy sy kop na vore. Ruik ek anders? Maar hy lyk darem nie aggressief nie. Hoe dit ook al sy, ek vind dit “heel leuk” dat die eerste Hollandse hond wat ek sien, my nuuskierig dophou. ’n Asiaat kom met sy hande in sy baadjiesakke by De Hollandse Casino uit. Hy lyk nie gelukkig nie. Ek dink aan ’n muurplakkaat wat ek die vorige dag gesien het wat lui: “Geluk is een probleem.”

Ek kies oplaas ’n pizzaplek om my eerste aandete in Amsterdam te nuttig. Toe die pizza opdaag, lyk dit nogal onaptytwekkend bleek en rou. Die Amstel Radler (“De verfrissende mix van bier en citroen”) is nie sleg nie, en ek bestel nog een, al kos dit ongeveer R160 per bier. Die pizza smaak soos dit lyk, maar ek eet alles op, kors en al.

’n Panfluitspeler – hy lyk na ’n Indiër – staan op die brug en speel die deuntjie van “El Condor Pasa” oor en oor. Eers klink dit melancholies mooi, later irriterend vervelig. Ek merk ’n jongerige man met ’n geskeurde rookgrys windjakker wat onvas op sy voete verbydrentel met ’n bierbottel in een hand. Hy waggel onder ’n bordjie deur wat waarsku: “Zone alcohol verbod”. Ek grynslag. Die Hollanders se sin vir die ironiese was nog altyd verfrissend.

Skielik bars ’n saksofoon los en verdoof die panfluit. ’n Maer, bebaarde man wat baie na Anton Goosen lyk, wieg ver vooroor, dan weer ’n bietjie minder, op en af soos ’n slang wat deur sy eie musiek betower word. Ná ’n paar minute pak die panfluitspeler sy goedjies en loer een maal vies oor sy skouer na ’n vent wat nie net harder as hy kan raas nie, maar ook meer deuntjies ken.

’n Man in ’n donker pak wandel verby en blaas rookwolke die lug in, so asof die plek aan hom behoort, en ek staar hom aan – hy lyk op ’n haar na soos wyle Steve Tshwete. Ek sien Suid-Afrika steeds hier in die hartjie van Holland.

Die saksofoonspeler gooi skielik sy bofpalpet neer en skreeu iets soos “You will be cast into the fires of hell!” Ek wonder wat hom ontstel het, maar hy druk sy pet weer op sy kop en die saksofoon blêr voort. Oorkant die pad kom drie mans uit die Ierse pub en ek merk hulle trap ekstra hoog oor die drumpel. Seker al ’n rukkie daar vertoef. Ek sien nou eers daar is ’n bord waarop staan: “Guinness and rugby, made for more.”

Eetplek vir môreaand? Nee, die Hard Rock Café langsaan lyk tans aanlokliker, en aangesien ek reeds ’n dooie man sien stap het, sien ek dalk vir Elvis daar, miskien met ’n Ierse mullet.

By Vondelpark draai ek skielik weg en geniet die bome en skerp afname in die verkeer daar. Ek sien ’n blonde dogtertjie wat langs ’n man op ’n tuinbank sit. Hy is besig met sy selfoon terwyl sy opgewek babbel en na alles rondom hulle wys. ’n Jong vrou kom verby met ’n Poolhond wat haar gemaklik agter hom aantrek. Hy kyk nie links of regs nie. Ek draai terug, sien die man en die dogtertjie aankom. Sy praat en wys steeds, maar hy rook so verbete dat dit lyk asof sy baard brand. Ek dink aan die Rijksmuseum en hoe ek my verwonder het aan die imposante gebou en sy netjiese tuin. Sou daardie man nog so iets raaksien?

Dinsdagoggend 19 September, en ek is vroeg op, want die hotel is glo soggens baie besig en sitplek is beperk. Ek eet ’n gekookte eier, twee stukkies koue vleis, en ’n muffin met koffie. Oorkant my sit Australiërs. Luidrugtig vertel die een middeljarige man ’n seksistiese grap oor vrouerugbyspelers wat nie die reëls ken nie – dit nadat hy eers sy vriend gevra het of hý die reëls van rugby ken en dié ontkennend geantwoord het. Ek sit net daar en eet my kossies.

Die derde Dinsdag van September, oftewel 19 September, is Prinsjesdag, sien ek op TV: “Op die dag spreekt het staatshoofd in de Staten-Generaal van het Koninkrijk der Nederlanden …” Bla bla. Dis iets wat ek nie voorsien het nie (en ek is juis so antirojalisties as wat kan kom, die verdomde parasiete), so ek besluit om dadelik na oggendete na die tremhalte te beweeg. Later hoor ek nee, dis in Den Haag, nie Amsterdam nie – natuurlik, jou sot … geen verkeersknope in Amsterdam nie. Met my swart rugsak belaai met skootrekenaar, kaart, beursie, bril, selfoon, skryfmateriaal ens, stap ek na Leydseplein, waar die hotelklerk gesê het ek heen moet gaan.

Ek weet nie waar Leydseplein presies is nie, sien ’n tremhalte en dink: hier kan ek mos opklim! Ek vra ’n man daar of dit die regte trem is en hy sê ja, nommer 7. Ons klim op en die tremdrywer sê dadelik nee, klim by die volgende stop af, dis die verkeerde trem. Sy gee ’n vae rigtingaanwysing en ek begin stap, verder aan in wat ek as ’n noordelike rigting beskou.

Groot fout, die trem het reeds met ’n effense boog gery terwyl ek angstig rondgekyk het na bakens om later te onthou en ek stap ook in ’n straat wat geleidelik na links draai. Gevolglik besef ek later dat ek heel uit my kaart uit gestap het, want ek sien geen straatname wat op die kaart is nie. Toe kyk ek na die son en dit tref my: ek loop al suid in plaas van noord – die opkomende son moet aan my regterkant wees, nie links nie! Later strompel ek tot by ’n grag en soek ’n bank.

My binneboude is rou geskaaf – ek het op ’n netjiese langbroek besluit, aangesien ek ’n goeie eerste indruk op ZA Huis se mense wou maak, en darem ook uit respek vir hulle. ’n Bruin vrou met ’n kind wys na die regterkant en sê: “Daardie brug, gaan op hom en dan weer regs en dan sal jy by ’n groot kerk uitkom, dalk so 30 minute, afhangend van hom vinnig jy kan loop.” En kyk pertinent na my wat loop soos iemand met ’n glips in sy broek.

Ek het inderdaad stadig voortgesukkel, ek wat altyd net een pas geken het en dis vinnig vorentoe. Ek sien in die venster van ’n winkel krale soos wat my vriendin Petro wil hê, sulke wit-en-blou krale met Delft-prentjies op. Ek koop vier armbande, teen ’n stywe bedrag, sommer vir ander vroue in my lewe ook. Ek sal later iets vir die mans soek.

Uiteindelik sien ek die katerdraal, die Westerkerk. Ek kyk kort-kort op my kaart, maar die stad se straatname is nie altyd duidelik nie en ek loop van ’n bord weg waarop Anne Frankhuis (die lang toue voor die plek het my later afgeskrik om eens te oorweeg om daar in te gaan) en die Homo-museum aangedui word, na waar ek dink ZA Huis sal wees.

Gou was ek in Keizergracht en tot my verligting sien ek toe ’n bordjie teen die muur bokant ’n hoë trap: “Zuid-Afrikahuis”. Ek is so nege-uur van my hotel af en dit was toe al naby aan etenstyd.

Die gebou is pragtig opgeknap met geld wat Naspers se Koos Bekker verskaf het. Die lieflike ou voordeur beïndruk ’n mens dadelik. Dis ’n pragtige gebou in ’n pragtige straat langs ’n pragtige grag in ’n pragtige stad.

Die bibliotekaris, Corine de Maijer, roep van iewers af dat ek met ’n steil houttrap moet opkom en ek stoom daar uit, my voete vrek seer en my binneboude nog seerder. Daar sit vier vroue en werk in ’n ruimte langs die leeskamer – in sy geheel ’n lang oopplanvertrek met boekrakke teen die mure en ’n groot venster aan die punt wat op die binneplein uitkyk. Die ou kweekhuis wat in ’n argiefruimte verander is, kan gedeeltelik gesien word. Die vloer-tot-dak-rakke trek kort-kort my aandag – ’n deel van die biblioteek, terwyl die res ná die onlangse opknappings ondergronds gestoor word.

Corine skakel die rekenaar in die leeskamer aan en maak die vindmiddelstelsel oop sodat ek vir ’n uur lank daardeur kon werk. Intussen het ’n ouerige dame aan die ander kant van die tafel kom sit en met haar eie navorsingswerk begin, en so sit ons daar terwyl net die geluide van die voëls in die bome en die gedempte stemme van die personeel langsaan gehoor word. Ek gaan deur elke moontlike portaal op hulle web en maak notas.

Dit is duidelik dat navorsers wat in die Anglo-Boereoorlog belangstel, hier baie inligting kan vind. In die eerste plek handel die bronne in die instansie hoofsaaklik oor betrekkinge tussen Nederland en Suid-Afrika, en meestal gedurende die periode waarvan die Anglo-Boereoorlogg die middelpunt vorm: dit is die primêre fokus van ZA Huis. Die Nederlandsche Zuid-Afrikaansche Spoorweg-Maatschappij (NZASM) as aanvanklike stigter van ZA Huis figureer uiteraard sterk hier.

Daar is ook bronne oor emigrasie en handelsbetrekkinge tussen Suid-Afrika en Nederland, en “wetenskaplike uitwisseling”, tesame met heelwat foto’s (van ongeveer die 1880’s) wat in ’n sogenaamde beeldbank bewaar word. Daarin is ook ’n aantal spotprente en kaarte opgeneem.

Dit neem ’n rukkie om ’n oorsigtelike beeld van die argief te kry, maar heel nuttig kan die webwerf in Engels, Afrikaans of Nederlands gelees word. Die webblad, wat via die internet besigtig kan word (http://www.zuidafrikahuis.nl/af/content/biblioteek), gee in elk geval ’n goeie blik op die inhoud en konfigurasie van die biblioteek en argief, so ook op funksies wat gereeld ter plaatse gehou word.

Die biblioteek huisves 52 000 boeke en 40 tydskrifpublikasies. Dit behels die grootste afdeling Afrikaanse literatuur in Europa. Elisabeth Eybers is ’n aparte argiefgroep toegeken, met 2 000 boeke in die Eybers Kamer. Onder “archiven van overige personen” herken ek die name van Hans Ester, EC Godée-Molsbergen en M Bokhorst.

Navorsers kan die boekery op afspraak benut. Onderwerpe wissel van ou én moderne Afrikaans, geskiedenis, kuns, politiek, teologie en gedragswetenskappe. Onderwerpe wat uitstaan, is die Jameson-inval (1895–1896), die Rebellie (1914), en personalia soos Marie Koopmans de Wet, Paul Kruger en sommige van die Boeregeneraals. Daar is ’n besonder treffende portret van Kruger in die NZASM-kamer, sou ek later sien.

Daar is nog min e-publikasies op die stelsel, maar dit sal weldra verander. Universiteite kan byvoorbeeld maklik pdf’s van relevante tesisse soontoe stuur. Aan die ander kant, as jy ’n tesis volledig van Google kan aflaai, waarom met ’n biblioteek sukkel? Hier dink ek kan ’n ingeligte vakkundige ’n rol speel deur soortgelyke temas te bondel, sodat navorsers aan verwante bronne bekendgestel word. Iets soos Google se “You may also want to read this.” Wanneer ’n navorser per rekenaar na ’n spesifieke tema soek, is hy/sy nie noodwendig bewus van al die relevante bronne nie, en dis waar fisiese argiewe of boeke nuttig is – jy loop tussen die rakke deur en sien boeke waarvan jy nie geweet het nie en wat jou navorsing kan verbreed.

Toe loop ek af na die onderste vloer en kom by ’n vertrek, oorspronklik die huis se kombuis (of in Nederlands: keuken – “kombuis” het eintlik eers “skeepskeuken” beteken), met die skoorsteen van die haard nog in een hoek sigbaar, waar ’n vrou sit en werk. Sy is Isabelle Vermeij, die funksie-organiseerder, wat my weke gelede per e-pos verwelkom het. Sy wys my ’n gedeelte van die biblioteek wat ondertoe verskuif is nadat die gebou opgeknap is.

Later kom nooi Corine my om saam met die ander onder in die sitkamer te kom sit. Hulle eet toebroodjies en drink koffie, en ek kry ook ’n beker koffie. Die direkteur, Guido van den Berg, sluit later by ons aan, maar staan gou weer op en wys na sy selfoon. Ek verduidelik aan almal wat ek daar kom doen het, nl om te sien wat hulle bronne behels en hoe hulle stelsel werk. En dan sal ek ’n paar artikels oor my besoek skryf, oa vir LitNet. Die argivaris, Jeltsje Stobbe, is nie daar nie. Corine sê sy sal reël dat Jeltsje Donderdag kom.

Terug na bo, en die navorser begin met my gesels. Sy is Ena Jansen, wat besig is om haar nuutste boek te vertaal. Sy bied baie vriendelik aan om die gebou vir my te wys en ons stap deur terwyl sy anekdotes oor die plek vertel en ook dat sy vir etlike jare die leerstoel beklee het (2002 tot 2016) en tot 30 studente op ’n keer klasgegee het, by ZA Huis en by die Vrije Universiteit van Amsterdam. Tans word dié pos deur Magriet van der Waal gevul.

ZA Huis bied ook Afrikaanse kursusse aan Nederlanders aan, en Nederlandse kursusse aan Afrikaanssprekendes, terwyl daar verblyfplek aan joernaliste verskaf word. Die bekende joernalis Murray la Vita was juis vroeër vanjaar daar en het my aangemoedig om ZA Huis te besoek toe ek begin opsien het na die geweldige logistieke uitdaging.

Later, terwyl ek al met Keizergracht langs terugstap na Leydseplein, dink ek aan ZA Huis, wat vir my soos ’n kapsule gevul met Afrikaanse literatuur is – daar is amper al my boeke selfs, en boeke van ander skryfvriende ook, en natuurlik die grotes soos Schoeman, Van Heerden, Van Niekerk, Breytenbach, Winterbach ...

Interessant, in Die Burger van 29 September, skaars ’n week na ek terug is uit Nederland, verskyn ’n artikel getiteld “België gee Afrikaans ’n kans”. Daarin word die instel van ’n nuwe leerstoel vir Afrikaans by die Universiteit van Gent bespreek: “Want terwyl die druk op Afrikaans in Suid-Afrika opbou, word in die buiteland ’n nuwe deur vir Afrikaans oopgemaak.” Dis presies wat gebeur – helaas sal Afrikaans seker as ’n uitgestorwe variant van Nederlands en Vlaams bestudeer word lank ná die laaste Afrikaner dood of in ander kulture opgeneem is?

In Schoeman se Afskeid van Europa, wat ek saamgebring het as ’n soort reisgenoot cum handleiding, vra Schoeman of daar iets soos ’n “kollektiewe literêre geheue” in Afrikaans bestaan. Hy sluit die spesifieke paragraaf af met: “En waaroor het mens dan geskryf? Meeue wenk wyd oor die water van die vywer, die fyn reën het opgehou. Van ’n nabygeleë kerk klink die angelus van twaalfuur.” Hy kon net sowel oor Afrikaans met die regeringsaanslae teen hom, die verengelsing en die kwynende bevolkingsgetalle onder sy skrywers, lesers en praters gepraat het.

Hoekom is dit belangrik? Hier, waar nog net 5% van die bevolking Afrikaners is en teen 2030 glo net 1,8% gaan wees, mag dit wees dat dit by ZA Huis is waar navorsers in die toekoms navorsing sal doen – oor ons letterkunde veral. Ek sou selfs aanbeveel dat iemand soos Koos Bekker toesien dat daar meer letterkundige bronne soontoe gaan vir bewaring. Plaaslik, weet ek, is daar minstens drie inisiatiewe aan die gang om Afrikaanse bronne te digitaliseer, maar weens kwynende hulpmiddele en getalle, gepaard met moontlike eskalering in antagonisme van regeringskant, skyn die voorsiening van “escape pods” in die buiteland ’n wyse opsie te wees. Nederland en die VSA en hulle akademiese milieu, dalk ook Rusland, mag veiliger bewaarplekke vir Afrikaans blyk te wees as Suid-Afrika self. Ek het die agteruitgang van instansies soos die NALN in Bloemfontein, die SA Nasionale Biblioteek in Kaapstad en die Nasionale Argief in verskillende provinsies self waargeneem.

Maar dit net terloops – uiteindelik gaan die uitslag afhang van ons eie wil, kreatiwiteit en samewerking in dié verband. Van die eerste twee het ons genoeg; die laaste twyfel ek nog oor, helaas.

Ek kry toe die plein, tot my verligting, en sukkel daarvandaan aan tot by die hotel in Nassaukade. Aangesien die hotel net ontbyt verskaf, is ek nadat ek gerus en gestort het, weer uit om kos te soek. Anders as in Frankryk, Italië en België, waar ek al was, sien ek geen kafees of mobiele kitskosverkopers nie.

Om darem iets nuut te probeer, gaan ek na die Hard Rock Café, maar hulle is vol, so toe is ek langsaan na die Ierse Pub. Ek sit buite. Dis al donker – dis immers amper winter by hulle, hoewel glad nie koud nie. Die kelnerin neem my bestelling: ’n bier en Irish stew. Later, terwyl ek my bier drink, kom ’n klein mannetjie met die kos en vra of ek die stew bestel het. Ek maak plek op die tafel dat hy dit kan neersit en hy vra ergerlik: “Is that a yes?” Ek kyk hom so en dink, waarvoor sou ek ...? Maar ek los dit. Die luidrugtige dronkies aan my regterkant kan hom ’n oorkonkel gee as hulle wil.

Later is ek terug hotel toe, heeltyd op my pasoppens vir die ewige fietse, en loop verby die hotel, besef later ek is mos nou al weer op ’n dwaalspoor en draai om, met fietse wat nou van voor af kom, so ek sien hulle ten minste. By die hotel gekom, gebruik ek van die munte wat Petro my gegee het en koop ’n botteltjie water en ’n blikkie Coke uit die muntmasjien naby die hysbak. Amsterdam se kraanwater is drinkbaar, maar smaak tog effe vreemd.

Ek stort en gaan sit toe by die tafel en lees aan die dik Joyce Kotzè-roman Wintersrust wat ek saamgebring het, want ek moet dit resenseer as ek terug is in Suid-Afrika. Dis nie sleg geskryf nie en die karakters is interessant, maar ek is moeg en vorder nie veel nie.

Woensdag 20 September. Ek laat my voete eers rus en maak aantekeninge van wat ek gedoen het op my rekenaar, vir latere verwysing. Ek bly in die hotel ná ontbyt, maar gaan teen die middag na die Rijksmuseum. Ek loop deur die Rijksmuseum se binneplein, bekyk die rye toeriste daar en by die Van Gogh Museum, hoop ek sal tog weer eendag daar kom en kan ingaan, oorweeg dit om by ’n mobiele winkel ’n Van Gogh-T-hemp te koop en besluit daarteen. Miskien later, sou ek weer hier verbykom. Ek verwonder my aan die talle mense met lang oorjasse, want die lug is wel betrokke, maar glad nie koud nie.

Ek loop aan tot ek ’n pub-tipe plek sien: Small Talk Coffee Corner. Piepklein – die meeste klante sit op die sypaadjie by tafeltjies, maar jy kan met ’n steil trap op na bo. Ek gaan sit daar en bestel ’n Angusburger teen 15,50 euro, en as ek my skrif in my notaboekie reg ontsyfer, ’n Warsteiner Premium Pilsener Small, teen 2,50 euro. Maal alles met 15 ... ek dink liewer nie daaraan nie.

Ek vra die ou kelnerin oor die trems daar en oor die sigaarwinkel langsaan.

Nee, sê sy, sy was nog nooit by daardie plek in nie. Ek dog sjoe, regtig? Jy weet niks van die winkel reg langs jou nie? En jy lyk asof jy al dekades hier kan wees? Maar later loop ek uit en vergeet van die sigaarplek. Ek neem ’n ander roete terug hotel toe, wat deur Vondelpark gaan, en kyk weer na die standbeeld van die groot digter wat sedert 1867 daar sit, diep denkende met ’n skryfding gereed in sy hand.

Die aand is ek weer na die pizzaplek en probeer ’n ander soort pizza, weer met twee biere, dieselfde kelnerin, en weer gee ek haar ’n stewige fooitjie. Ek koop daarna twee T-hemde by ’n winkel daar naby, verbaas dat dit nog oop is, want die kuriowinkel langsaan is elke keer al toe as ek daar kom. Die een hemp sê “Good boys go to heaven, bad boys go to Amsterdam.” Die ander een het ’n woordspeling oor daggarook op die bors. Toe loop ek terug hotel toe. Môre sal ek weer die pad na ZA Huis aandurf, maar ek glo ek sal dié slag beter vaar. Ek sal ook ’n sweetpakbroek aantrek sonder ’n onderbroek, en Zambuksalf aansmeer waar nodig.

Donderdag 21 September. Ná brekfis is ek weer na Leydseplein, dié slag reguit soontoe. Ek vra iemand raad; sy sê: “Nee, daar om die draai is waar jy moet wag.” Ek kom daar, sien geen aanduiding van my roete op die borde nie en vra nog mense. Hulle sê ek moet terugloop na die vorige halte waar ek pas vandaan gekom het. Ek doen dit en vra nog iemand daar, wat my weer terugverwys na die om-die-draai-halte, maar ek bly staan. Ek klim op die trem en die drywer sê ja, ek kon ook trems 1 en 2 geneem het. Hy sal my sê waar die Dam, naby Westerkerk, is en dan kan ek daar afklim. Dis ook naby ZA Huis. Ek sit rustig en later stop die trem. Die drywer sê ek sal moet afklim, want dis die laaste stop. Hy glimlag terwyl hy dit sê, asof hy ’n mooi poets gebak het.

Ek klim af en sien ek is lankal verby my afklimplek, naamlik al by Centraal Station. Ek kyk op my kaart en dit lyk asof as ek met Prins Hendrikkade langs hou, ek Keizergracht sal kry en dan suidwaarts daarmee tot by ZA Huis kan kom. Ek loop verder, maar sien nie ’n bord wat Keizergracht aandui nie. Ek vra ’n vrou waar is die straat, en sy wys reguit aan. Ek loop verder, gaan staan by ’n bruggie en kyk op my kaart. Sy kom verby en wys weer: reguit aan. Ek loop maar met my pynende voete agter haar aan, maar sy loop onder my uit. Mettertyd sien ek dat ZA Huis voor my is. Wat sy nie gesê het nie, is dat ek reeds in Keizergracht is!

Dis nog vroeg en ek loop verby ZA Huis tot by die hoek, gaan later op ’n bank sit en neem ’n paar foto’s. Toe loop ek terug en sien ’n vrou op ’n fiets aankom. Dis Ena Jansen. Sy ry reg langs my verby – ek kyk reg in haar gesig – met die heuwel af na ZA Huis. En verby, weg. Ek sien haar nie weer nie, tot my spyt.

Ek druk die klokkie en gaan in, verlig dat ek betyds is – dis halfelf, en ek sal vir Corney Keller, die genealoog wat my per e-pos inligting oor die Versters in Holland kon verskaf, elfuur hier ontmoet. En ook die argivaris, Jeltsje. Sy kom juis in die gang afgestap toe ek ingaan en vra of sy my kan help. Ek vra haar: “Wie is u?” “Ek is die argivaris,” sê sy, met ’n verwarde uitdrukking, en ek glimlag en sê: “Dan is jy die persoon wat ek soek.” En so ontmoet ons toe mekaar. Sy sê sy sal oor ’n uur beskikbaar wees, want sy gaan net iets afhandel.

Ek loop toe op en wil net by die lang rooi leestafel gaan sit toe iemand by die deur inkom en redelik luidrugtig met Corine begin praat. Ek vermoed dis Corney Keller, en dit is toe hy – bonkig, bebaard en duidelik ’n ekstrovert, ongeveer 35 jaar oud.

Corney is ’n vriend van Petro en hy het heelwat inligting oor die Versters aan my geë-pos. Ons besluit om middagete iewers te gaan nuttig. Dr Van den Berg nooi my ook vir “borreltjies”, wat Jeltsje vertaal as “drankies”, by ’n restaurant. Ek sal my draaie fyn moet sny om vieruur terug te wees vir die “borreltjies”.

Sy gaan wys ons toe die argief – ’n ou kweekhuis in die agterplaas wat pragtig in ’n moderne argiefbewaarplek omskep is - en gesels heel lekker; sy vertel oa dat sy haar doktorsgraad in argeologie het en haar spesialisveld eintlik Oeritaliaanse artefakte is. Sy beloof ook om inligting aan my te e-pos daaroor, wat ek vir my artikel kan gebruik. (Dit het sy wel gedoen.) Corney bied toe aan dat ons by McDonald’s gaan eet, wat redelik goedkoop is. Hy weet natuurlik goed wat die rand-euro-verhouding is.

Toe ons uiteindelik uitmekaar gaan, moes ek my inderdaad haas om voor vier by ZA Huis te kom.

Daar gekom, hoor ek die hele personeel is genooi, en ek moes wag tot almal klaar gewerk het.

Ons loop toe in ’n groep na die restaurant, net een blok daarvandaan. Dr Van den Berg vra wat almal wil drink. Ek vra ’n bier, die vroue vra wyn, en later bestel hy kos wat almal uit een bord van kan eet – nachos-tjips en souse.

Maar so gaan daar ’n uur of wat verby, en toe is ek terug hotel toe. Ek is later die aand weer na die Hard Rock en kry ’n sitplek bo. Ek het na die jong paartjies weerskante van my gekyk en geluister en by die venster uitgestaar, nogal redelik verdrietig, en ver van die huis af. Ek onthou hoe ek gevoel het, maar is nie seker wat ek geëet het nie. Robert Heinlein se Stranger in a strange land het heeltyd in my gedagtes gemaal.

Ek het inderdaad soos ’n alien gevoel. Hoe Jan Rabie, Uys Krige en hulle tydgenote – ook natuurlik Schoeman – destyds soveel plesier uit alleenreis deur Europa gekry het, verstaan ek nie. Of het dit iets met tydsgees te make? Nee, besluit ek, eerder met persoonlikheid. Ek is een wat daarvan hou om ervarings te deel. Die ding is, ’n mens moet steeds die beste van ’n saak maak en ek besef goed dat ek uiters bevoorreg is, stoksielalleen al dan nie.

Toe ek later gaan water koop by die hotel se muntmasjien, sit die Australiërs steeds en kaart speel in die eethoekie, en die een ou sê my: “Ja, ons was darem tussen ontbyt en aandete hier uit.” Ek het net gewuif. Dis seker hulle saak as hulle nie die mooi stad verken nie, maar dit verstom my tog dat hulle die vervelige hoekie verkies nadat hulle veel verder as ek gereis het om hier te kom.

Vrydagoggend vroeg word ek wakker met ’n wekker wat in my brein loei: jig in my linkervoet, op die bal van die voet onder die groottoon. Ek dink: “Nou’s daar gróót probleme.” Maar ek het geen keuse nie, ek móét gaan, want Saterdagoggend tienuur moet ek al lughawe toe. Daar is net nie meer kans vir uitstel nie. Na brekfis, omtrent halfnege, is ek kruppel-kruppel na Leydseplein, klim op trem nommer 1 en klim by die Centraal Station af. Daarvandaan ry ek per bus na die Skeepvaartmuseum, dankbaar dat ek nie ver hoef te loop nie, want die bus laai my voor die museum af.

Daar het ek foto’s geneem van skepe van die Jacobus-tyd en ook aan boord die replika-VOC-skip, Die Amsterdam (in 1749 het die oorspronklike skip gesink en van 1985 tot 1991 is die replika gebou) gegaan. Ek het my verwonder aan die vaartuie, die instrumente, soos sekstante en kompasse, die wapentuig; dus veral die tegnologie van so lank gelede, terwyl ek heeltyd bewus was van die ondernemingsgees, dapperheid en uithouvermoë wat daardie mense aan die dag gelê het. Dis jammer dat hulle dade vandag eensydig afgemaak word as negatief – uitbuiting, onderdrukking, gierigheid, in kort: “kolonialisme”.

Die feit bly staan, dit het besondere dryfkrag en serebrale eienskappe geverg om hoegenaamd in ’n posisie te kon kom om te doen wat hulle gedoen het. Ek het nie tyd gehad om die kunsmuseums te besoek nie, en terwyl ek daar deurgestap het, het dit by my opgekom dat die objekte van die Nederlandse kultuur deels die gevolg van die sterk ekonomiese toestande wat die Goue Eeu van kolonialisme was. Die duisende amptenare van die VOC, ook die talle wat in skipbreuke van hulle groot vlote (4 785 skepe altesaam) vergaan het, het bygedra tot die pragtige geboue en ander kunswerke wat ons vandag bewonder. Sonder hulle sou Amsterdam beslis nie die indrukwekkende stad wees wat dit nou is, en al lankal is, nie.

Karel Schoeman het in sy Handelsryk in die Ooste geskryf: “Oor die loop van byna twee eeue het ongeveer ’n miljoen mense by die Kompanjie in diens getree as matrose, soldate, arbeiders, vakmanne en administratiewe hulpkragte, sonder wie hy nooit sy taak sou kon uitgevoer het nie, naas die tienduisende wat betrokke was by verskillende aspekte van die bou en uitrusting van sy skepe, soos die vervaardigers van seildoek, kabels, toue en ankers, of die leweransiers van klerasie en voedingsmiddele. Deur hierdie mense en hul familielede, afhanklikes en vriende het feitlik elke inwoner van die Republiek gedurende die sewentiende en agtiende eeu [...] op een of ander manier met die VOC in verbinding gestaan [...].”

Die geskiedenis, oftewel latere generasies, oordeel egter uit eie perspektiewe en vooroordele, eie tydgees, eie emosionele laste. Wat ’n eeu gelede geldig was, is nou tot snuif getrap, en wat sal daarvan oor wees oor nóg honderd jaar?

Want hierby kan natuurlik gevoeg word die bydraes van inheemse mense en slawe waar die VOC ook al bedrywig was, maar Schoeman verwys spesifiek na die betrokkenheid van Nederlanders. En implisiet daarmee saam die voordele wat die hedendaagse Nederlander in hierdie mooi, gladwerkende masjien wat dié land nou is, uit die VOC se bedrywighede kon kry.

Schoeman se Afskeid van Europa sluit twee hoofstukke oor Amsterdam in en ek haal daaruit aan: “En Amsterdam, ten slotte? Gragte [jy kan hulle nie mis nie!], die Rijksmuseum en die Van Gogh Museum [indrukwekkend van buite, helaas van binne het ek hulle nie gesien nie], die Anne Frankhuis [ek het die lange toue daar net een kyk gegee en verkas], die bordele van die Walletjies [dit het my nie geïnteresseer nie; ek het sowat 20 treë daarvan verbygestap], en Indonesiese restourante?” (Ek het ook nie daar uitgekom nie.)

Soos met Schoeman die geval was, het ek ook nie in Madam Tussaud en talle museums wat oorsese plekke uitbeeld, soos Hollywood, Las Vegas en Bangkok, belang gestel nie. Ek is wel spyt ek het nie die McKroket, die McDonald’s-weergawe van die Hollandse croquette, geproe nie – Schoeman noem dit pertinent. Hy skryf ook van die “Nederlandse stemme en tongval, die skilderye van Vermeer, gragtehuise, en reguit slote, glansend in die lig, en ’n lae horison met ’n toring of windmeule wat daarteen uitstaan” wat hom nogmaals getref het, soos dit 40 jaar tevore nog met sy vorige vertoef daar was. Ook die “brûe, en draaiorrels [ek het niks daarvan daar gesien nie, wel een in Den Bosch], en fietse en trems”, en sê dis nou nader aan die alledaagse werklikhede as tevore toe die “pittoreske volksdrag, klompe en hondekarretjies” tiperend was.

Trems het ek baie gesien en ook gery, en ek het gedink aan Schoeman se beskrywing van “mense wat in die druilerigheid wag op ’n trem” – die weer was gelukkig nooit regtig “druilerig” tydens my besoek nie. Ek het ook nie een regte houtklomp gesien nie, wel nagemaaktes van oa wol, naamlik pantoffels. Hy skryf ook: “Oënskynlik moeiteloos. Feitlik geluidloos, gly die opeenvolgende treine deur die dynserige landskap. Karre met ligte aangeskakel in die grouheid van die middag; voetgangers met sambrele in die strate. Amsterdam.” Ek het min van die wintertonele ervaar, maar ek kan my dit wel maklik voorstel. As Kapenaar sou niks minder as sneeu my in elk geval verwonder het nie.

Nog Schoeman: “Die Apollolaan met sy bomerye, en verkeer wat langs die bane en die verkleurende rye bome verbystoom, en vlak by my eie beskeie hotel ...” Ek het Apollolaan darem gesien toe ek teruggery het na die lughawe, hoewel die bome dié tyd van die jaar groen is. Dis inderdaad ’n baie lang laning, nie so breed soos Vondelpark nie, en ek het geen idee gehad in watter hotel Schoeman tuisgegaan het, en of syne meer beskeie as myne kon wees nie!

Schoeman noem boekwinkels soos Athenaeum aan die Spui, wat ek net van buite gesien het terwyl ek op die trem was. Daar moet heelwat boekwinkels in Amsterdam wees – Wiki sê meer as 30 goeies, want ek het etlikes so in die verbygaan gesien, ook ’n winkel wat strokiesboeke invoer, met ’n opblaaspop wat soos Spider-Man lyk wat by die deur uithang. Het ek die nodige geld gehad, sou ek by almal ingegaan het. Maar ek het eerder uitgebly – ek ken myself. Ek het ook die Grand Café by Leydseplein gesien waarvan Schoeman geskryf het, waar allerlei skrywers en ander kunstenaars destyds uitgehang het. Ek is om dieselfde rede as hier bo nie daar in nie.

Net die vorige dag het Corney Keller aan my genoem dat die sogenaamde Calvinistiese lewensuitkyk sekerlik ’n belangrike rede is vir die prestasies van die Nederlanders, en toe ek van die foto’s wat ek daar geneem het op Facebook plaas, het mense opgemerk dat dit verstommend skoon lyk. Ek het nie eens daaraan gedink nie, maar dis waar: in die strate was nie eens ’n Coke-doppie te sien nie, en in die gragte het niks behalwe bote gedryf nie. Historici meen vandag dat die leerstellings van Ulrich Zwingli (oorlede 1531) eintlik ’n sterk invloed op die Afrikaners as volk gehad het, en nie Johannes Calvyn (oorlede 1564) nie, maar vandag word hardwerkendheid en hoë standaarde in die algemeen as Calvinisties beskou, en as sulks kon ek daardie tradisie steeds as springlewendig in Nederland waarneem.

Ek glo dat die Nederlanders wel al van die negatiewe aspekte, soos kleinburgerlike verkramptheid, afgeskud het – hulle word immers algemeen as baie verlig bestempel, terwyl die invloed van ander kulture ook ’n impak moet hê – die duisende Oosterlinge en Afrikane wat ’n mens op straat sien en van Amsterdam ’n kosmopolitiese stad maak.

Schoeman skryf in bg boek dat gayhuwelike nou in Spanje, Portugal, Suid-Afrika en Argentinië wettig is, maar ook van “Ou vooroordele, griewe, wrok en onverdraagsaamheid wat steeds gekoester word, oorgedra, oorgeërf en bestendig.” Later in sy boek noem hy ook die kleinburgerlikheid van die Nederlanders ’n wêreld met ’n beperkte visie, ’n stywe, formele wêreld van vorms en vormlikhede waarin skynheiligheid nie ontbreek nie. Maar, sê hy, “basiese ordentlikheid” is darem een van die goeie nalatenskap van Nederlandse ekonomiese welvaart, soos wat die Goue Eeu daar meegebring het. Dit het ek ook so ervaar. Hulle sal jou baie beleefd op ’n wild goose chase stuur.

Net voordat ek die Skeepsboumuseum sou verlaat, het ek eers twee boeke by die winkel daar gekoop, asook ’n klein kompas ter nagedagtenis aan Jacobus, en toe by hulle biblioteek ingestap. Die twee persone aan diens het my eers aangestaar toe ek (in Engels – die Nederlanders praat goeie Engels, maar Afrikaanse se vreemde tongval verwar hulle meestal) vra of ek dalk enige illustrasies van spesifieke skepe daar kan vind.

Ek het die name BuitenzorgMarienbosch en Thooren Vliet verskaf en hulle het op hulle databasis gesoek. Nie lank nie, en ... ’n treffer! Die skip Buyten Zorg – so dáár gespel – is deur argeoloë opgegrawe (dit het met sy derde vaart, in 1759, gesink – vier jaar nadat Jacobus daarop was) en hulle het ’n verslag oor hul bevindinge saamgestel, met enkele illustrasies daarby. Gelukkig, het ek gedink – gelukkig vir my om die inligting te kry en gelukkig vir Jacobus dat die skip nie op sy eerste vaart vergaan het nie. En natuurlik vir al die Verster-nakomelinge in Suid-Afrika!

Heel tevrede met wat ek by die Skeepsboumuseum gekry en gesien het, is ek daar weg. Die jig in my linkervoet het op hierdie stadium erg gepla, en ek het swaar gestap.

’n Ou Hollander by die bushalte oortuig my eers dat ek nie ’n buskaartjie op die bus mag koop nie, en ek sukkel verder, maar nadat die tweede bus verbygedreun het, klim ek op en ja wragtig, jy kán die kaartjie op die bus koop. Die bestuurder sê egter nee wat, dis nou al so naby, jy kan gratis saamry.

Die spoorwegstasie was ’n warboel van mense en kennisgewings, maar ek het ’n retoerkaartjie gekoop en ’n sitplek gekry op die trein, wat nogal aan die Gautrein herinner. Soos oral, sien ek baie jongmense, en hersien ek my beperkte visie van Nederlandse vroue – ek het inderdaad baie gesien wat net so mooi as die Franse mademoiselles is. Corney beweer Nederlandse meisies is mooier as die Franse, maar ek dink hy is tog bevooroordeeld!

Die landskap was meestal gelyk en groen, met beeste en skape en af en toe ’n windmeul te sien. Langs my het twee mans gesit en gesels, in Engels, eers oor filosofie, en later oor apartheid, maar nogal op ’n heel ewewigtige manier. Dit skyn uit hulle menings en dié van ander met wie ek daar gesels het, dat die post-Mandela-skandes van veral Zuma ’n ander perspektief op die Europese begrip van Suid-Afrika plaas. Só kronkel die geskiedenis maar aan, het ek gedink, dié Afrika- “neef” wat daar langs hulle sit en luister wat húlle dink, hulle wat so lank en so ver verwyder is van wat hulle voorsate agtergelaat het, 13 000 km daarvandaan.

Toe ek op ‘s-Hertogenbosch se stasie uitklim, het ek nie geweet watter kant toe nie. Gou het ’n omstander my reggehelp en ek het na die straat waarin ek vermoed Jacobus-hulle gewoon het, geloop. My voet was al baie seer, maar ek sou kruip ook as dit nodig sou wees – ek was toe so naby, ek móés daar uitkom. Die kaart in die boek oor Nederland wat ek saamgedra het, was nie baie spesifiek nie en ek het eers by die straat verby gestap, maar met ’n ompad en nog ’n inwoner se hulp weer daar uitgekom en foto’s geneem.

Ek het besef dis ’n groot onwaarskynlikheid om Den Gulden Appel – ’n huis wat aan hulle behoort het – te vind, ná al die jare. Daar was wel ’n Goude Hond, maar nee, die huis wat aan die Versters behoort het, was nie meer daar nie, of dra nie meer daardie naam nie. Ek het ook in die strate waarmee die Versters verbind word, nl. Water- en Tolbrughstrate gekyk, maar niks gekry nie.

Corney het my ook daarop gewys dat begraafplase ná ’n sekere aantal jare platgestoot word in Nederland, so al het ek geweet Jacobus se ouers is in die Kruiskerk-kerkhof begrawe, het dit nie meer bestaan nie. Volgens die genoemde boek oor Nederland (The rough ride to the Netherlands) is die dorpsplein “as typical of old Dutch village squares as you will find anywhere”, dus het ek ’n rukkie daar gaan sit en die atmosfeer ingeneem. Die hele tyd het ek gedink: Hier het Jacobus ook geloop, op hierdie plekkie in die heelal, só lank gelede, en sommige van die geboue het hy seker ook gesien. Ongelooflik.

Die plein waar die weeklikse mark vir eeue gehou is, het aan die een kant ’n aantal eet- en drinkplekke, terwyl daar winkels en ander geboue rondom gerangskik is – soos die stadshuis, asook De Moriaan, die oudste baksteengebou in Nederland, gebou in die 13de eeu. Die toring van die St Janskatedraal sien ek ook kort-kort uitsteek. Soos ek rondbeweeg, lyk dit amper asof hy sy hand opsteek en sê: “Kom kyk na my,” maar ek het ander prioriteite. Ek was reeds goed honger, want dit was reeds lankal etenstyd, en ek loop toe by een pub in, maar nee, sê die kelnerin, hulle bedien net drank. Oral was die plekke propvol mense en ek het gewonder hoeveel van hulle toeriste is, dus het ek na die stasie teruggeloop, stadig, pynlik, en spyt dat ek moes gaan. By die stasie het ek ’n sjokolade en ’n pakkie skyfies gekoop.

Toe vra ek ’n veiligheidswag na watter perron ek moes gaan en hy sê die lyn wat in Amsterdam-Suid eindig. Groot fout. Ek eindig toe letterlik in Amsterdam-Suid – daar was nêrens om vroeër af te klim nie – en moes daarvandaan weer ’n metrobus na Centraal Station, waar ek gedink het ek kan afklim, haal. Nog ekstra stapwerk, nog ekstra onkoste. Van Centraal Station het ek ’n trem gekry en by Leydseplein afgeklim, wat redelik naby aan my hotel is, lekker voetseer en honger, maar tog in my skik met wat ek gesien en gevind het. Veral die Skeepvaartmuseum was ’n heerlike ervaring en ek kon mooi foto’s neem.

Saterdagoggend 23 September. My voete is nog seer, veral die linkervoet, maar ek drink pynpille en pak in. Die vrou by die toonbank voor het gesê ek moenie met die gewone shuttle ry nie, dis immers 17 euro, ek moet die lughawe se eie shuttle neem, dis net 5 euro. Die verskil is dat ek drie blokke moet loop na waar die lughawe se bussie mense optel.

Ná brekfis, en lyk my die Australiërs is al vort, besluit ek dis nou maar so, ek sleep daai hengse tas tot daar, met my handbagasie op my rug in die rugsak. Die bus kom redelik gou en ek is op met die groot blou tas en al. Die bus ry eers ’n redelike draai en ek kyk maar hoe lyk die dele van Amsterdam wat ek nog nie gesien het nie. Toe die bus stop, moet ek wag vir ’n spul lugwaardinne wat eerste afklim, en daar begin die bus trek. Ek skree benoud “Oi oi oi, stop!” en iemand sê vir die drywer om te stop. Holderstebolder is ek af en nou soek ek die plek waar Turkish Airlines inboek.

Ek kry die inboekplek gou, maar soek lank na waar ek heen moet gaan om by die lounge uit te kom. Op ’n stadium kry ek ’n groep Afrikaners wat by ’n bord staan en wonder waarheen nou en ek vra waarvandaan hulle is. “Pretoria, Oom,” sê die een. Hulle is op pad na Switserland. Later sien ek hulle weer en besef ek loop al weer in sirkels. Ek vra ’n werker daar en sy wys bra kortaf in die algemene rigting waarin ek moet gaan.

Later vra ek drie mans wat soos vlieëniers lyk, sommer in Afrikaans, en die een verduidelik terug in Hollands sonder om ’n oog te knip. Ek moes ver stap, maar ek kry later ’n lounge. Nee, sê die vrou egter, nie hiér nie, so en so tot jy die Starbucks sign sien, dan gaan jy een vloer op.

Ek stap my kapot, kom by Starbucks aan. Daar is ’n hysbak, maar hy gaan net af. Ek vra ’n werknemer by ’n soort CNA daar en hy sê hy weet nie. Ek loop verby hom en daar sien ek nog ’n hysbak. Ek dink jirre, hoe werk jy tien treë van ’n hysbak af en weet nie daarvan nie? Op met die hysbak, en uiteindelik kom ek by die lounge aan.

Ek vra ’n mooi blondine agter die toonbank hoe ver hiervandaan na die checkout point. “Oh, about 15 minutes, one floor down,” sê sy. My moed sak in my skoene, maar ek gaan in, kry ’n sitplek en eet iets. Nog twee uur voor ek vertrek. Ek sit daar en lees aan die roman, kyk rond en tel die minute af. Ek gee myself ’n halfuur om by die vertrekpunt uit te kom, wat toe ook die geval is.

Ek kry ’n sitplek tussen hordes mense en sien ’n vreeslike vet vrou en ’n seun kom aangewaggel. Die beamptes wys hulle moet dadelik in ’n bus klim. Amerikaners. Ek dink ai, kon dié mense nie beplan dat hulle betyds is nie, nou wag die ander mense almal net vir hulle! Ek sit en kyk op my horlosie. Nog sowat ’n halfuur.

Later hoor ek die beamptes se “Last call for Istanbul”. Ek kry ’n vreemde voorgevoel en staan op, en ek vra die beampte “Which flight?” Hy hou aan net sê “Istanbul.” Ek sê “But, is it flight TK 1959?” “Yes,” antwoord sy maat. “My liewe genadige g...” dink ek. Dis my vlug. Nou wag almal vir mý! Volgens die kennisgewingbord is dit nog hopeloos te vroeg, maar niemand het afgekondig dat enigiets verander het nie. Ek is so vinnig as my seer voete dit toelaat daar uit en op die bus. En daar sit die dik vrou en haar kind ook – almal wag inderdaad net vir my.

Drie uur na Istanbul, en ek kry sommer twee vollengteflieks klaar op my eie klein TV-skerm. Ek kan tot my spyt nie enige alkohol inneem nie, en daar is, soos by die lounges, ’n oorvloed beskikbaar. Op Istanbul, weer die gewone gesukkel om die lounge te kry. Ek onthou hoe vol dit was toe ek gekom het, hoewel dit enorm groot is. Nou is dit egter al laataand en ek hoop die plek is nie so vol nie. Nadat ek eers weer my alie af gestap het, sien ek die ingang. Ek kyk eers op die elektroniese bord na watter vertrekpunt ek moet gaan as ek hier klaar is, maar dis nog sewe uur vorentoe en nog nie eens op die bord nie. Ek kry gelukkig gou ’n sitplek, nie te ver van die toilette nie, nie te ver van die yskas met allerhande sappe nie, en ek het ook die groot TV-skerms in sig. Hier moet ek nou nes skop en ’n halwe dag lank sit. Ten minste kon ek ’n diep duik in die 570 bladsye van Wintersrust maak.

Ek hou my avokadogroen seilonderbaadjie met die baie sakke aan waarin my ID en paspoort, geld en vlugbewys is, maar as ek moet opstaan, los ek my handbagasie op my sitplek, anders is dit gevat voor ek drie treë weg is. Intussen begin die lounge stadigaan leër raak en ek verkneukel my aan die Japannese vroue wat kort-kort met opgehoopte borde kos kom sit. Die een se man lag lekker en proe saam.

Dalk omdat dit ’n Moslemland is, sien ek min mense by die kroegie, en ek kyk liewer weg van die duur drank wat daar uitgestal word, alles gratis. Ek hou maar by lemoensap en water, eet later ’n paar stukkies kos – weet nie wat alles is nie, maar ek herken darem die etlike tipes olywe.

Die ure sleep verby en die lounge raak later redelik leeg. Terwyl ek daar was, het ek vier buurmanne gehad wat die bank reg teenaan myne beset het – almal Turke, raai ek. Twee is vriendelik, maar ons knik net vir mekaar en twee ignoreer my en loop net skielik. Teen kwart oor een die oggend staan ek op en loop na die vertrekpunt, wat natuurlik ’n halwe sabbatsreis weg is en op ’n ander vloer. My vliegkaartjie sê ons vlieg twee-uur en ek kom by die vertrekpunt aan, weer eens volgepak, ’n bont see van mense, en kry darem ’n sitplek reg agter in die hoek.

Oorkant my sit ’n ouerige man en slaap. Sy vrou sit langs hom en begin praat met een van hulle twee dogters, heel aanvallige meisies van sowat 20. Hulle praat Afrikaans. Ek sit en luister ’n rukkie na hulle geklets en vra toe of hulle ook Kaapstad toe vlieg. Die man sê ja, en ek dink mooi so, nou volg ek hulle. Een toe dit tyd raak om in te val, is ek kort op hulle hakke, waarna hulle na die stertkant van die vliegtuig draai en ek na voor.

Hierdie keer het ek ’n Turk as buurman in die middelste ry sitplekke en hy doen sy bes om my te ignoreer. Ook loop hy voor my by die toilet in terwyl ek daar staan en wag. Jou ou boks, dink ek, en toe ek hom later by Kaapstad Internasionaal sien, kyk ek dwarsdeur hom. Nou is hy duidelik verdwaal en ek half arrogant al van moegheid en ’n mate van selfvertroue – ek weet nou alles wat ek moet weet, tot by die huis.

Maar dié nag lê ek en agteroor en kyk die een fliek na die ander, seker vyf altesaam, en raak glad nie vaak nie. Ek kan nie eens onthou of ek iewers ingedut het nie. Die eerste drankies en kos het vroeg gekom – dis nou sappe en broodjies en allerhande vrugtes. En kort daarna die menu, en voor die hoofgereg ’n hengse voorgereg.

My voete het al twee redelik geswel, veral die een met die jig, maar ek het hulle kort-kort beweeg en gemasseer. Teen twaalfuur Sondagmiddag land ons, ’n taamlik swak landing wat die passasiers na mekaar laat loer het, maar ons was uiteindelik terug op Afrika se grond.

Voordat ek dié aand die bedlampie afskakel, blaai ek nog een maal deur Schoeman se boek. Hy skryf: “Moet niks vra, niks verwag nie. Wág. Neem waar.” Ek het. Later skryf hy ook: “Mens het nie baie gebaar of beduie nodig nie. Mens benodig nie baie woorde nie.”

Wel, dááraan sal ek moet werk.

*

Amsterdam, naby Leydseplein

Den Bosch, rustig en skoon

Dorpsplein, Den Bosch

Voor die Rijksmuseum

ZA Huis, voor die ingang

Die leeskamer, ZA Huis, met navorsers: Eep Francken (links) en G Schutte)

Die argief van buite, ZA Huis

Die argief van binne, ZA Huis

Ondergrondse boekstoor, ZA Huis

Biblioteek van die Skeepvaartmuseum, Amsterdam

Buro: NM
  • 0
Top