LitNet-argief: ’n Rit met die Bloutrein

  • 0

Wat vir Suid-Afrikaners luuks en buitensporig is, mag dalk net eintlik ’n lekker bederf wees. Daar is egter een vereiste: rondsoek en snuffel op webwerwe en by reisagente. So het ek dit al lank in my agterkop gehad om ’n reisagentskap se spesiale pakket vir die Bloutrein op die proef te stel.

Dit het met ’n e-pos begin. Toe twee telefoonoproepe en ’n geldoordrag, en binne ’n week het ons al ons reisdokumente gehad. En die prys: net bietjie meer as een sitplek in die luukser klas. Twee beddens in die luukse klas, etes en drankies alles ingesluit, asook twee nagte by ’n hotel aan die Kaapse Waterfront. Ek moet erken dat ons eintlik vier nagte in Stellenbosch kon kies, wat nog goedkoper sou kos … maar het dit te laat besef.

Maandag 25 Junie meld ons aan by die Bloutrein se vertreksaal in Pretoria. Leer en duursame houtmeubels begroet ons. Maar die koffiereuk trek my na ’n stomende koppie koffie op dié koue oggend.

Na ’n geselsie met medepassasiers neem ons butlers ons na ons kompartemente. Ons is gelukkig om naby die middel van die trein geplaas te word. Gemak begroet ons – en ’n nuwe belewenis in treinry. Alles wat jy in die brosjures lees, is waar.

Belangriker: my eerste vraag word deur die kelner in die club lounge (rooksaal) beantwoord. Die trein doen nie aan in Johannesburg nie. By Germiston wyk ons af by President … op die spoor Vereeniging. Op pad ry ons verby die Oos-Londen- en Port Elizabeth-treine op pad na die Goudstad. En stasies soos Redan, Meyerton en Natalspruit flits verby.

Die slegte nuus is dat ons verby Midvaal se oop toiletveld ry. En die grusame Vaaldriehoek-busongeluk. Skuins voor Vereeniging draai die trein weer regs … Potch toe en ons eerste stop: Klerksdorp. Ongelukkig is ons reeds 90 minute vertraag by Klerksdorp weens herstelwerk aan die spoorlyn.

En so tussen gaan rook, ’n koffie en middagete verneem ons dat die twee lokomotiewe – klas 14E, waarvan net 19 vervaardig is – die trein tot in die Kaap aandryf. Dit is omdat dit ’n tweeledige kragvoer het. Een aspek van die verlede word dus by die venster uitgegooi – geen wisseling van lokomotiewe by Kimberley, De Aar of Beaufort-Wes nie.

Tog word daar aan die romantiese verlede herinner met ’n besoek aan die Groot Gat. Dit is egter nie vir ons beskore nie – dit is reeds donker en die trein is laat. Maar die trein moet nog steeds vir bykans twee uur op Kimberley staan. Sy tenks moet gevul word – met die 31 000 liter wat dit benodig. Die proses word in Beaufort-Wes herhaal.

Uit Kimberley verby die bekende Beaconsfield-depot en dis aansit vir aandete. In ’n mate stel die ete teleur. Dit is egter die koffie, geselskap en sigare in die Club Lounge wat alles die moeite werd maak.

Skuins na tien is dit slaaptyd. En die bed is iets wat vroulief in vervoering het. In teensteling met die beddens wat sigbaar is in ander treine (die Meyl en Premier Classe), is ons beddens mooi as deel van die muur versteek. ’n Badkamer langs die klerekas en pakplek aan die kant bo.

Weens die ontwerp van die wiele hoor jy nie die klik-klak-klank nie. Dit is ’n plesierige slaap. Die enigste klanksteurnis wat jy hoor, is waar spore kruis of uitloop.

Die stilte en stemme in die vroeë oggendure ontspoor jou slaap. ’n Loer deur die venster en jy sien dit is Beaufort-Wes. Weer die duvet nadergetrek en ingesluimer.

Die oggend is maar weer ’n herhaling van die vorige dag. Eetsaal, club lounge, kompartement. Op Worcester kry ons Die Burger en Cape Times – en lees van die gru-busongeluk die vorige dag.

Tog is die aanloop Kaapstad toe anders as met gewone treine. Jy kan uit die gemak van jou stoel in die club lounge die Karoo sien wegflits. Na die Hexton-tonnel is jy in die Hexriviervallei en jy kan die Kaap ruik. Die sneeubedekte bergtoppe langs die pad herinner jou daaraan dat dit winter is. Van Worcester af is dit Kaap toe – geen voorval nie en ons is betyds. ’n Ervaring wat die moeite werd is. Bowenal het dit my laat besef dat toerisme in Suid-Afrika sy juwele het.

Ten laaste: die personeel is van die beste. Transnet – wat die trein bedryf – het van die toppersoneel gevat wat reeds by SA Vervoerdienste gewerk het om voor die skeiding met PRASA op die trein te werk. Hul ervaring is gemeng met die kundigheid van kroeg- en kombuispersoneel wat in die privaat sektor gewerf is. Almal sit egter hand by met die groot “uitklok” in die Moederstad.

Sal ek dit weer doen? Dalk.

Yuri

Buro: NB
  • 0
Top