Nuwe leerstoel in Gent toonbeeld van internasionalisering deur Nederlands én Afrikaans, sê Hein Willemse

  • 0

Hein Willemse was onlangs in België as die eerste bekleër van die leerstoel Zuid-Afrika: talen, literaturen, cultuur en maatschappij aan die Universiteit van Gent. Hy het Willem de Vries se vrae oor sy tyd daar en vergelykings met Suid-Afrika beantwoord.

Hein Willemse (Foto: Naomi Bruwer)

U is die eerste bekleër van die leerstoel Zuid-Afrika: talen, literaturen, cultuur en maatschappij aan die Universiteit van Gent. Hoe het u program daar verloop?

Ek sien die instelling van die leerstoel Zuid-Afrika by Gent teen die agtergrond van die aandrang op internasionalisering in die akademiese wêreld. Daar is toenemende druk aan verskeie fronte om internasionale verbintenisse aan te gaan, minder parogiaal te wees en breër uit te reik. Dikwels, en miskien meestal – ook in Suid-Afrika – word internasionalisering vertolk as opgaan in die Engelse of Anglo-Amerikaanse akademiese wêreld. Die skakeling met Gent, die instelling van die leerstoel aldaar, is ’n toonbeeld van internasionalisering deur Nederlands én Afrikaans.

In dié opsig is die instelling van die leerstoel ’n besonderse bydrae tot internasionalisering wat gedryf word deur visioenêre individue, die bereidwilligheid van die universiteitsowerhede om ’n formele vakature te skep, en die borgskappe van individue en instansies plaaslik en in Suid-Afrika. Vir my was dit ’n besonderse eer om die eerste bekleër van die leerstoel te wees. Dit is ’n erkenning van ’n mens se vakbydrae. Ek waardeer die gebaar van my Gentse kollegas soos Yves T’Sjoen, Jacques van Keymeulen en Annelies Verdoolaege.

Yves T’Sjoen (Foto: Naomi Bruwer)

Wat was u ervaring van die ontvangs en interaksies daar?

Naas die intreerede, wat ’n plegtige geleentheid, ’n formele aanvaarding van die leerstoel was, het ek verskeie lesings aangebied, meesal in Gent. Ek het ook in Amsterdam ’n simposium oor Suid-Afrikaanse kultuur toegespreek op uitnodiging van Margriet van der Waal, besondere professor aan die Universiteit van Amsterdam. Ek put altyd inspirasie uit die uitwisseling van idees met kollegas, die aanhoor van verskillende gesigspunte, die gespreksvoering, die battle of ideas. Ek het dit tydens hierdie besoek weer ervaar. Ek het waardering vir my Gentse kollegas, hul gesinne en vriende wat ons so gul ontvang het.

Magriet van der Waal (Foto: Dirk Gillissen)

Ons het in die Gentse middestad tereg gekom met alles binne bereik, letterlik binne loopafstand van alles van winkels tot museums en katedrale, van restaurante tot boekwinkels. Ek het ook weer agtergekom hoe ons situasie in Suid-Afrika ten opsigte van ons boekbedryf wesenlik agteruitgegaan het. In Gent kon ek binne ’n omtrek van minder as ’n kilometer talle groter en kleiner boekwinkels besoek, en dan is daar natuurlik die enorme Antwerpse Boekenbeurs, wat altyd ’n belewenis is.

Dit was ook goed om ’n bietjie af te skakel van Suid-Afrika en sy kwellinge. Ons nuus word meestal oorheers deur ons politieke en sosio-ekonomiese stryde. Op ’n keer het ’n plaaslike televisienuusprogram se hoofberig vyf minute lank gehandel oor ’n koerantredakteur wat afgetree het. By ons sou so iets glad nie eens nuuswaardig gewees het nie.

Ons openbare gesprek het ’n bruuskheid, en in handeling ’n brutaliteit wat rustige gesprekvoering moeilik maak. Ons word so oordonder met politieke hiperbole. Die rustiger openbare gesprek in Vlaandere, nie noodwendig sonder passie nie, het ek verfrissend gevind. Die afstand van ons kookpot, ons cauldron of discontent, was goed.

en die stad en omgewing?

Van loop gepraat ... Gent se middestad het die afgelope tyd een groot motorvry sone geword, met hoofsaaklik tremverkeer en beperkte toegang vir motorvoertuie. Dit is ’n verkwikking – so anders as die verkeersopeenhopings wat daar voorheen was. Gent is ’n kompakte stad, met sy Middeleeuse stadskern, die keistrate en kanale – en nou hul voorkeur vir voet- en fietsverkeer. Dit is nou werklik ’n mensvriendelike en uiters bewoonbare omgewing. Dit is alles natuurlik die gevolg van intense debatte rondom klimaatsverandering wat in die praktyk neerslag vind.

Die owerheid het ’n fokus op mens- en omgewingswelstand. Gent en die universiteit het ’n sterk sosialistiese tradisie. Met die opkoms van Groen, die politieke party, in samewerking met die sosialiste word die klem sterk geplaas op die aard van lewensgehalte.

Op my vorige besoeke aan stede soos Brussel en Antwerpen is ek altyd getref deur die kosmopolitiese aard daarvan. Nou vind ek dat daar ook in Gent ’n merkbare kosmopolitaansheid ontwikkel het – veel meer opvallend as tydens my vorige besoeke. Ons het byvoorbeeld op ’n keer in ’n Siriese restaurant geëet en doelbewus in die Turkse buurt inkopies gaan doen. Op die markte kon ’n mens duidelik die diverse demografie sien. Of daar egter sosiale integrasie is, sal ’n besoeker nie gou kan waarneem nie. Die kleiner dorpe en platteland is natuurlik meer homogeen.

Hier en daar hoor ’n mens sterk standpunte rondom migrasie. ’n Stad soos Brussel staan natuurlik in die brandpunt van ekstremistiese terreur. Die swaargewapende polisie en soldate op die strate van Antwerpen en Brussel was opvallend, selfs ietwat onrusbarend. Gent, wat ’n stad van ’n kwartmiljoen inwoners is, was egter die rustigheid self. ’n Mens het daar nie die beklemming van terreurverwagting nie. Waarskynlik het dit iets te doen met die meer sosiaalgerigte owerheidsbestuur.

Vertel van u intreerede, ook van Arthur Fula wat u in ’n lesing bespreek het.

Fula en die basis van my intreerede speel op mekaar in.

My hoofuitgangspunt in my intreerede was dat ons opnuut na ons literêre geskiedskrywing en ons taalgeskiedenis moet gaan kyk. Dis ’n standpunt wat ek al vir dekades stel en waaroor ek al talle artikels geskryf het. Die toe-eiening van Afrikaans deur generasies van Afrikaner-nasionaliste en apartheid het oneindige skade aan Afrikaans aangerig. Vandag nog word dit as ’n slagboom gebruik om toegang tot dienste, behuising en skoling vir talle Suid-Afrikaners te bemoeilik. Dit berokken groot, gróót skade aan ons taal.

Die punt in my intreerede was dat ons ’n nuwe verbintenis met mede-Suid-Afrikaners moet beding; een wat duidelik sê: daar is ’n ánder geskiedenis. Dit is ’n geskiedenis wat verbind kan word, soos ek dit gestel het, “met teenkolonialisasie, met bemagtiging, met anti-apartheid-aktivisme, met inklusiwiteit, met die opbou van menswaardigheid vir alle Suid-Afrikaners – ’n Afrikaans wat nie sektaries toegeëien kan word nie.”

Ek het in die intreerede die posisies van vakgenote betrek wat vanweë hul maatskaplike posisie buite die ou politieke en sosiale orde gestaan het. Ek verwys na mense soos Vernon February en Jakes Gerwel, beide letterkundiges. Dan ook Tony Links, wat veral oor Afrikaanse dialekte gewerk het, en Achmat Davids, wat ’n groot bydrae oor die plek van Arabiese Afrikaans gemaak het. Ek het ook die sienings van Neville Alexander betrek, veral dié rondom taalbeplanning.

Ek het my intreerede as ’n soort persoonlike huldiging aan dié mense gesien. Hulle het sonder uitsondering die ruimheid, die inklusiwiteit van Afrikaans beklemtoon. Dis ’n anderse Afrikaanssprekendheid, een wat nie “albosentristies”, is nie, om Marius Valkhoff se begrip te gebruik. Ek wou iets van daardie ánder geskiedenis laat registreer.

Hoe pas Fula daarby in?

Fula is vir my deel van daardie ánder geskiedenis. Hy is ’n minder bekende figuur in die breë Afrikaanse letterkunde. Sy novelles is nie verbysterende of vernuwende taaleksperimente nie. Geensins, maar hy is ’n belangrike figuur in die sosiale en kultuurgeskiedenis van die Afrikaanse taal- en letterkunde.

Afrikaans het seker die mees inklusiewe geskiedenis van alle inheemse tale in die land. Dis nie net vanweë die apartheidsekonomie en -onderwys nie, maar reeds sedert sy vroeë, historiese ontwikkeling. Dit word deur mense vanuit verskillende sosiale agtergronde gepraat, meer as enige ander Suid-Afrikaanse taal. Tog kies ons om één geskiedenis – dié van wit Afrikaanssprekendes – as dié geskiedenis van Afrikaans voor te hou, veral aan nie-Afrikaanssprekers.

As ons ’n inklusiewe geskiedenis van Afrikaans wil skryf en aan ons landgenote wil voorhou, is voorbeelde en modelle soos Fula belangrik, selfs al is sy sosiale houding, vanuit my linkserige hoek, nogal konserwatief.

Laat ek iets oor inklusiwiteit sê. In die post-1994 bestel wil ons almal graag ’n inklusiewe Afrikaans, ’n soort van kumbaya, simunye-we-are-one ideologiese projek bedryf. Ons sien dit op kultuurvlak, in die media en elders, maar kort voor lank word sulke projekte oorheers deur “wit belange” en die “wit geskiedenis”. Die “swart belange” en “swart geskiedenisse” word as stukkies inlas- en aanlaswerk by “wit belange” en die “wit geskiedenis” hanteer. Dit help ons op die lange duur nie om Afrikaans binne ’n omvattende Suid-Afrikaanse verband tereg te laat kom nie. In my navorsing beklemtoon ek gevolglik die “swart geskiedenis” van Afrikaans. Vir my is Fula deel daarvan.

Waar dit die Afrikaanse letterkunde in België betref, vind u dat u veral as bekendsteller, weerlegger of bevestiger van sekere aspekte van die taal en literêre tradisie moes optree, of iets van al drie?

Ek dink ’n mens moet aanvaar dat buitelanders, in dié geval Belgiese studente, terloopse kennis van Suid-Afrika het. Hulle neem slegs in breë algemene trekke van ons land kennis. Net soos ons gewoonlik nie besonderheidskennis van enige ander land behalwe Suid-Afrika het nie. Uit die reaksies wat ek op my voordragte gekry het en in my gesprekke, was dit egter duidelik dat veral die nagraadse studente wat in Afrikaans belangstel, goed onderlê is. Wat vir my belangriker is, is dat my kollegas en hul studente vanuit ánder agtergronde op die Suid-Afrikaanse situasie en die Afrikaanse letterkunde reageer. Daardie blik van buite vind ek uiters waardevol, ook wanneer daar vergelykend met ander ervarings en lande omgegaan word.

Hoe lyk die talesituasie in België op kampusse vandag teenoor wat tans in Suid-Afrika gebeur?

Ek kan my nie in besonderhede oor die Belgiese taalsituasie uitlaat nie; daarvoor was ek te kort daar. Dit is egter tog algemene kennis dat België ’n federale staat is. Die hantering van taal en kultuur is afgewentel na die streeksregerings van Vlaandere, Wallonië en Oos-België. Nou en dan lees ’n mens dreigemente van afskeiding van die federale staat van passievolle ondersteuners van een of ander van die groeperings.

Daar is sterk taalverskansing ten opsigte van die onderwys op skool en naskoolse vlak, sodat die universiteite in die verskillende streke klem lê op die hooftaal van die bepaalde streek, hetsy Nederlands in Vlaandere, Frans in Wallonië of Duits in Oos-België. Die universiteite in Vlaandere, onder meer die Gent-universiteit, sal dus hoofsaaklik Nederlands as voer- en onderrigtaal gebruik. Ek vind dat die Vlaminge, veral in die stede, naas Nederlands hulle ook goed van Frans kan bedien en in Engels meer as vaardig is.

Ons situasie verskil natuurlik toetentaal. Ten spyte van ons Grondwet sukkel ons met taalverskansing; ons het nie ’n federale staatsbestel nie. Ons taal- en politieke geskiedenisse is totaal uiteenlopend; so ook ons ekonomiese situasie. België is ’n ontwikkelde land. Suid-Afrika is in hoofsaak ’n ontwikkelende land met sekere sektore en streke wat ontwikkeld is. Dit maak ’n groot verskil. België se bevolking is rondom die 11 miljoen; Suid-Afrika s ’n trek byna al by 60 miljoen. Talig is die situasie by ons onstabiel: Engels is op ’n opwaartse trajek, Afrikaans word afgeskaal, en die ander Afrikatale word gruwelik verwaarloos.

Hoe vergelyk studente se betrokkenheid by onderwerpe in België teenoor dié van studente in Suid-Afrika? Verskil die aktualiteite en die hantering daarvan? Is daar ooreenkomste? Was u aanpak in Vlaandere anders as in Pretoria?

Daarvoor was ek te kort in die land. Die studentemedia wat ek gelees het, het nie sosiale kwessies, behalwe miskien klimaatsverandering, aan die groot klok gehang nie. Dit lyk vir my na ’n redelik bestendige studente-omgewing in Gent, Vlaandere en België.

Suid-Afrikaanse universiteite sien totaal anders daaruit. Ons leef met storm en drang. By ons wissel die betrokkenheid ten opsigte van sosiale kwessies, aktualiteite in die gemeenskap, van geen belangstelling tot hart-en-niere-betrokkenheid. Dit is maar die aard van studentelewe. Betrokkenheid is egter ’n belangrike leerskool vir toekomstige ontwikkeling. Daarom is ek ’n bietjie bekommerd dat van ons studente onttrek uit die sosiale debat en liewer op die kant staan en toekyk of gewoon inwaarts migreer en hulle aan die situasie afvee. Daarmee laat hulle die rigtinggewing van die debatte aan klein groepies aktiviste oor.

Dit is vanjaar 50 jaar sedert die studenteopstande in '68 in Parys, Tsjeggo-Slowakye en elders. In die roerige tye van die sewentigerjare was u ’n student aan die Universiteit van Wes-Kaapland. Wat beskou u vandag as ’n etiese dissident op ’n kampus? Verskil dié voorbeeld tussen Gent en Suid-Afrika?

Protes en opstand is belangrik. Daarmee definieer elke generasie sy wêreld. Elke plakkaat wat “nee” sê vir ongeregtigheid, definieer ons eietydse grense.

Konformisme is die natuurlikste ding op aarde: jy loop maar met die stroom saam; jy steek nie jou kop uit nie, en jy oorleef. Dissidensie gaan altyd teen die grein van konformisme in, en dis nie maklik nie. Dit is eers later dat die belang daarvan duidelik blyk.

Opstand, verset en dissidensie is natuurlik ’n ding wat homself herhaal: Elke generasie dink sy generasie en sy kwessies is nooit voorheen hanteer nie en dat die vorige generasie ’n klomp slapgatte was en dat die huidige generasie dinge behoorlik sal doen.

Die groot kwessies rondom globalisering en kapitalisme wat die Occupy Movement in die eerste dekade van die eeu besig gehou het, verskuif nou na die migrasiekrisis in Afrika, Asië, Europa, Suid- en Noord-Amerika en elders die groot klimaatsdebat.

By ons lê sake ietwat anders. Ons sukkel met armoedeverligting, werkverskaffing, en gehalte- en toepaslike onderwys. Dit impakteer ons almal se lewens. Daarom dink ek dat die globale kwessies by ons minder aandag kry, omdat ons maatskaplike kwessies so enorm is. In die Europese stede sien jy dikwels boemelaars en soms selfs arm mense, maar by ons het armoede en werkloosheid so deel van ons sosiale omgewing geraak dat ons afgestomp raak daaroor. En dit moet ons almal ernstig bekommer. Dis hoekom Zuma, sy kornuite en sy korrupte regering op alle vlakke van ons land werklik as verraaiers van ons Suid-Afrikaners en ons stryd om bevryding gesien moet word.

Wat die universiteite en kurrikula betref: die opstande van vroeër het gevolge gehad vir wat onderrig word en hoe dit onderrig word. Ek dink ons sal sien dat die sogenaamde dekoloniseringsdebat ook verreikende implikasies vir ons plaaslike leerplanne inhou. Net so ook die “gratis” naskoolse onderwys. In België, of ten minste in Vlaandere, betaal studente ’n werklik minimale bedrag vir hul universiteitsopleiding. Ek dink minder as €1 000 per jaargang. Met ons inkomstebasis, die beperkte aantal instellings en ons onderwysagterstande gaan “gratis” onderwys ’n besonder groot uitdaging wees.

Internasionaal is daar aandag aan transnasionale studies, iets waarvan Afrikaans en die Afrikaanse letterkunde en die nuwe leerstoel deel vorm. Wat beteken dit vir die tersiêre en ander bande tussen Afrikaans en Nederlands, en Suid-Afrika en die Lae Lande?

Die begrip transnasionaal kom uit die ekonomiese en politieke wetenskappe en het met die vloei van finansies, invloed en inligting te doen. Teen daardie agtergrond is enige vorm van skakeling altyd verkieslik. Ons in Suid-Afrika neig nogal om insulêr te wees. Dit is een van die slegte nagevolge van ons geskiedenis. Nasionalismes is per definisie altyd beperkend en sien om na dié wat “soos ons is of soos ons lyk”. Kyk maar na ons geskiedenis van apartheid, vreemdelingehaat en deesdae die skeefgetrekte vorme van Afrikanisme. Skakeling tussen Suid-Afrika en die Lae Lande, en ander lande help ons derhalwe almal om ’n breër perspektief op sake te hê, en dit is wedersyds. Deur Nederlands het ons ook kontak met die sogenaamde Nederlandstalige “Black Atlantic”.

Is daar parallelle en/of verskille tussen eietydse Belgiese en Afrikaanse letterkunde wat u opval?

Ons het natuurlik ’n geskiedenis van Vlaamse – eerder as Belgiese – skrywers wat Afrikaanse skrywers beïnvloed het. My generasie studente het op skool en op universiteit Vlaamse skrywers bestudeer. Dink maar aan Stijn Streuvels, Guido Gezelle, Willem Elsschot, Louis Paul Boon, Hubert Lampo, Marnix Gijsen, Paul van Ostaijen, Hugo Claus, en ander. Vandag nog het Vlaamse skrywers soos Anne Provoost, David van Reybrouck en Tom Lanoye ook plaaslike aanhang. Beide letterkundes vloei voort uit hul spesifieke omstandighede, elk met sy eie uitdagings.

Hubert Lampo (Foto: Tom Ordelman via Wikimedia CommonsCC BY-SA 3.0)

Bied die literêre stelsels in die Nederlande en Suid-Afrika insigte in mekaar se samelewings?

Letterkunde sê altyd vir ons iets van ’n onmiddellike omgewing, maar ook iets van die persoonlike en sosiale geesteswêreld waaruit dit voortvloei. In ons geval het ons regtig ’n verskraalde intellektuele wêreld – om verskeie redes. Een daarvan is dat ons beperkte publikasie-omgewing oorheers word deur ’n paar uitgewerye. ’n Ander is dat ons toegang tot wêreldletterkunde en debatte ook betreklik beperk is. Ek praat nie eens van verskynsels soos ongeletterdheid of toegang tot skoling nie.

’n Vertalingsbedryf bestaan glad nie in Suid-Afrika nie, terwyl ons talesituasie so ideaal geskik daarvoor is. In die Lae Lande is vertaling ’n gevestigde bedryf en dit voed hul letterkundes. Ons toegang tot die internasionale intellektuele wêreld is hoofsaaklik deur Engels, terwyl ook Nederlands ’n belangrike roete daartoe bied. Ek het al tekste in Nederlandse vertaling gelees wat glad nie in Engelse vertaling beskikbaar is nie. Ons skrywers word nie gekoester nie. Vertalers en skrywers in die Nederlande, selfs gemiddelde skrywers, kan ’n redelike bestaan uit hul skryfwerk maak.

Die leerstoel is gerig op "Afrikaans in een meertalige maatschappij, op de Zuid-Afrikaanse taal- en letterkunde als een polyfoon en complex geheel en op andere geesteswetenschappelijke vakgebieden met betrekking tot Zuid-Afrika". In die lig hiervan, wat uit u eie ervaring daar bied die studie van letterkunde aan die voornemende student in België wat in Suid-Afrika belangstel en die belangstellende Suid-Afrikaanse student wat in die Nederlande verder wil gaan studeer?

Die formulering van die leerstoelmissie is doelbewus breed om belangstellendes so wyd moontlik te trek; aanvanklik waarskynlik taal- en letterkunde, maar ek kan sien dat die belangstelling onder Vlaamse en Suid-Afrikaanse kundiges later ook ander kulturele terreine kan betrek. Ek hoop dat die leerstoel vorentoe goed ontwikkel, want dit is ’n besonder goeie inisiatief vir sowel Nederlands as Afrikaans, vir Vlaandere en Suid-Afrika.

Lees ook:

Buro: MvH
  • 0
Top