Onmin broei in ANC en DA

  • 0

Suid-Afrika se twee grootste politieke partye, die ANC en die DA, is albei besig om vure dood te slaan as gevolg van innerlike verdeeldheid.

In die  ANC is oud-president Jacob Zuma glo besig met ’n grootskaalse veldtog in KwaZula-Natal om sy steunbasis in die party te behou terwyl DA se binnegevegte in die Wes-Kaap voortduur.

Gerugte dat Zuma se ondersteuners in KwaZulu-Natal besig is met ’n komplot om president Cyril Ramaphosa te ondermyn en van hom ontslae wil raak, word deur die ANC se amptelike woordvoerders ontken. Politieke waarnemers meen egter Ramaphosa moenie te gerus wees. Hulle sê waar daar ’n rokie trek, is daar ’n vuurtjie en Zuma het nog lank nie gaan lê nie.

In die Wes-Kaap is die handskoene tussen die DA burgemeester van Kaapstad, Patricia de Lille, en haar partyleiers behoorlik af. Sy is deur haar party voor ’n tugkomitee gedaag en hulle probeer alles moontlik om van haar ontslae te raak. Sy word ondermeer daarvan beskuldig dat sy onreëlmatig opgetree het en betrokke was by korrupsie.

Die DA het egter nog geen aanduiding gegee wat die presiese klagtes teen De Lille is nie. Intussen veg sy soos ’n tierwyfie om haar naam in ere te herstel. Sy is woedend omdat daar so gesloer word met haar tugverhoor en dring daarop aan dat dit in die openbaar geskied sodat die media vrylik daaroor kan berig.

KwaZulu-Natal en die Wes-Kaap is onderskeidelik die ANC en die DA se sterkste provinsies. Die verdeeldheid wat op die oomblik in albei partye se kroonprovinsies heers kan beide partye duur te staan kom tydens die algemene verkiesing wat volgende jaar gehou word.

Daar word wyd bespiegel oor presies wat Zuma besig om in die mou te voer. Hy is steeds woedend omdat hy deur sy eie party die trekpas as president van die land gekry het. Sommige waarnemers sê hy sal nie skroom om sy eie party te vernietig uit wraaksug omdat hulle hom in die pad gesteek het nie.

Daar word selfs gevrees dat geweld tussen die verskillende ANC-faksies in KwaZulu-Natal kan uitbreek indien die onderlinge verdeeldheid wat daar heers nie gou opgelos word nie.

Kaapstad se DA burgemeester Patricia de Lille se politieke toekoms is nog onseker. Dit is feitlik ’n uitgemaakte saak dat haar dae in die DA getel is. Dit is net ’n kwessie van tyd voordat sy haar burgemeestersketting sal moet inhandig. Dit is nog nie duidelik waar sy haar nuwe politieke tuiste dan gaan vind nie. Politieke waarnemers bespiegel sy sal óf by die EFF óf by die ANC aansluit, maar die waarskynlikste opsie is die ANC. ANC-leiers het reeds in die openbaar gesê sy sal verwelkom word.

Die DA het sy grondwet tydens die afgelope naweek se kongres so verander wat dit vir die party makliker sal maak om mense soos De Lille uit te skop. Die herroepingsklousule wat aanvaar is, maak dit makliker vir die DA om uitvoerende ampsdraers soos De Lille te herroep wanneer die party meen sulke amptenare voer nie hulle take behoorlik uit nie of dat hulle die DA se belange skade berokken. De Lille beskou dit as ’n persoonlike klap in haar gesig. Sy sê dit is niks anders nie as ’n doelbewuste poging om van haar ontslae te raak.

Die enigste sekerheid tussen al die gerugte en bespiegelings oor die binnegevegte in beide die ANC en die DA is dat Zuma en De Lille geensins van plan is om stilweg van die politieke toneel te verdwyn nie.

Suid-Afrikaners kan hulle maar gereedmaak vir nog baie vuil wasgoed en politieke binnegevegte in die aanloop tot die verkiesing in 2019.

Buro: NB
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top