Persvrystelling: KKNK se 24ste feesprogram prikkel kunskierheid

  • 0

Hope vermaak vir die hele gesin op Oudtshoorn gebied

“’n Kenmerk van die 24ste Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) se program is dat dit ’n familiefees is. Die program bied iets vir almal, met snykantteater, uiteenlopende musiek en hope jeug- en kindervermaak.”

Só sê Hugo Theart, waarnemende uitvoerende hoof van Kunste Onbeperk, die maatskappy wat die KKNK aanbied. Dié fees word van Donderdag 29 Maart tot Woensdag 4 April, in die skoolvakansie en oor Paasnaweek, op Oudtshoorn aangebied. Die feesprogram is op Maandag, 22 Januarie by die Klein Karoo Ostrich Emporium op Oudtshoorn bekendgestel.

Tobie Cronjé, wat vanjaar 70 word, word vereer met die Kunste Onbeperk-prys vir Lewensbydrae tot die Kunste. Hy is saam met Grethe Fox, wat ná ’n lang afwesigheid terugkeer na die verhoog, te sien in Eugène Ionesco se absurde tragi-klug Die stoele, onder spelleiding van Marthinus Basson.

Tobie Cronjé en Katinka Heyns (Foto: Hans van der Veen)

Die Kunste Onbeperk Kruispunt-prys word aan Hannes Coetzee toegeken – die eiesoortige kitaarspeler wat ’n teelepel inspan om rou klanke op te tower en wat in David Kramer se Karoo Kitaar Blues nasionaal en internasionaal groot aandag getrek het. Saam met Frazer Barry, Earl Witbooi, Loit Sols, Deniel Barry en Stefne van Dyk word die oorsprong van die snaarinstrument in die Suid-Afrikaanse tradisionele folkmusiek in Lepeltjie vol snare op musikale noot nagespeur.

Hannes Coetzee en David Kramer (Foto: Hans van der Veen)

’n Pa én seun lewer vanjaar ’n groot bydrae tot die visuele kuns – Johannes Maswanganyi as 2018 se feeskunstenaar en Collen Maswanganyi as ontvanger van die Kunste Onbeperk-prys vir ’n Nuwe Stem. Albei maak houtbeelde, albei hou daarvan om op groot skaal te werk, maar so skyn elkeen se eie stem ook deur.

Collen Maswanganyi (Foto: Hans van der Veen)

Lucia Boer, die KKNK se nuwe kunskurator, omskep die Prince Vintcent-gebou in ’n ruimte waar daar iets vir ’n ieder en elk is om uit te kies en keur onder die tema “Krap waar dit jeuk”. En om allerlei hoeke en draaie gaan interessante installasies feesgangers verras.

’n Volstruisveer in die KKNK se hoed is twee tekste van Kunste Onbeperk se 2018-Teksmark wat by die fees debuteer. Die skaarsheid van water en wat mense alles sal doen om dit in die hande te kry, is die stofgegewe van Bauke Snyman se Swerfgoed. Die bekroonde aktrise Tinarie van Wyk Loots maak haar buiging as ’n regisseur en Anna-Mart van der Merwe en Nicole Holm is onder andere daarin te sien. Du Toit Albertze se Die meermin-kompleks verweef fantasie en werklikheid en word as deel van die derde Uitkampteater-aangebied. ’n Verdere bewys van die Teksmark se sukses is drie stukke van 2016 wat nou ook in Oudtshoorn ’n draai maak, Amee Lekas se Die dans van die Watermeid, Marina Albertyn se bekroonde Melk & Vleis en Ingrid Winterbach se Ons is almal freaks hier.

Richard September, Andrew Laubscher, Anna-Mart van der Merwe en Nicole Holm in Swerfgoed (Foto: Robert Hamblin)

Babbelagtig, ’n opwindende debuut, is ’n teaterspektakel soos nog nooit vantevore beleef nie, met elemente van sirkus en narrespel waaroor jonk en oud nie uitgepraat gaan raak nie. Goeie nuus vir feesgangers is die ses splinternuwe komedies wat aangebied word:  #OMGV Seriaas?! (Esther von Waltsleben); Met ander woorde (Lizz Meiring); My vrou se man se mannetjie (’n klug uit die Lefra-stal); Operasie Holm (Marion Holm); Weifel oor jou twyfel! (When In Doubt say Darling) (Pieter-Dirk Uys met ’n vlymskerp blik op 24 jaar se demokrasie, waarin ’n paar nuwe karakters by hom aansluit); en You Suck (en ander afgryslike waarhede) met Klara van Wyk wat ’n eksentrieke tiener aan die gehoor bekend stel.

Ander hoogtepunte sluit in Gif (met o.a. Atandwa Kani, Tinarie van Wyk Loots), die komedie Die baba met die badwater (met oa Lindi Stander en Kaz McFadden), Fotostaatmasjien (met oa Anna-Mart van der Merwe, Schalk Bezuidenhout en Bibi Slippers), Hierdie lewe (geskoei op Karel Schoeman se roman, met Antoinette Kellermann), Mike van Graan se komedie State Fracture (met Daniel Mpilo Richards), Chase Rhys se Kinnes, wenner van Adam en Rosalie Small-prys vir debuutskrywers (met oa Lee-Ann van Rooi en Dean-John Smith), Mike & Mavis (met Elize Cawood en Wilson Dunster), Nico Scheepers se Nêrens Noord-Kaap (met De Klerk Oelofse, Geon Nel en Albert Pretorius) en Weerkaats (met Milan Murray). Daar is ook die jeugproduksie Moord in Ixiastraat – ’n Baloog-en-Brommel-avontuur (met Richard September en De Klerk Oelofse) en die ATKV-Tienertoneel-wenproduksie, Innie selle.

Op die musiekfront keer David Kramer terug met ’n splinternuwe musiekproduksie, David Kramer se Platteland, aangebied saam met ’n orkes. Bekende musiekkunstenaars wat ook in hul eie produksies te sien sal wees, is Amanda Strydom, Chris Chameleon en CH2, Ricus Nel en Refentse, Coenie de Villiers, Lize Beekman, Laurika Rauch en Loki Rothman, en Karin Hougaard, wat nou in die buiteland woon en spesiaal by die KKNK kom optree.

Besselsen (met Jacques du Plessis en JC Visser, onder regie van Gertjie Besselsen) is ’n kleinskaalse Afrikaanse kabaret met woord en musiek. Karin Kortje, Robin Pieters en Elwira Standili is te sien in die musiekblyspel Goue treffers vani Kaap!. Maanlig, met Leslie Javan, Maciej Lacny, Ronan Skillen en Francois Afrika, se storie strek van ver met musiek vol kulturele geur en kleur. Afrika my verlange / Afrique Mon Désir (onder regie van David Kramer met oa Laurinda Hofmeyr, Schalk Joubert en Kevin Gibson) is ’n besondere samewerking met sangers van Wes-Afrika, en met Ella Fitzgerald A Century in Song bring Anna Davel en Gloria Bosman hulde aan dié legende.

Volgens Theart is ’n groot nuwigheid by vanjaar se fees die nuwe area vir die feesterrein. “Die Kuierbuurt, voorheen bekend as die Rivierbuurt, is die nuwe tuiste vir die feesterrein, op die mooiste gras op Oudtshoorn by die Oudtshoorn-sportgronde (REC) en die Vredestraat-sportterrein. Op die terrein word hope gesinsvermaak aangebied waaronder die kunsmark se stalletjies, Liplekker se deli- en wynproeë, kindervermaak by die ATKV-Speelbos, die Absa Rooiplein, musiek deur die dag by die Castle Lager-verhoog en die aandvertonings op die Huisgenoot-verhoog. ’n Weekkaartjie van R255 bied toegang tot ál die vermaak en ’n dagkaartjies kos R85 per dag,” sê Theart.

Kaartjies vir die Kuierbuurt sluit ook toegang in tot die aandprogram op die Huisgenoot-verhoog, waar daar deur die loop van die week ses aandkonserte aangebied word met van die grootste van die groot name in die musiebedryf: Awê Kaktus, Boontoe: Engelstemme, Karoo-nag, kykNET – Dans op die vlaktes, Rymklets van Oos tot Wes en Sterrenag – Musiek met hart.

Uitkampteater se kortkuns is by die Fiëstas in 2017 as die mees innoverende konsep beloon en dié kortkunsprogram met onder meer Nederlandse kunstenaars, die beste van die DCAS-dramafees, talent van die plaaslike distrik en opwindende werke van jong en gevestigde teatermakers, beloof verskeie verrassings. Uitkampteater sluit ’n verskeidenheid van genres met vermaak vir oud en jonk in en word voor die Absa Burgersentrum en by ATKV-Speelbos in die Kuierbuurt aangebied. ATKV-Speelbos sluit ’n aantal gratis vermaak vir die jongspan in en hier word ook verskeie Uitkampteater-stukke vir kinders aangebied.

Baron van Reedestraat, die hartklop van die fees, bied ’n allegaartjie van internasionale en plaaslike straatkunstenaars aan. Uitstaande musiek en gesprekke word op die kykNET-verhoog en die RSG-verhoog aangebied, met optredes deur bekende en nuwe kunstenaars. Haidee Muller bied saans die ATKV-Kampvuur op die RSG-verhoog aan. RSG se gewilde radioteater bied soos altyd ’n wye verskeidenheid vir diegene wat fyn wil luister. Uitkampteater, die Blitsbasaar en verskeie ander impromptu-optredes sorg vir verrassings vir jonk en oud. Maak ’n draai by die Netwerk24 Feeskafee en kry van jou gunstelingpublikasies en aandenkings en luister na gesprekke oor die jongste boeke in die ATKV-Boeke-oase, onder leiding van Daniel Hugo. Die Burger Praat Saam-gesprekreeks, saamgestel deur Ivor Price, word soggens in die Netwerk24 Feeskafee aangebied.  

Die volledige program is beskikbaar by www.kknk.co.za. Kaartjieverkope open Dinsdag 23 Januarie by Computicket, Shoprite / Checkers en House & Home. Verblyfbesprekings kan by verblyf@kunste.org.za of 044 203 8600 gedoen word.

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top