Steinhoff-skandaal soos ’n bliksemstraal

  • 0

Christo Wiese
Foto: steinhoffinternational.com

Die Steinhoff-skandaal waarin beleggers in ’n oogwink miljarde rand verloor het, was vir hom soos ’n straal uit die bloute, sê die man wat ’n belegging van R55 miljard in Steinhoff gehad en die helfte van sy rykdom as gevolg daarvan verloor het.

Steinhoff se voormalige voorsitter en die grootste aandeelhouer in die maatskappy, Christo Wiese, het aan ’n gesamentlike parlementêre komitee in Kaapstad gesê hy het eers drie dae voor die bom gebars het bewus geword van die probleme in Steinhoff. Dit was enkele dae voordat die jaarstate vir ’n direksievergadering gefinaliseer moes word.

Baie beleggers meen Wiese moes vroeër van die probleme by Steinhoff geweet het. Wiese het aan die komitee gesê hy kan die beleggers se woede verstaan. Steinhoff se uitvoerende hoof, Markus Jooste, het sedert die skandaal spoorloos van die toneel verdwyn en word vir bedrog gesoek.

Die Steinhoff-debakel het die finansiële wêreld in Desember tot in sy fondamente geskud. Wiese, wat een van Suid-Afrika se drie rykste mense was, het sy miljardêrstatus as gevolg daarvan verloor. Voor die Steinhoff-debakel was hy saam met Nicky Oppenheimer en Johan Rupert een van die drie rykste mense in Suid-Afrika

Wiese het sowat R37 miljard verloor. Hy het die afgelope week aan joernaliste gesê 30 jaar van sy werk is deur die Steinhoff-debakel in die water gegooi, maar dit help nie om kwaad of bitter te word nie. Hy weet nog nie of hy vir Jooste daarvoor gaan dagvaar nie.

Die voorsitter van Steinhoff se ouditkomitee, Steve Booysen, het aan die parlementêre komitee gesê ’n tydskrifartikel in Duitsland het daartoe gelei dat hulle op 20 September verlede jaar ingelig is oor sekere vraagstukke in Steinhoff wat die bestuur moes oplos.

Op 14 November het die weerligstraal waarna Wiese verwys het, hóm al getref, maar daar was nog geen bevegting van die ongerymdhede nie. Booysen het nie gesê waarom hy Wiese nie tóé reeds ingelig het oor die bewerings nie. Hy sê hy het die bevestiging van die onreëlmatighede eers die aand van 4 Desember gekry.

Dit was toe die man agter die skandaal, Markus Jooste, wie se bloed almal nou soek, nie opgedaag het vir ’n vergadering om sekere onreëlmatighede te verduidelik nie. Jooste is die oggend van 4 Desember ontbied om die vergadering by te woon, maar die res van die vergadering het heeldag tevergeefs op hom gewag.

Dieselfde aand het hy as uitvoerende hoof bedank en ’n sms aan Booysen gestuur wat die vermoedens van onreëlmatigheid bevestig het.

Die Valke ondersoek reeds drie dossiere teen Jooste weens die skandaal. Niemand weet waar Jooste hom op die oomblik bevind nie.

Een van Wiese se jare lange vriende, die voormalige hoof uitvoerende beampte van die Shoprite-groep, Whitey Basson, het vroeër vanjaar in ’n onderhoud aan Netwerk24 gesê hy het Wiese voor die tyd teen die Steinhoff-groep gewaarsku. Basson het einde 2016 bedank as hoof uitvoerende beampte van die Shoprite-groep toe Steinhoff ook beheer oor Shoprite wou kry. Wiese was ten gunste van die transaksie, maar Basson het vasgeskop en nie kans gesien om Shoprite onder Steinhoff se beheer te bestuur nie.

Hy het vir Wiese gesê hy stem nie saam nie en hy maak ’n fout om sy aandele in die Pepkor-groep vir Steinhoff-aandele te verruil. Wiese was voorheen ook die beherende aandeelhouer van Pepkor.

Die transaksie met Shoprite het deur die mat geval na die Steinhoff-gebeure, anders kon sake veel erger gewees het.

Basson het ook geen geheim daarvan gemaak dat hy nie van Jooste hou nie. Hy het gesê almal weet dit en hy is nie bereid om saam met iemand om ’n direksietafel te sit vir wie hy geen respek het nie.

Buro: NB
  • 0
Top