Taai begroting vir Suid-Afrika na Zuma-era

  • 0

Suid-Afrikaners sal die hand dieper in die sak moet steek na gister se begrotingstoespraak in die parlement deur die minister van finansies, Malusi Gigaba.

Vir die eerste keer in 25 jaar sal Suid-Afrikaners meer belasting op toegevoegde waarde (BTW) moet betaal. Gigaba het aangekondig die koers waarteen BTW gehef word is met een persentasiepunt van 14% tot 15% verhoog. Dit sal ʼn bykomende R23 miljard in die regering se sak bring om die boeke te laat klop en om die regering se skuld te help stabiliseer na die rampspoedige Zuma-era.

Rokers en drinkers word soos gewoonlik swaar gestraf met die sogenaamde sondebelasting. Wynliefhebbers sal 30 sent meer vir ʼn liter wyn moet betaal terwyl bier, siders en alkoholiese vrugtedrankies met 10% of amper 15 sent per 340 ml styg. Die gebruikers van sterk drank word met R4,80 per 750 ml gestraf. Rokers sal oudergewoonte ook meer moet hoes en ʼn pakkie van 20 sigarette gaan R1,20 duurder wees.

Dit sal ook duurder wees om van punt A na B te ry omdat daar ʼn styging van 52 sent per liter petrol gaan wees as gevolg van ʼn hoër brandstofheffing.

Dit was Gigaba se eerste volledige begrotingstoespraak sedert oud-president Jacob Zuma sy kabinet verlede jaar vir die hoeveelste keer geskommel het om ontslae te raak van finansiesministers wat nie na sy pype gedans het nie en vervang het met ministers wat hom goedgesind was.

Terwyl Gigaba besig was met sy begrotingstoespraak in die parlement het die Pretoriase hooggeregshof beslis dat hy onder eed gejok het toe hy minister van binnelandse sake was. Dít hou verband met die skatryk Oppenheimer-familie se luukse lughawe-eindpuntgebou.

Gigaba se begrotingsrede het uiteenlopende reaksie uitgelok. Die leier van die amptelike opposisie Mmusi Maimane het negatief reageer en gesê die armes moet nou die prys betaal vir die korrupsie wat tydens die Zuma-administrasie die staatskoffers laat leegloop het. Die leier van die VF+, Pieter Groenewald, wat hoofsaaklik Afrikanerbelange verteenwoordig, het die verhoging van BTW verwelkom en sê dit sal ʼn regverdiger verspreiding van die land se belastinglas onder Suid-Afrikaners tot gevolg hê.

Die land se geldeenheid, die rand, het positief reageer op die toespraak en met tot 10 sent teenoor die dollar verstewig na die begrotingstoespraak.

Hoewel BTW ʼn nadelige invloed op die armes het, meen sommige ekonome ook dit is die beste manier om die belastinglas onder die breë te publiek te versprei. ʼn Ekonoom van die ouditeursgroep PwC, Lesley O’Connell, sê hoewel ʼn hoë BTW-koers pyn bring is dit die regte benadering om die belastingkoers te verhoog. Hy gee egter toe dat dit ʼn groot impak sal hê op huishoudings waar begrotings reeds onder druk is.

Dit was moontlik Gigaba se eerste en laaste begrotingstoespraak. President Ramaphosa sal na verwagting binne die volgende maand sy kabinet skommel en politieke kommentators voorspel dat Gigaba een van die ministers is wie se kop kan rol of dat hy na ʼn ander portefeulje verskuif sal word. Ramaphosa is vasbeslote om die land se ekonomie reg te ruk. Hoewel Gigaba skynbaar sy gewig agter Ramaphosa ingegooi het na Zuma se vertrek, meen baie ekonome en politieke kommentators sy vorige lojaliteit teenoor Zuma is ʼn stok in die wiel vir ekonomiese vooruitgang.

Op sosiale media is Gigaba skerp deur die publiek gekritiseer. Gewone landsburgers het min simpatie gehad met die minister se moeilike taak om die boeke te laat klop.

Buro: NB
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top