Totsiens Zuma!

  • 0

President Jacob Zuma se politieke lot is vanoggend in die vroeë oggendure verseël. Dit volg na  ’n deurnag marathonvergadering van die ANC se Nasionale Uitvoerende Komitee (NUK) wat langer as twaalf uur geduur het.

Zuma het sy eie party tot op die laaste oomblik gyselaar probeer hou om te keer dat hulle hom in die pad steek. Suid-Afrikaners het vanoggend in spanning gewag op ’n amptelike aankondiging wat om 14:00 by die ANC se hoofkantoor in Luthuli-huis gedoen sal word om te bevestig dat Zuma uiteindelik die trekpas gekry het.

Die pro-Zuma faksie in die ANC se Nasionale Uitvoerende Komitee (NUK) het tot op nommer 99 probeer om hom so lank as moontlik in die saal te hou terwyl die land deur staatskapers geplunder word.

Toe die son gister na ses begin water trek in Centurion waar die ANC se ringkoppe in ’n vuurwarm debat gewikkel was, was daar nog geen nuus oor Zuma se lot nie.

Gisteraand se deurnagvergadering is kort voor middernag onderbreek toe die ANC se president en adjunk-president van die land, Cyril Ramaphosa, ’n middernagtelike besoek aan Zuma by ampswoning in Pretoria gebring het om sy bedanking te eis. Volgens onbevestigde berigte het Zuma aangedring om nog drie maande in sy pos aan te bly maar hy is glo 48 uur kans gegee om sy amp te ontruim.

Indien Zuma nie aan die eis voldoen nie lê daar nóg ’n week of twee van politieke drama vir Suid-Afrika voor.

Die Nasionale Uitvoerende Komitee is die hoogste besluitnemingsliggaam van die ANC wanneer die party se nasionale kongres nie in sitting is nie. Die NUK kan hom herroep en eis dat hy bedank maar as hy weier kan slegs die parlement die laaste spyker in sy politieke doodskis slaan by wyse van ’n wantrouemosie of om hom in ’n staat van beskuldiging te probeer plaas.

Vir die ANC is dit iets wat hulle ten alle koste wou verhoed omdat dit beteken hulle het die opposisiepartye se hulp nodig om ontslae te raak van die man wat hulle so lank beskermend in die kussings gehou het.

Opposisiepartye in die parlement het bloed geruik en vra dat die mosie van wantroue wat deur die EFF ingedien is onmiddellik teen Zuma ingestel word. Hulle dring ook aan dat die parlement ontbind word sodat daar ’n vroeë verkiesing gehou kan word.

Daar was die afgelope tyd reeds drie pogings in die NUK om van Zuma ontslae te raak. Danksy die steun wat Zuma in die NUK geniet het is ’n stemmery tot dusver elke keer afgeweer en het hy dit oorleef. Omdat die gebruik is dat die NUK besluite deur konsensus neem en daar slegs by die hoogste uitsondering gestem word het gisteraand se vergadering veel langer geduur as wat verwag is.

Die vergadering om oor Zuma se toekoms te besluit het gistermiddag kort na twee uur in Pretoria begin. Meer as 12 uur later was daar nog geen amptelike bevestiging oor Zuma se lot nie.

Laat gisteraand is daar op sosiale media begin spekuleer dat ’n besluit geneem is om Zuma te herroep. Die gerugte is kort daarna deur die presidensie ontken. Suid-Afrikaners het elke brokkie nuus op sosiale nuus gevolg by die hutsmerk #Zexit.

Daar word reeds twee weke lank wipplank gery oor Zuma se toekoms. Toe die ANC se top ses leiers hom verlede week probeer oortuig het om die tuig neer te lê het hy hulle met ’n kluitjie in die riet gestuur. ANC-president Cyril Ramaphosa het geen ander keuse gehad as om ’n streep in die sand te trek en die NUK byeen te roep nie

Buro: NB
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top