Tuberkulose die grootste oorsaak van sterftes in Suid-Afrika

  • 0

Die grootste oorsaak van sterftes in Suid-Afrika is steeds tuberkulose. Volgens ’n verslag wat  Statistieke Suid-Afrika vrygestel het, is die ander twee groot oorsake wat Suid-Afrikaners se dood kos diabetes en hartsiektes.

Die verslag lys die tien top oorsake van dood in Suid-Afrika. Die resultate word gebaseer op alle sterftes in die land wat by die Departement van Binnelandse Sake aangemeld word.

Die data bevat alle sterftes wat in 2016 aangemeld is en vergelyk dit met die data tussen 1997 en 2015 om die tendens van sterftes in Suid-Afrika te bepaal.

Volgens die jongste navorsing is die sterftesyfer in Suid-Afrika besig om te daal.

Die algemene tendens van geregistreerde sterftes wat deur Statistieke Suid-Afrika nagevors is toon ’n toename in die land se sterftesyfer tussen 1997 en 2006 toe die aantal sterftes in die land ’n rekordhoogte van 614 248 bereik het en daarna ’n daling getoon het.

In 2016 was daar altesaam 456 612 sterftes in die land. Dit toon ’n afname van 3,5 persent teenoor die 473 266 sterftes wat in 2015 geregistreer is.

In geheel kom die meeste sterftes onder ouer mans en vrouens voor wat ’n aanduiding is van die afname in vroeë sterftes.

In 2016 het die meeste sterftes onder mans tussen die gemiddelde ouderdomme van  60 tot 64 jaar plaasgevind en die van vroue op ’n veel hoër ouderdom, naamlik tussen 75 en 79 jaar.  Daar was ook meer sterftes onder mans as vroue – 112 mans vir elke 100 vroue.

Die hoofrede vir sterftes in Suid-Afrika bly steeds natuurlike oorsake. Byna 90 persent Suid-Afrikaners wat in 2016 dood is, het aan natuurlike oorsake gesterf.

Tuberkulose bly egter steeds die siekte wat die meeste Suid-Afrikaners se lewe kos hoewel dit proporsioneel afgeneem het. Diabetes wat vir 5,5 persent van sterftes in Suid-Afrika verantwoordelik is, het effens gestyg teenoor vorige jare. Hierdie twee groot doodmakers word gevolg deur hartsiektes kort op die hakke van diabetes.

HIV het van die sesde posisie in 2014 opgeskuif tot die vyfde posisie in 2015 en was in 2016 steeds die vyfde grootste oorsaak van dood in Suid-Afrika.

Wanneer dit by onnatuurlike oorsake kom, is toevallige beserings die grootste oorsaak van dood in hierdie kategorie, naamlik 66.5 persent, gevolg deur aanranding (14.8%) en padongelukke (12.5%).

Die ander kategorieë wat verantwoordelik is vir baie sterftes in Suid-Afrika dek ’n wye veld. Dit wissel van insidente wat veroorsaak word deur mense wat in kontak kom met giftige gediertes tot slagoffers van natuurlike rampe.

Statistieke Suid-Afrika se volledige verslag oor sterftes kan hier gelees word.

 

Buro: NB
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top