Week van de Afrikaanse roman 2017: Andries Bezuidenhout

  • 0

Die derde Week van de Afrikaanse Roman het van 29 September tot 8 Oktober 2017 in Nederland en Vlaandere plaasgevind. Menán van Heerden het met deelnemer Andries Bezuidenhout gesels oor sy indrukke van hierdie opwindende week in die Lae Lande.

Wat was die hoogtepunte van die Week?

’n Hoogtepunt vir my was die ongelooflike verskeidenheid in die program. As deelnemers aan die Week van de Afrikaanse roman luister ons die heeltyd na mekaar en loop die gevaar om naderhand soos plate wat vashaak te klink. Dit het nooit gebeur nie. Elke geleentheid was uniek en interessant op ’n ander manier. Miskien was die enkele hoogtepunt vir my Ena Jansen se onderhoud met Ingrid Winterbach oor haar beeldende kuns in ’n aardsvreemde Rococo-saal in Gent. Ek dink die opwindende en wisselende program is deels te danke aan die tema wat die organiseerders uitgedink het, naamlik “dubbeltalente”. Skrywers wat meer as een kunsdissipline beoefen is genooi om deel te neem. Ingrid Winterbach en Rudie van Rensburg is romansiers en beeldende kunstenaars. Willem Anker skryf romans en dramas en Amy Jephta skryf draaiboeke en dramas. My rol was om musiek te maak tydens van die geleenthede, maar my digkuns en skilderkuns is ook soms betrek. Van my gedigte is deur Jente Rhebergen in Nederlands vertaal en in die letterkundige tydskrif Tirade gepubliseer, wat dalk my persoonlike hoogtepunt vir die hele jaar was. Sonder die Week van die Afrikaanse Roman sou dit nooit gebeur het nie.

Wat geniet jy die meeste van Nederland/Amsterdam?

Die gelyke ervaring van nabyheid en afstand, ’n paradoksale plesier. Ek vind Londen so bekend. As meer onlangse Britse kolonie verstaan ons soveel van die Verenigde Koninkryk instinktief – nie net die taal nie, maar ook die sin vir humor en kultuur. Dis anders met Nederland en Vlaandere. Daar is soveel aan die taal wat bekend is, maar ek sukkel nog om dit te volg. Woorde wat oënskynlik dieselfde betekenis in die twee tale het, beteken telkens eintlik iets heel verskillend in twee kontekste. Om aan vertalings tussen die twee tale te werk, is werklik opwindend. Ek wens eintlik dat ek elke gedig wat ek skryf eers in Nederlands kon laat vertaal, om sodoende nuwe betekenis te kan ontgin voordat ek dit voltooi. In Afrikaans was ons skottelgoed op, maar in Nederlands was jy dit af. Ek vind sulke klein verskilletjies erg poëties. Verder voel ek bevoorreg om kunsmuseums in Nederland en België te kan besoek. Die lig in Nederland en Vlaandere het so ’n groot impak op die skilderkuns gehad. België het ook ’n eie nasionale skildertradisie, wat ek fassinerend vind. Om voor ikoniese skilderye te kan staan en die kwaswerk van nader te kan bestudeer – wat jy nie in boeke kan doen nie – is vir my ’n helse voorreg.

Watter interessante boeke het jy onlangs gelees?

Ek het twee dubbelvolume-biografieë van David Hockney en Henri Matisse gelees, asook een van JMW Turner. Ek is besig met ’n boek oor die landskapskilderye van Egon Schiele. Wat digkuns betref, lees ek Gilbert Gibson se nuwe bundel. Dan lees ek kruis en dwars uit NP Van Wyk Louw se werk, asook essays oor Van Wyk Louw, spesifiek die historikus Dunbar Moodie se werk oor Louw en Afrikanernasionalisme. Die drama Die held vind ek interessant – dis dalk nie Van Wyk Louw se beste een nie, maar dit bly relevant. Ek het Karel Schoeman se Afskeid van Europa in Nederland sit en lees. O, die pretensie! Dis nou my eie. Een van Schoeman se meer aantreklike eienskappe is die feit dat hy nogal met homself kan spot. Op daardie noot: almal wat aan die Week van die Afrikaanse Roman deelgeneem het, het ’n goeie sin vir ironie. Dis dalk een van die redes waarom dit so aangenaam was om met hulle mee te reis.

Waarmee is jy tans besig?

Ek skilder dat dit klap. Ek werk aan ’n uitstalling met Olive Schreiner as tema, met Susan Bloemhof as mede-aandadige. Ek skaaf swaar aan ’n volgende digbundel en ek het pas toerusting gekoop om sekere dele van ’n volgende album self op te neem voor ek dit vir Riku Lätti aanstuur. Die gelees oor Van Wyk Louw is ook doelgerig, vir ’n geleentheid in die tweede helfte van die jaar. Dan skryf ek nuwe kursusse. Ek het pas aan die Universiteit van Fort Hare begin werk en woon nou in Alice. Ek pas nog by die lewe op ’n klein dorpie aan, sonder filmteaters, goeie boekwinkels, of vinnige internet. Ek geniet egter die natuur, die gemoedelike menseverhoudings en die veelvlakkige plaaslike geskiedenis. Fort Hare se hede word dalk effe deur ’n glorieryke verlede oorskadu, wat ook sekere uitdagings bied. Ek vind daardie uitdagings nogal opwindend. Dis ’n pragtige kampus met wonderlike argitektuur. Ek neem foto’s van die geboue se trappe, wat ek wil skilder – as ek eendag daarby uitkom.

Andries, ’n restaurant in Culemborg, waar een van ons optredes was. Die restaurant se naam is deur die Suid-Afrikaanse beeldhouer Andries Botha geïnspireer.

Amy Jephta doen ’n praktiese oefening in kreatiewe skryfkuns met teaterstudente in Utrecht.

’n Uitstalling van boeke by Zuid-Afrikahuis in Amsterdam.

Die span wag in Amsterdam vir die bus na Brussel. Op links is Rudie van Rensburg in gesprek met Hanné Koster, wat die week namens LitNet op video vasgelê het. In die agtergrond gesels Ingrid Winterbach met Lize van Rensburg. In die voorgrond luister Amy Jephta musiek.

Jente Rhebergen, een van die week se organiseerders, help met ’n klanktoets in Theater Tinnenpot in Gent.

Buro: MvH
  • 0
Top