Week van de Afrikaanse roman 2017: Rudie van Rensburg

  • 0

Die derde Week van de Afrikaanse Roman het van 29 September tot 8 Oktober 2017 in Nederland en Vlaandere plaasgevind. Menán van Heerden het met deelnemer Rudie van Rensburg gesels oor sy indrukke van hierdie opwindende week in die Lae Lande.

By die openingsgeleentheid van die Week in Nederland

Wat was die hoogtepunte van die Week?

Hoewel ek die hele Week geweldig geniet het, staan ’n paar hoogtepunte vir my uit. By ’n vertalerswerksessie in Amsterdam het ek met sewe Nederlandse vertalers kennis gemaak wat die eerste hoofstuk van my debuutboek, Slagyster, vertaal het. Dit was baie interessant om te hoor met watter Afrikaanse woorde en begrippe hulle probleme ondervind – en om veral te verneem dat hulle Afrikaans as ’n redelik moeilike vertaaltaal ervaar ondanks die groot ooreenkoms tussen die twee tale. Dan was dit ook wonderlik om die bekende Nederlandse TV-vervaardiger en misdaadfiksieskrywer Peter Römer by ’n gespreksessie oor spanningsromans te ontmoet en met hom oor dié genre te gesels. By die Week se laaste amptelike boekgespreksgeselligheid in Ghent was dit ook ’n voorreg om met my onderhoudvoerder, die vriendelike Luc Renders van die Departement Taal- en Letterkunde aan die Universiteit van Hasselt, kennis te maak. Op ’n persoonlike vlak was dit vir my ’n verrykende ervaring om my talentvolle medereisigers – Ingrid Winterbach, Willem Anker, Amy Jephta, Andries Bezuidenhout en die ATKV se Karien Brits en Suzie Matlhola – beter te leer ken. En om ook die knap organisatoriese vaardighede en gladde reëlings van die koördineerders van die Week, Ingrid Glorie en Jente Rhebergen (in Nederland) en Laura Engels (in België), te kon ervaar.

Wat geniet jy die meeste van Nederland/Amsterdam?

Amsterdam se historiese geboue, uitsonderlike argitektuur, talle kunsmuseums, uitstekende openbare vervoerstelsels, wye verskeidenheid restaurante en kinder- en hondevriendelikheid maak die stad beslis een van my gunstelinge in Europa. Die derduisende fietsryers (sonder valhelms) wat soms teen ’n duiselingwekkende spoed deur die verkeer vleg, bly altyd ’n belewenis. ’n Besoek aan die dorpie Culemborg het my laat besef dat die rustigheid van die Nederlandse platteland ook ’n besondere bekoring inhou. In België was Ghent se ryk historiese erfenis ’n spesiale ervaring vir my en my vrou, Lize, wat my ook op die reis vergesel het.

By die Poëziesentrum in Ghent: Willem Anker, Andries Bezuidenhout, Deidre Le Hanie van die ATKV en Ingrid Winterbach.

Saam met Luc Renders in Ghent

Op pad om die trein te haal na Antwerpen in mistroostige weer

Saam met (van links) Ingrid Glorie, Peter Römer en Ingrid Winterbach in Amsterdam

My vrou, Lize, in Culemborg

Watter interessante boeke het jy onlangs gelees?

Naas Jacques Pauw se onthullende topverkoper het Tom Burgis, ’n ondersoekende Britse joernalis, se niefiksieboek The looting machine: warlords, tycoons, smugglers, and the systematic theft of Africa’s wealth, vir my uitgestaan. Dit is ’n snydende blootlegging van die wêreldekonomie se skadukant, waar geheimsinnige netwerke van gulsige handelaars, bankiers, middelmanne en korporatiewe stropers met Afrika-kleptokrate saamkonkel om die vasteland dood te bloei deur sy mineraalrykdom te plunder.

Waarmee is jy tans besig?

Ek het gewoonlik ’n hopie niefiksieboeke (hoofsaaklik as deel van navorsing vir my eie boeke) op die bedkassie. Tans lees ek om die beurt aan Robert Baer se The perfect kill – a personal history of modern assasssination en Paul Barry se Breaking news: Sex, lies & the Murdoch succession.


 

Lees ook:

Buro: MvH
  • 0
Top