Westerman sit reis met El Negro en ek voort

  • 0

Op Woensdag 29 Maart 2018 het Karin Benjamin gesels met die skrywer Frank Westerman oor sy boek El Negro en ik (De Bezige Bij, 2004), wat Daniel Hugo in Afrikaans onder die titel El Negro en ek (Protea Boekhuis, 2017) vertaal het.

Hierdie gesprek het in die Suid-Afrikaanse Sentrum vir Nederland en Vlaandere (SASNEV) in Pinelands, Kaapstad, plaasgevind. Willem de Vries lewer verslag.

Die Nederlandse skrywer Frank Westerman se El Negro en ik van 2004 wen in 2018 steeds aan moontlikhede en relevansie. Selfs die toevoeging van verdere hoofstukke word nie uitgesluit nie.

Dit blyk uit ’n gesprek wat Karin Benjamin, ’n Neerlandikus verbonde aan die Universiteit van Kaapstad, met die skrywer oor die boek gevoer het.

Die afgelope Woensdag het sy boektoer van El Negro en ek, wat ’n lesing aan die Universiteit Stellenbosch en ’n gesprek met Daniel Hugo op die Klein Karoo Nasionale Kunstefees op Oudtshoorn ingesluit het, met ’n gesellige aandgeleentheid in SASNEV in Pinelands naby Kaapstad begin.

In El Negro en ek word verskeie reise onderneem, na onder meer Spanje, Frankryk, Jamaika, Sierra Leone en ook verskeie plekke in Suid-Afrika. Hugo het die boek onlangs in Afrikaans vertaal.

Die taal is poësie, skryf Westerman, ook dat Afrikaans hom elke uur ’n nuwe woord in sy eie taal, Nederlands, skenk. “As uitlander beproef ek dit tussen my tong en verhemelte; dit smaak tegelyk vreemd en bekend, en is geglasuur met ’n suikerrandjie – net soos die skemerkelkie wat ek in die kroeg De Goewerneur drink.”

Westerman het die boek geskryf toe hy 39 jaar oud was, 20 jaar ná sy ontmoeting met El Negro op die dorp Banyoles.

Frank Westerman en Karin Benjamin in gesprek (Foto: Izak de Vries)

In die boek skryf hy oor sy kennismaking in 1983 met hierdie opgestopte man in ’n uitstalling in ’n natuurkundige museum op die dorp in Katalonië. Op die voetstuk was ’n plaatjie wat sê “Boesman uit die Kalahari” vasgeskroef, maar agterop poskaarte van hom word hy as “Bechuana” geëien. Op die dorp staan hierdie mens-as-museumstuk as El Negro bekend.

In 1997 lees Westerman dat El Negro verwyder is onder druk van Afrika-ambassadeurs in Spanje en in ’n stoorkamer geberg. Dit het ’n groot uitwerking op hom en hy begin al skrywend ’n soektog na die mens anderkant die artefak, na die identiteit van El Negro, iemand wat later van tyd in Botswana begrawe is nadat hy van 1831 tot 1997 in Europa uitgestal is.

Die omstandighede waaronder El Negro na Afrika teruggebring is, skets hy soos volg: Spanje het haastig ’n besluit geneem. Die Katalane wou El Negro nie prysgee nie; selfs die burgemeester het volgehou dat Katalonië hom nie sal prysgee nie. In die boek skryf hy ook dat verskeie mense, onder wie Jesse Jackson van Amerika, ’n brief geskryf het, Kofi Annan het gevra dat die barbaarse praktyk gestaak moet word – dit is die 20ste eeu, byna die 21ste eeu. Dit kan nie waar wees dat hulle ’n swart mens op hierdie manier ten toon stel nie.

In Katalonië het El Negro teen daardie tyd ’n simbool geword van Katalaansheid. Hoewel ’n vreemdeling, het El Negro ’n totem geword vir wat eie is aan Katalonië.

“Eers toe daar ’n nuwe burgemeester was, is El Negro (een nag) by die agterdeur uitgeneem en na Madrid vervoer. In die geheim is reëlings met Botswana getref. In hul haas is vergeet dat hy nié van Botswana was nie.”

Westerman gaan nog verder met die ondersoek.

“Alles dui daarop dat hy nie in Gabarone (Botswana) tuishoort nie, maar eerder êrens in die Noord-Kaap. Wat is die vrae waarmee jy hiervandaan verder gaan?” het Benjamin gevra.

Hoewel die boek al in 2004 verskyn het, is dit vir Westerman of die werklikheid intussen aan die boek voortgeskryf het.

“Ook al was jý as skrywer klaar gewees met die verhaal, wil dit tog lyk of ’n hoofstuk (deur die werklikheid) toegevoeg word, of jy dit wil of nie. Dit het my al ’n paar keer oorgekom.” 

Met die verskyning van die Afrikaanse vertaling en sy Suid-Afrikaanse besoeke (hy is ook in Julie op die Vryfees in Bloemfontein en op die program van die Open Book-feesin Kaapstad in September vanjaar) kry sy verdere soektog nou impetus.

“Ek dog dat ek weet waar hy vandaan kom. Daar is ’n plek wat heel aanneemlik was, suideliker as die huidige Botswana. Maar ek dink dat ek nou op die spoor is.”

In die laaste deel van die boek kom sy ervaring en ondersoek in Suid-Afrika aan bod. “Daarin kom juis die verlede, die koloniale verlede van Nederland, onvermydelik deur. Al die dinge oor ras en identiteit, kultuur en agtergrond is so onvermydelik met my tema en soektog.”

Iets besonders aan El Negro en ik is dat dit as niefiksiewerk die Gouden Uil-letterkundeprys in Vlaandere ontvang het. Dit was die eerste keer in meer as ses jaar dat die prys aan ’n niefiksiewerk toegeken is. Ook op die kortlys vir die prys van 2005 was Arnon Grunberg se De joodse messias, Patricia de Martelaere se Het onverwachte antwoord, Ilja Leonard Pfeijffer se Het grote baggerboek en Omega minor van Paul Verhaeghen.

Westerman is opgelei in tropiesekultuurtegnologie, maar het daarvan afgesien om ’n ingenieur te wees en het ’n joernalis geword. Op verskeie plekke in die wêreld het hy as korrespondent gewerk, onder meer vir NRC Handelsblad en De Volkskrant. By dagbladjoernalistiek as sodanig het sy skryfwerk nie gebly nie. Sy loopbaan as voltydse skrywer het met El Negro en ik begin.

Hy het ’n afkeer van die term niefiksie. Benjamin het hom daaroor gepols.

“Die etiket niefiksie vind ek lelik, want jy sê wat dit nie is nie,” het hy gesê. “Dit is vreemd om jou eie werk aan te bied as iets wat dit nie is nie. Jy sê tog wat dit wél is.”

In Pole is die werk van Ryszard Kapuściński en Hanna Krall bekend as literatura faktu, “literatuur van die feit”, en hy vind dit ’n “erebenaming vir die genre”.

As ’n mens sou volstaan met “feite”, sou ’n leser die teks nie met genoegsame aandag lees nie, het Benjamin gesê, want jy “wil hê dat ’n leser met ’n literêre antenne lees”.

Die verskil tussen fiksie en sy skryfwerk lig hy soos volg toe: ’n fiksieskrywer, ’n romanskrywer, begin met ’n homp vormlose klei. En hy of sy gaan haal as ’n soort pottebakker personasies en plot uit die klei.

“Ons (sogenaamde niefiksieskrywers) is beeldhouers. Ons begin met ’n stuk graniet of marmer. Dis ’n bestaande stuk werklikheid. Stukke laat splinter jy daarvan af en uiteindelik hou jy die personasies en plot oor.” Hy sien die beeld klaar en het dit alleen maar uit die marmer bevry.

“Ek vind die werklikheid so barok, so fantasties dat ek dink: Moet ek dááraan nog ’n krul toevoeg? Die werklikheid is vir my té fantasties. Ek sal liewer probeer om die patrone bloot te lê. En om nie iets daaraan te wil toevoeg nie. Dit is meer weglaat as toevoeg. Dit is meer beeldhouer as wat dit klei is.”

Die temas van sy boeke spruit uit iets wat vir hom dwars sit.

In El Negro en ik gaan dit eintlik om waar hy staan met betrekking tot die vreemdeling, tot ‘die ander’, het hy gesê. 

“Wat maak ’n mens van vlugtelinge wat nou Europa toe kom? Hy (El Negro) hou vir ons ’n spieël op. Dus wil ek eintlik hardop denkend my materiaal navertel aan julle as lesers.

“Het jy dan verbeelding nodig as jy niefiksie skryf? Ja, ek moet steeds beelde oproep, metafore. El Negro is die metafoor. Hy beliggaam vir my ‘die ander’.

“Wie was nou El Negro? Toe ek 19 jaar oud was, het ek duimgegooi in Spanje; ek wou ’n ontwikkelingswerker word. Ek het ’n naïewe beeld van die wêreld gehad en wou water na die woestyn neem – ek wou besproeiing gaan aanlê. Ek wou goed doen. Op die dorpie Banyoles gesels ’n groep skoolmeisies oor ’negrito, negrito’, en liefkosend praat hulle van ‘ons negrito’. Waaroor gaan dit?”

Frank Westerman en Karin Benjamin (Foto: Izak de Vries)

In die natuurhistoriese museum op die dorp aan die voet van die Pireneë is toe ’n saal van die mens. In ’n glasuitstalkas staan die opgestopte man.

“Dan kyk hy jou aan. Dit was een van die eerste kere dat ek bewus geword het van my eie huidskleur. Jy word daarmee gekonfronteer. El Negro het dus op daardie stadium ’n spieël vir my opgehou.

“Wat sê hy oor Afrika? Hy sê oor Afrika eintlik niks, maar heel veel oor Europa en die Europese geskiedenis.

“Sy liggaam is met skoenpolitoer ekstraswart gemaak. Sê dit iets oor Afrika? Nee, dit sê iets oor die mense wat dit gedoen het.

“Aanvanklik, toe hy opgestop was, het hy ’n soort heel smal lendedoek gehad en het later ’n rokkie gekry. Toe dit blyk dat hy van Frankryk na Spanje verplaas is, in die 19de eeu, toe vind die kuratore in Spanje dit te onsedig en het vir hom ’n rokkie aangetrek. El Negro het ’n paspop vir ons Europese sedes geword.”

Aan die een kant is daar die vreemdeling, aan die ander kant ... wat is die verhaal wat dié opgestopte mens vir hóm, vir Westerman, vertel? Hierdeur word El Negro sy gids en metafoor.

“In die titel staan ‘El Negro’ vir ‘die ander’. Wat my betref staan die ‘ek’ vir jou, vir my, vir iedereen. En ek kan vir die ander lesers nie praat nie, daarom het ek met my eie soektog begin van hoe dit op my betrekking het. Eintlik stuit ek op elke bladsy op iets uit ons agtergrond, uit ons geskiedenis, uit ons dryfvere.”

Westerman het soos ’n speurder te werk gegaan met die vraag: Wie wás hy? “Kan ek nog aan die mens agter die opgestopte swart mens ’n naam gee, dit terugspoor?”

Antjie Krog het hom in Den Haag ontmoet en hom genooi na Kaapstad, na die Universiteit van Wes-Kaapland, om te vertel waarmee hy besig is. Daar was hy deel van ’n byeenkoms waar ook Diana Ferrus, beroemd om die gedig oor Saartjie Baartman, gepraat het.

“Saartjie Baartman was bekend. El Negro minder so. Maar die besondere is dat El Negro een jaar voor die terugkeer van Saartjie Baartman uiteindelik na Botswana gebring en daar begrawe was. In Gabarone, in die stadspark. Nou is dit ’n verwaarlooste begraafplaas. Dit is baie treurig.

“Saartjie Baartman was tog ’n ander verhaal. Frankryk en Suid-Afrika het tog beter nagedink as Spanje en Botswana. Alles het verkeerd gegaan by die oorbring van El Negro na Botswana. Dit is amper om van te huil as jy sien hoe mense met goeie bedoelings fout ná fout begaan.”

In Suid-Afrika is hy bewus gemaak van die vraag of hy dink dat hy as man en as wit mens geregtig is daarop om ’n boek te skryf oor ’n opgestopte swart mens.

“Eintlik is dit ’n heel vreemde vraag, het ek toe gedink.”

Die hele verhaal gaan eintlik oor wat die Europeërs destyds gedink het en hoe dit verander het, het Westerman gesê. In 1831 was daar lowende berigte in Frankryk vir wat die Verreaux-broers, 19 en 25 jaar oud, alles van Kaapstad versend het, het hy gesê. “Rykdomme van Afrika, topstukke.”

Die twee broers het ’n graf geskend. El Negro is die dag ná sy begrafnis opgegrawe en hulle het hom taksidermies berei.

“Oor die verhaal voel ek my aangespreek. Dalk is dit juis iemand soos ek wat ’n boek daaroor moes skryf.”

Op ’n vraag uit die gehoor oor die ontvangs van die boek in die verskeie tale waarin dit vertaal is, het Westerman gesê: “Duitsland is nog polities-korrekter as Suid-Afrika. Die boek se omslag daar laat dit lyk of dit ’n heel ander boek is. Ek vind dit heel raar dat jy nie die dinge mag benoem nie.”

As skrywer is hy baie op soek na beelde wat met mekaar praat, oor eeue en vastelande heen. “In soverre is El Negro vir die hele boek ’n gids deur die geskiedenis of ’n metafoor, hoe jy dit ook al maar wil sien."

Die beoordelaars van die Gouden Uil het gesê die boek is ’n “fascinerende en eerlijke ontmaskering van illusies”.

Die gegewe van El Negro en sy verhaal spreek tot Westerman se skrywersinstink.

“Ongerymdhede vind ek altyd heel boeiend. As joernalis probeer jy daagliks so goed as wat jy kan beskryf wat daar aan die hand is en probeer alles laat rym. Deur begrip en uitleg probeer jy iets oorsigteliks maak.

“As skrywer fassineer die dinge my wat nie klop nie. As skrywer wil ek heel veel ooplaat. Wat vind ek van die postkoloniale beeldebestorming? Ek het gepoog om ’n antwoord te gee deur omweg van El Negro en ik.”

  • Lees ook op LitNet:

Sarah Baartman: Hoekom sy, hoekom haar graf?

Buro: MvH
  • 0
Top