Winternachten fokus al hoe meer op transnasionale gesprek in die letterkunde

  • 0

Ton van de Langkruis is die hoof van Den Haag se Winternachten-letterkundefees. Vir hom is dit belangrik dat, benewens dié vir die beskouings van politici, wetenskaplikes, joernaliste en meningsvormers in die media, ook skrywers en digters ’n verhoog het. “Skrywers wat in hul werk kwessies aanroer wat verband hou met die ontwikkelinge in die wêreld en in hul land, het op hul eie manier kundigheid oor hierdie kwessies,” het hy aan Willem de Vries gesê.

Den Haag (Foto: Zairon [CC BY-SA 4.0], via Wikimedia Commons)

Die eerste Kaapstadse program van Winternachten het in 2002 plaasgevind. Al sedert 1998 is Suid-Afrikaanse skrywers na Den Haag genooi. Oor die jare het programme van die fees meermale na Suid-Afrika teruggekeer. Dit het daartoe gelei dat groter aandag aan Afrikaanse skrywers in die Lae Lande ontstaan het. Hoe word hierdie skrywers vandag in die Nederlande beskou of uitgebeeld?

Hulle het onder Nederlandse gehore al hoe bekender al geword. Ek dink egter daar is ewe veel belangstelling vir Suid-Afrikaanse skrywers ongeag die taal waarin hulle skryf.

Bykans al die werke, ook die werke in Afrikaans, word in Nederlandse vertaling gelees. Die Engelse boeke word telkens in die oorspronklike taal gelees.

Ton van de Langkruis (Foto: Piet Gispen)

Op programme van Winternachten is dit interessant om te sien hoeveel van die skrywers en digters in Suid-Afrika was sedert die land ’n demokrasie geword het. Wanneer en hoe het die idee ontstaan om skrywers van Suid-Afrika by die program te voeg en om Nederlandstalige skrywers na feeste in Suid-Afrika te neem? Winternachten is die vernaamste letterkundefees in Den Haag en een van die grootstes in Europa.

Die gedagte is geopper nadat Nelson Mandela vrygelaat is en die kultuurboikot tot ’n einde gekom het. Die Winternachtenfees het tevore aandag geskenk aan letterkunde van Indonesië, Suriname en die Antille, lande wat ’n amptelike of selfs koloniale verhouding had met die Nederlande. Aangesien daar ’n soortgelyke historiese verhouding met Suid-Afrika is, en meer spesifiek met die Kaap, het ons dit wys geag om die skrywers van Suid-Afrika opnuut in verbinding te bring met dié van die ander lande.

Winternachten word aangebied in ’n gees van samewerking en die vrye uitwisseling van idees. Dit bied die geleentheid om grense te deurbreek of te versit. Dit gebeur deur skrywers van verskeie dissiplines byeen te bring vir besprekings en/of om saam met ander feeste te werk. Wat beteken hierdie manier van doen vandag vir die samelewingsgesprek in Nederland?

Ons hoofdoel is om skrywers en digters by die sosiale debat betrokke te kry. Daardie skrywers wat in hul werk kwessies aanroer wat verband hou met die ontwikkelinge in die wêreld en in hul land, is op hul eie manier kundig oor hierdie kwessies. Ons het gevind dat benewens die beskouing van politici, wetenskaplikes, joernaliste en meningsvormers in die media, dit dus is belangrik om ’n verhoog ook aan skrywers en digters te gee.

Watter soort dialoë op die Winternachtenfeeste het reeds ’n blywende indruk op u gemaak en hoekom?

Ek dink die sleutelbegrip hier is denkskuif. Ons het ten doel om skrywers, wetenskaplikes, joernaliste, kunstenaars en denkers met verskillende kulturele agtergronde byeen te bring en ook dié wat uit verskillende dissiplines kom. In die besprekings is daar ’n sentrale vraag wat die paneellede moet beantwoord. Dit berus by hulle om ’n soort konklusie daarvoor te bedink. Hierdie proses kan tot misverstande aanleiding gee. En hierdie misverstande kan baie “produktief” wees en maak die gesprekke op ons fees interessant en opwindend vir beide die paneellede en die gehoor. Dit kan ook die gesprekke verander in “comedies of errors” . Ideaal gesproke lei dit tot denkskuiwe vir die deelnemers aan die paneel en vir die gehore.

Die fees is lank reeds werksaam in die verskeie streke van die Nederlandse Taalunie. Wat bring die skrywers van hierdie gebiede na ’n Nederlandse internasionale verhoog?

In essensie bring hulle nie enigiets anders na die fees as die skrywers van ander lande nie. Dit is só omdat ons fokus hoofsaaklik op die rol van die skrywer in die internasionale sosiale diskoers is en minder so wat betref die band met die Nederlandse taal. So byvoorbeeld is die skakel met Suid-Afrika nie soseer gegrond op die band tussen Afrikaans en Nederlands nie, maar is die fokus op die historiese band in die algemeen. Natuurlik is die erkenning van Afrikaans deur ’n Nederlandse gehoor altyd baie spesiaal. In die verlede het ons skrywers van Suid-Afrika genooi wat in verskillende tale skryf.

Soms word moedertale die onderwerp van ’n gesprek op die verhoog, byvoorbeeld in ons uitruilprogramme met Suriname en die Nederlandse Antille. Ons het baie aandag gegee aan die emansipasie van Papiaments as die moedertaal van die meeste van die skrywers en digters van Aruba, Bonaire en Curaçao. En, om dieselfde rede, aan Engels as die taal van Sint Maarten, Saba en Statia. In Suriname het Nederlands amptelike status. Die skrywers van Suriname wat ons genooi het, praat dan Nederlands op ons verhoë. Ons het ook baie aandag gegee aan dié skrywers wat skryf in een van die ander Surinaamse tale, Sarnami, wat gepraat word deur die Surinamers van Nederlands Oos-Indiese / Hindoestani-afkoms.

Winternachten word in Den Haag in Nederlands en Engels aangebied. Wat is die gevoel onder gehore en deelnemers die laaste paar jaar waar dit gaan oor kwessies wat verband hou met kleiner tale, die invloed van Engels en kulturele verskeidenheid?

Dit is moeilik vir diegene wat nie Engelse moedertaalsprekers is nie om deel te wees van ’n paneelbespreking waaraan ’n Engelse moedertaalspreker deelneem. Dit word selfs moeiliker as die moderator ’n Engelse moedertaalspreker is. Ons probeer om dit te vermy. Ons gebruik feitlik nooit tolke op die verhoog nie, omdat jy dan spontaniteit verloor, en dit rem baie die gesprek. Dit is soms ’n stremming vir ’n skrywer op die verhoog. ’n Skrywer wat hoegenaamd nie kan Engels praat nie sal sosiaal geïsoleerd voel van die ander skrywers tydens sy of haar verblyf in Den Haag.

As u terugkyk op die verskeie Winternachtenfeeste en gevra word om bydraes van Suid-Afrikaanse skrywers uit te sonder, waarop sou u die aandag vestig? Watter Suid-Afrikaanse skrywers sou u wou (terug)nooi na Winternachten en hoekom?

Ek dink vir ons gehore het Antjie Krog wonderlike bydraes tot die fees gelewer. Vir nou is dit die enigste naam wat ek sou noem. Benewens dié van die ontslape Sello Duiker. Daar is talle skrywers wat ek in ’n stadium sou wou terugnooi, hoewel dit altyd beter sal wees om nuwe stemme bekend te stel.

Vir watter soort(e) dialoog sou u graag meer ruimte skep op die Winternachtenprogramme en hoekom?

Ek sou graag ’n bietjie wou wegskuif van gesprekke met skrywers oor hul boeke na gesprekke oor die boeke en nie noodwendig met die skrywers daarvan self nie.

In die laaste paar jaar word toenemend aandag aan die transnasionale gesprek in die letterkunde gewy. Hoe beskou u Winternachten se rol in hierdie verband?

Ja, dit is ’n belangrike aangeleentheid. Ons fokus al hoe meer hierop en elke jaar sien ons skrywers wat nie meer as “verteenwoordigers van hul land van herkoms” beskou wil word nie. Hulle is skrywers, net skrywers, wat êrens in die wêreld woon.

Winternachten se programme is deel van ’n reis. Kleiner programme van die fees is al na verskeie wêrelddele geneem. As direkteur van die fees bied dit aan u ’n reeks kulturele verkennings, veral op grond van die ontmoetings en gesprekke op verhoë. Wat was tot op hede vir u die grootste ontdekking gewees op die Winternachten-reis?

Daar is soveel ontdekkings. Laat ek een uitsonder: die manier waarop gesprekke op die verhoog gevoer word. Op ons fees is daar ’n oop gesprek tussen die deelnemers aan die paneelbespreking. Meestal speel ’n kwessie van “eer” nie ’n groot rol nie. Wat ek daarmee bedoel, is dat die paneellede nie omgee om van mekaar te verskil in die openbaar nie, en hulle gee nie om om openlik van mening te verander nie. Daardeur wys dit aan hul mededeelnemers hulle het aan mekaar nuwe insigte besorg.

Veral in Arabiese lande, maar selfs na die suide van Europa, sien ek dat paneelbesprekings nie werklik ’n gesprek tot gevolg het nie. Dit word dan ’n versameling monoloë. Die ergste hiervan wat ek gesien het, is “middeljarige mans se monoloë”: die paneellede word hoog geplaas bo-op ’n verhoog, op groot stoele aan ’n massiewe tafel (jy sien net hul bolywe) met die moderator in die middel wat aan die deelnemers spreekbeurte toewys. Op hul beurt lewer hulle hul toesprake (soms selfs afgelees van ’n vel papier) en ná hul toespraak gaan hulle in ’n soort koma of begin selfs ’n speletjie op hul selfone speel. En dan is daar in die tien minute vir vraetyd vir die gehoor geen vrae nie, maar weer monoloë. Dus geen dialoog nie, maar ’n versameling monoloë. Die meeste lede van hierdie paneelbesprekings is middeljarige mans en miskien een vrou.

Na watter Winternachtenprojekte kan gehore en lesers uitsien?

Ons volgende fees in Den Haag is in Januarie 2019 en sal fokus op die tema “Who wants to live forever”. Ons is aan die beginstadia van die program, dus kan ek nie tans veel daaroor sê nie. Daar is nie planne om in die buiteland te toer nie. Ons bied wel ons maandelikse programme in Den Haag aan. U kan meer daarvan te wete kom by www.b-unlimited.nl.

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top