Woede na rowers polisiestasie aanval

  • 0

Foto: YouTube

Suid-Afrikaners is geskok oor ’n voorval waartydens ’n bende gewapende rowers ’n polisiestasie in die Oos-Kaap binnegestorm en vyf polisiemanne doodgeskiet het.

Die minister van polisie, Fikile Mbalula, sê die Suid-Afrikaanse regering sal geen steen onaangeraak laat om die skuldiges op te spoor en aan die pen te laat ry nie.

Verskeie nuusagentskappe in Suid-Afrika berig dat politieke partye en burgerlike organisasies regoor die politieke spektrum woedend is en hulle ten sterkste uitgespreek het oor die voorval waarin altesaam ses mense doodgeskiet is.

Die gewapende mans het die Ngcobo-polisiestasie Woensdag in die vroeë oggendure bestorm en met vuurwapens losgebrand op die polisielede wat aan diens was. Drie van hulle is op die plek doodgeskiet.

Die verdagtes het daarna tien gewere in die polisiestasie geroof en twee ander lede van die polisie wat tydens die rooftog by die polisiestasie opgedaag het as gyselaars geneem en ontvoer. Die twee gyselaars het in ’n polisievoertuig van patrollie teruggekeer toe hulle hul in die rowers vasloop.

Die rowers het met die polisievoertuig en die twee gyselaars op die vlug geslaan en daarna ook die twee gyselaars doodgeskiet. Hulle liggame is naby Nyanga Hoërskool gevind.

Die verdagtes het ook ’n oudsoldaat doodgeskiet wat gaan ondersoek instel het toe hy die skote hoor.

Polisieminister Mbalula het hom onmiddellik na die toneel gehaas en moes verskoning vra omdat hy as gevolg daarvan nie die afgelope week se begrotingstoespraak in die parlement kon bywoon nie.

Mbalula het volgens die TV-nuusagentskap eNCA gesê daar sal genadeloos opgetree word teen die skuldiges. Hy het die gemeenskap by Ngcobo na die voorval toegespreek en sy simpatie met die oorledenes se naasbestaandes betuig.

Hy sê dit was nie die eerste keer dat die Ngcobo-polisiestasie geroof word nie en sê daar was ook soortgelyke voorvalle in ander dele van die land waar polisiestasies aangeval en geroof word.

Die feit dat dit ook op ander plekke in die land gebeur behoort volgens die minister ’n waarskuwing te wees vir polisiestasies om hulle self te beskerm. Hy sê die polisie behoort genoegsaam toegerus en bewapen te word om hulleself behoorlik te kan beskerm. Hy het ook die gemeenskap gevra om die polisie by te staan in hulle soektog na die misdadigers.

Mbalula het al vantevore laat blyk dat misdadigers geen genade van die polisie moet verwag nie en het polisiemanne aangemoedig om hulself te verdedig indien hulle lewe in gevaar is.

Hy sê kriminele behoort nie deur die wet beskerm te word nie en indien nodig moet die wet verander word. “Misdadigers kan nie dieselfde regte geniet as gehoorsame landsburgers nie en diegene wat polisielede doodskiet moet in die tronk vrot,” het hy gesê. 

Lede van die publiek het woedend op die voorval reageer en verskeie Suid-Afrikaners het op sosiale media gevra dat die doodstraf weer ingestel word om sulke misdade hok te slaan.

Sibusiso Shaun het op eNCA se webwerf geskryf dit is kommerwekkend om te dink dat selfs ’n polisiestasie nie veilig is nie. “As lede van die polisie in ’n polisiestasie vermoor word, wat van ons wat in gewone huise op die platteland of townships woon waar misdaad hoogty vier?” het hy gevra.

Netwerk24 het berig dat die polisie kort op die rowers se hakke is en dat hulle besig is om alle bewysstukke te ontleed wat op die misdaadtoneel gekonfiskeer is.

Buro: NB
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top