Zuma klou soos ’n neet

  • 0

Suid-Afrikaners staar ’n woelige politieke week in die gesig met Jacob Zuma se toekoms wat in die weegskaal hang.

Die hele land se oë is dié week op die parlement gerig waar die staatsrede Donderdag tydens die parlementsopening gelewer sal word. Die vraag op almal se lippe is wié die toespraak gaan lewer. President Zuma is vasbeslote om dit self te doen, ondanks druk uit verskillende oorde, onder andere uit sy eie party, dat hy sy amp so gou as moontlik moet ontruim.

Intussen het opposisiepartye ’n brief aan die speaker van die parlement gestuur waarin hulle vra dat Donderdag se staatsrede uitgestel word. Hulle wil hê dat ’n mosie van wantroue in Zuma bespreek word voordat die staatsrede gelewer word.

Alle pogings om Zuma te oorreed om uit te tree het tot dusver misluk. Die ANC se top-ses leiers het Sondagaand met Zuma vergader om sy toekoms te bespreek, maar kon hom nie oorreed om die tuig neer te lê nie. Hulle is verlede week deur die ANC se nasionale werkkomitee opdrag gegee om Zuma te oorreed om voor Donderdag se staatsrede as staatshoof te bedank.

’n Spesiale vergadering van die ANC se nasionale werkskomitee wat uit 20 lede bestaan het weer Maandag in Luthuli-huis in Johannesburg vergader om die dooie punt te probeer uitstryk. Die vergadering is belê om ’n oorgangsfase te bespreek nadat Zuma Sondagaand geweier het om te bedank.

Indien Zuma vasskop en nie voor Donderdag bedank nie, kan sy staatsrede Donderdag in die parlement weer vir vuurwerke sorg. Opposisiepartye sal dit so moeilik as moontlik vir hom maak om sy toespraak te lewer. Die kanse is groot dat die EFF die geleentheid weer soos verlede jaar sal ontwrig en alles in hulle vermoë sal doen om te verhoed dat Zuma sy toespraak lewer.

Daar bestaan ook ’n moontlikheid dat al die opposisiepartye vanjaar sal uitstap en die staatsrede sal boikot indien hy daarmee voortgaan.

Indien Zuma hierdie ronde oorleef, sal hy op 22 Februarie weer vir sy politieke oorlewing moet veg wanneer daar vir die sewende keer gepoog gaan word om deur middel van ’n wantrouemosie van hom ontslae te raak. Zuma het die vorige mosies van wantroue teen hom almal oorleef, maar verskeie lede van die ANC het tydens die laaste wantrouemosie in ’n geheime stemming vir die mosie gestem dat Zuma moet gaan.

Sedert die vorige mosie van wantroue het die magsbasis in die ANC nog verder verskuif en het Cyril Ramaphosa in Desember by Zuma oorgeneem as president van die ANC. Hoewel Zuma steeds heelwat steun in die party geniet, is die gety in die ANC besig om teen hom te draai.

Daar bestaan ’n al hoe groter gevoel in die ANC dat Zuma se volgehoue weiering om as staatshoof te bedank dit moeilik maak vir Ramaphosa om sy stempel op die land af te druk. Dit belemmer Ramaphosa se agenda om korrupsie uit te roei en weer van die ANC ’n geloofwaardige party te maak.

Die meeste politieke kommentators voorspel dat Zuma wel Donderdag se staatsrede in die parlement sal lewer. Indien dit wel gaan gebeur, sal hy waarskynlik streng opdrag uit Luthuli-huis kry wat om te sê en sal hy nie toegelaat word om sy eie toespraak te lewer en te sê wat hy wil nie. Zuma veg egter op die oomblik met sy rug teen die muur en daar is geen waarborg dat hy hom streng by die opdragte uit Luthuli-huis sal hou nie.

Buro: NB
  • 0
Top