Annie Klopper

Annie Klopper woon in Seepunt. Sy is ’n skrywer, digter, taalpraktisyn en deeltydse dosent verbonde aan die Universiteit van Wes-Kaapland.

Annie behaal ’n BA in Geesteswetenskappe asook ’n Honneurs (cum laude) en ’n MA (cum laude) in Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Stellenbosch. Die titel van haar MA-tesis is Die opkoms van Afrikaanse rock en die literêre status van lirieke, met spesifieke verwysing na Fokofpolisiekar. Op haar MA volg die publikasie van haar debuutboek getiteld Biografie van ’n Bende: Die storie van Fokofpolisiekar (Protea, 2011)die groep se amptelike biografie.

Tydens haar vroeëre loopbaan as musiekjoernalis wat gereeld saam met bands toer, verskyn haar foto's en artikels in onder meer die HuisgenootTaalgenootRapport TydskrifBlunt MagazineFynproeSondagDie Burger se JIP en KampusBurger24 Student MagazineBRAVO! asook op die musiekkanaal MK, se webwerf en op LitNet. As redakteur by Protea Boekhuis het sy heelwat boeke geredigeer, waaronder heruitgawes van Dot Serfontein, Doc Immelman, PJ Schoeman, sowel as Die Uile- en Die Swart Kat-jeugboekreekse.

Annie was mede-navorser vir die MK-dokumentêr Johnny en die Maaiers, mede-samesteller van die 2007-heruitgawe van Eugène Marais se Die Siel van die mier (Protea), bydraer tot Van Volksmoeder tot Fokofpolisiekar (Sun Media) – ook in Engels uitgegee as Reshaping Remembrance (Rozenberg) – en van haar gedigte is opgeneem in Penseel 2007 (Universiteit van Stellenbosch),Versindaba 2008 (Protea), Nuwe Stemme 4 (Tafelberg), Toulopers (Lapa) en Sterkykers (Lapa).

Tans is Annie besig met die voltooiing van ’n PhD-skripsie wat identiteitskonfigurasies in wit Afrikaanse rap-musiek ondersoek.

Benewens literatuur en musiek het sy belangstelling in upcycling – waaroor sy dikwels in die media bydraes lewer.

Verified by MonsterInsights
Top