“Rassistiese identiteite”, meertaligheid en die toekoms van Afrikaanse skole

  • 0

Panyaza Lesufi, die LUR vir Onderwys in Gauteng, het die leiding geneem in ’n stryd teen Afrikaansmediumonderrig in dié provinsie. Die gesindhede waarmee die stryd gevoer word, of die verpakking daarvan, trek egter die aandag af van die onderwysdepartement se onderliggende logika ten opsigte van meertalige onderwys.

Hierdie logika vind aansluiting by taaldebatte op universiteitsvlak. Dit kan ook ’n groot impak hê op hoe meertaligheid deur die staat verstaan word en uitgeleef kan word. Kort gesê, die LUR en Gauteng se onderwysdepartement het ’n argument wat nie duidelik uitkom nie en waaraan die voorstanders van tradisionele moedertaalonderrig beslis meer aandag sal moet gee.

Afrikaans as “rassistiese identiteit”

Die verpakking van die stryd, hou direk verband met die negatiewe gesindhede wat daarby betrokke is. Lesufi argumenteer in ’n onlangse artikel op HuffPost dat rassisme vloei uit die idee dat mens “deel is van ’n kollektief” wat deur “ras, kultuur en selfs taal” gedefinieer word (’n verrassend liberale argument wat op individuele regte fokus).

Hoërskool Overvaal en talle ander maak hul dus aan rassisme skuldig deur die blote feit dat hulle Afrikaansonderrig wil aanbied. Hiervolgens is taalbeleide dan ook “niks meer as kru vorms van rassisme” wat gebruik word vir die mees “laakbare rassistiese doel denkbaar”, naamlik om toegang op grond van ras te beperk.

Is hierdie logika van “rassistiese identiteit” ook op die Vendatalige skool in Mamelodi toepaslik, wonder mens? Of op Zoeloetalige skole in die platteland, of die talle gemengde Afrikaanse skole met bruin, wit en swart leerders? Geld dit ook vir Engelse skole met Engelssprekende leerders? Is stokgevegte by tradisionele troues rassisties – of geld die logika van “rassistiese identiteit” slegs op grond van die kleur van mens se vel?

Indien hierdie idee deel is van Gauteng se onderwysdepartement se taalbeleid, dan bots dit met die Grondwet. Die Grondwet maak naamlik voorsiening vir die regte van “kulturele, taalkundige en geloofsgemeenskappe”. Dit maak selfs voorsiening vir ’n permanente kommissie wat die regte van hierdie “gemeenskappe” (of “kollektiewes”) moet beskerm en bevorder.

Suid-Afrikaners oor die hele spektrum heen gebruik taal, kultuur, tradisies, geloof, politieke filosofie, lidmaatskap van politieke partye en meer om vele oorvleuelende en buigsame identiteite te skep. Dit maak dus geen sin om mense wat taal of kultuur as deel van hulle identiteit beskou, te demoniseer nie.

Daar mag wel skole wees wat taal gebruik om ander rasse uit te sluit, maar mens het meer as negatiewe persepsies of stereotipes nodig om te kan sê dat dit inderdaad is wat in enige spesifieke situasie gebeur.

Meertalige onderrigmetodes

As volgende punt word geargumenteer dat openbare skole die volle diversiteit van die land behoort te weerspieël en dus nie op een taal behoort te fokus nie. Alle skole moet dus in beginsel veeltalig, multikultureel en veelrassig wees. Daar word nie werklik verduidelik wat dit in die praktyk sou beteken nie, hoewel dit lyk asof dit hier om meertalige onderwysmetodes gaan.

Sulke metodes gebruik gewoonlik ’n gedeelde taal soos Engels as die hoofmedium terwyl ander tale wat deur die leerders verstaan word, as hulptale gebruik word om lesse te verdiep.

Dis maklik om in te sien dat sulke metodes inderdaad in meertalige klaskamers nuttig kan wees, iets wat ook die norm in baie stedelike skole in Gauteng is. Dis ook maklik om te verstaan dat ’n departement wat rasse-ongelykhede in onderwys wil uitwis, die potensiaal van sulke metodes sal raaksien. Dit vergelyk, interessant genoeg, ook goed met soortgelyke benaderings wat op universiteitsvlak oorweeg word of reeds in werking gestel is. Daar steek dus waarskynlik veel meer hieragter as net ’n goeie idee in Gauteng.

Die belangrikste kwessie hier ter sprake is egter dat sukses met sulke metodes – nes met uitkomsgebaseerde onderwys – afhang van ’n enorme verbetering van onderwysvaardighede en -kapasiteite. Sonder onder andere uitstekende taalbestuur is die waarskynlikheid van onbedoelde gevolge, soos die vinnige verengelsing van skole en die vernietiging van moedertaalonderrig, groot. Hierdie skade sal nie gou herstel word nie. Oppas vir goeie idees.

Meertalige onderwysmetodes is slegs een van etlike nuttige metodes wat tans eksperimenteel toegepas word, en dit sou onverantwoordelik wees om dit onmiddellik in alle kontekste te probeer afdwing – veral nie in die aangesig van oorweldigende bewyse vir die effektiwiteit van moedertaalonderrig nie, iets wat nagestreef moet word waar ook al moontlik.

Unesco verwerp byvoorbeeld die idee dat moedertaalonderrig te duur is, dat voormalige koloniale tale soos Engels beter is as inheemse tale, of dat moedertaalonderrig kinders verhinder om ander tale te leer. Hulle moedig regerings in Afrika sterk aan om moedertaalonderwys tot op die hoogste vlakke te gebruik.

So terloops, die Grondwet maak ook vir enkelmediummoedertaalonderrig voorsiening.

Slotsom

Die vooroordele jeens Afrikaans en Afrikaanssprekendes behoort niemand te verras nie. Ons is op verskeie maniere gewond en dit sal meer as net een generasie vat om almal se pyn te verwerk.

Nietemin doen die stereotipes wat die afgelope jaar in die veldtog teen Afrikaans in Gauteng en elders gebruik is, die taal en sy sprekers ’n onreg aan. Om ’n skool te demoniseer, met massa-aksie te probeer vergruis en hulle te dwing om Engels te aanvaar, is allesbehalwe progressief. Daar moet tog meer kreatiewe en respekvolle maniere wees om meningsverskille soos dié te hanteer.

Afrikaans was ook die taal van die struggle, en die taal is gedeelde goed. Die meeste Afrikaanse skole is bruin. Daar is selfs swart Afrikaanse skole, en feitlik geen Afrikaanse skole is uitsluitlik wit nie. Selfs Hoërskool Overvaal – die teiken van al die onlangse woede – het gelukkige swart leerders wat hul skool verdedig.

Ons moet egter ook besef dat blote aanspraak op die diversiteit van die taal se sprekers onvoldoende is. Dit gaan polities al moeiliker word om oorwegend wit openbare skole te handhaaf – ongeag wat die Grondwet sê, hoeveel hofsake geveg word, of hoe gebelgd ’n mens daaroor mag voel.

Die sprekers van Afrikaans moet nou saamspan om die inherente diversiteit van die taal agter ons skole te mobiliseer. Ons kan ook baie meer doen om Afrikaanse skole en Afrikaansmediumonderrig vir swart ouers en kinders aantreklik te maak.

Laat ons probeer om verskille uit die howe en strate te hou en ’n inklusiewe gesprek oor taal en onderwys van stapel te stuur. Ons benodig ’n nuwe konsensus. Die voortbestaan van Afrikaanse openbare skole hang daarvan af.

 

Conrad Steenkamp

Hoof van die Afrikaanse Taalraad

Die Afrikaanse Taalraad verteenwoordig Afrikaans en sy sprekers in hulle volle diversiteit.

 

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top