Victoria & Alfred Waterfront, Kaapstad – een van Afrika se mees geliefde besienswaardighede ... ’n stad wat met die see lepellê

  • 0

Kaapstad, ’n stad wat met die see lepellê – teen die agtergrond van Tafelberg se grootse gestalte

Met meer as 25 miljoen besoekers per jaar is die Victoria & Alfred Waterfront een van Kaapstad se mees besoekte bestemmings. Vandag staan dit bekend as die V&A Waterfront, alhoewel selfs hierdie volle naam selde gebruik word; meestal word dit sommer net die Waterfront genoem. Dit is geleë in een van Afrika se oudste hawens wat terugdateer na die tyd toe seevaartekspedisies begin het. Die hawe dien al eeue lank as ’n belangrike werkshawe in die internasionale handelsnetwerk. Dit is moeilik om mens in te dink dat die eerste seevaarders van die noordelike halfrond van so vroeg as 480 VHJ (in die tyd van die Fenisiërs) om Afrika gevaar het en in Kaapstad anker gegooi het. (Sien www.livius.org.) Vir meer inligting oor die Waterfront, besoek www.waterfront.co.za.

Die onderwerp van ’n artikel oor die Waterfront kan soveel vorme aanneem – inkopies, kos, koffie of gelato, of bloot die genieting van die natuurskoon – en die reikwydte kan geweldig baie insluit. Met die oog op inligting vir die skrander toeris behoort die oorkoepelende tema van so ’n artikel egter die stad se nabye verbintenis met die see te wees, en moet dit rapporteer oor eetplekke waar die varsste produkte beskikbaar is.

Buiten die skouspelagtige uitsigte wat dit bied, is Kaapstad se hawe ook een van dié kusstad se grootste bronne van inkomste.

Interessante monumente, gedenktekens en bakens wat Kaapstad se verbintenis met die see gedenk is volop, van die oostekant tot die westekant van die Waterfront, en ook soos jy verder van die seefront af wegbeweeg. Die Waterfront se Victoriaans-Gotiese kloktoring (oorspronklik die hawekaptein se kantoor) is steeds een van die hawe se juwele. Die struktuur se ontwerp het ’n kenmerkende Gotiese boustyl, met gepunte vensters in die Skots-Gotiese herlewingstyl. Tydens ’n restourasieprojek by die Waterfront is die oorspronklike kleur van die kloktoring afgeskraap.

Die kloktoring, aanvanklik die hawekaptein se kantoor, wat in 1882 opgerig is

Vandag is Kaapstad se skeepvaartbedryf en handelsaktiwiteite van die stad se grootste bronne van inkomste; natuurlik sy aan sy met toerisme. Die stad se seehandelbedrywighede het histories ’n samevloeiing van verskillende kulture tot gevolg gehad. Kaapstad se inwoners wat per skip hier aangekom het, het via die handelsroetes wat gedurende die vorige eras en eeue ontstaan het, hier aangeland. Die plek moes ook beskerm word teen handelsmededingers en lande wat hulself vir militêre doeleindes hier wou vestig, soos die Franse terwyl die Britte die Kaap in die vroeë 19de eeu beset het. ’n Voorbeeld hiervan is toe die Vrede van Amiens in 1802 deur Brittanje en Frankryk onderteken is, wat tot gevolg gehad het dat die Kaap weer na Nederland (op daardie stadium herbenoem na die Bataafse Republiek) se besit teruggekeer het. Sewe jaar vantevore het die Britte ’n suksesvolle militêre ekspedisie teen die Nederlanders in die Kaap van stapel gestuur, met die Slag van Muizenberg op 7 Augustus 1795 tot gevolg. Omdat Kaapstad se kuslyn dus altyd die een of ander vorm van beskerming nodig gehad het, is verskeie forte opgerig, waarvan die Kasteel die Goeie Hoop die bekendste is. By die Waterfront, naby die kloktoring, is die Chavonnes Battery geleë, waarvan die oorspronklike mure met klippe van Robbeneiland gebou is. Die battery is met kanonne gewapen wat spesifiek opgerig is om Tafelbaai te verdedig, maar dit het ook as ’n voorpos, tronk en slawehuis gedien in die tyd van die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie in die Kaap (1652–1795).

Die Chavonnes Battery is naby die kloktoring en daar is ’n baie informatiewe museum wat besoekers aangemoedig word om te besoek vir verdere inligting oor die garnisoene en forte wat Kaapstad se kuslyn tydens die Nederlandse, Franse en Britse tydperke in die geskiedenis teen invalle beskerm het. Vir inligting oor die historiese aspekte van dié baken, besoek www.aco-associates.com, en vir ’n historiese blik op die Chavonnes Battery, veral oor die uitgrawings so onlangs as 1999, besoek die museum se webtuiste by www.chavonnesbattery.co.za.

Reg langs die Chavonnes Battery is Cape Town Fish Market, wat vars vis op die seefront bedien (sien www.ctfm.co.za). Cape Town Fish Market het sy eie storie om te vertel. Die restaurant word gekenmerk aan vars (nie bevrore nie) bestanddele en ’n ontspanne atmosfeer. Dit het as ’n familiebesigheid ontstaan en die oorspronklike eienaar, Douw Krugmann, wil die instelling dinamies hou, maar altyd die onmisbare Suid-Afrikaanse eienskappe behou en terselfdertyd eienskappe van die Japannese kookkuns inkorporeer – van vis en tjips, tot klassieke sasjimi.

Cape Town Fish Market by die Waterfront, aan die kloktoringkant van die V&A Waterfront, naby die Nelson Mandela Gateway

Vanaf hierdie deel van die Waterfront is Robbeneiland toeganklik via die Nelson Mandela Gateway, waar besoekers kaartjies kan koop om van hier oor die baai na Robbeneiland te vaar. Hul begeleide toer is net so boeiend soos wat dit skouspelagtig is – ’n moeilike politieke verlede word vanuit die perspektief van gekwalifiseerde toergidse weergegee.

Die Nelson Mandela Gateway na Robbeneiland (Besoek www.robben-island.org.za.)

Die Union Castle-gebou en die Maritieme Museum is ook by die Waterfront geleë. Hierdie geboue is oorkant die Victoria & Alfred Hotel, wat in 1904 as ’n pakhuis vir die noordelike kaai (die North Quay Warehouse) opgerig is. Ook die hotel is vernoem na koningin Victoria en haar seun prins Alfred, wat ’n rol gespeel het in die oprig van die hawehoofkom, wat nou die Victoria & Alfred Waterfront is. Die Union Castle-gebou spog met die Suid-Afrikaanse Maritieme Museum. Die gebou is in 1919 spesifiek vir die Union Castle-redery gebou en stel nou die maritieme geskiedenis van Tafelbaai ten toon en spog met die grootste versameling modelskepe in Suid-Afrika.

Vir meer inligting oor die Union Castle-gebou, besoek www.cape-town-heritage.co.za, en vir die Maritieme Museum www.iziko.org.za.

Die Victoria & Alfred Hotel het uitsonderlike restaurante en pragtige uitsigte oor die hawe en Tafelberg. Langs die hotel is Den Anker, waar jy vars seekos kan kry. Kyk na hulle spyskaart vir die vangs van die dag en probeer gerus die kreef, kammossels en Noordseegarnale (ingevoer uit Europa), en ook die vars tuna saam met ’n glas wyn van ’n verskeidenheid van die beste wynplase in die Kaap.

Restaurante wat spesifiek vis bedien is volop by die Waterfront. Harbour House hou wag oor die hawe en besonderhede oor hul disse van die dag en vars vis verskyn op swartborde by die ingang. Besoek www.harbourhouse.co.za.

Baia bied ongetwyfeld een van die Waterfront se beste seekoservarings. Die varsste vis waarborg die beste geure, en asemrowende uitsigte oor die hawe en Tafelberg dra by tot die besonderse ervaring. Die personeel word voor elke aandete goed voorberei en is hoogs professioneel, vriendelik en ingelig. Goeie bestuur verseker die beste diens. Maar uiteindelik gaan dit oor die kos. Probeer gerus die kosborde, wat bedien word met ’n verskeidenheid souse, van knoffelbotter tot peri-peri. Hulle het ook ’n groot en uitstekende verskeidenheid wyne. Besoek Baia se webtuiste by www.baiarestaurant.co.za.

Probeer gerus die heerlike kreefbisque by Baia.

Die garnale en langoestien by Baia is verruklik.

Terwyl ek geëet het, het ek deur ’n kopie van Leipoldt's Food & Wine geblaai wat ek onder by Exclusive Books gekoop het en opgelees oor Kaapstad se seekostradisie en moontlike seekosdisse om voor te berei. Van die disse is effens oudmodies, maar tog die moeite werd om te probeer. Vir my was die mees opvallende ding hoe die kosconnoisseur C Louis Leipoldt, wat onder sjef Auguste Escoffier by die Savoy in Londen gewerk het, wyn en vis kombineer.

Eindig ’n verfrissende eetervaring by die Waterfront af met ’n drankie by die Union Bar in Tafelbaai, waar Kaapstad se verbintenis met die see en die neerslag daarvan in die kos, ruimtes en geskiedenis gevier word. In die kroeg dokumenteer prente teen die muur ’n deel hiervan: ’n stad deurdrenk van maritieme geskiedenis.

Besoek die Table Bay Hotel se webtuiste by www.suninternational.com.

Alle foto's deur Paul Murray

Buro: LE
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top