Winnie Mandela was geliefd én gehaat

  • 0

 

By Superikonoskop - Own work, CC BY-SA 3.0, https://commons.wikimedia.org/w/index.php?curid=34849297

By miljoene geliefd en deur duisende gehaat. Dit is die nalatenskap van die struggle-veteraan Winnie Madikizela-Mandela wat die afgelope week op 81-jarige ouderdom oorlede is.

Die moeder van die nasie, soos sy bekend gestaan het, was ’n komplekse persoon maar vir miljoene Suid-Afrikaners ’n ANC-ikoon. Sy het haar dikwels die gramskap van haar eie party en selfs haar man Nelson Mandela van wie sy geskei was, op die hals gehaal.

Ten spyte van haar omstredenheid sal sy onthou word as ’n stem vir die stemloses tydens Suid-Afrika se apartheidsjare. Dit was veral tydens Mandela se 27 jaar in die tronk dat sy ’n simbool geword het van die stryd teen apartheid.

Dit was ’n stryd wat nie sonder ’n prys gekom het nie. Sy is voortdurend deur die veiligheidsmagte geteister tydens die apartheidsjare maar het regdeur haar lewe geweier om die knie te buig in haar stryd teen apartheid.

Sy was ook die heel eerste swart vrou in Suid-Afrika wat as welsynswerker by die Baragwanath-hospitaal in Johannesburg aangestel is nadat sy haar studies voltooi het.

In 1976 is sy deur die apartheidsregering uit haar huis in Soweto verban en gedwing om na Brandfort in die Vrystaat te verhuis waar sy tot 1985 gewoon het.

In die tagtigerjare het Mandela se reputasie ’n ernstige knou gekry. Die Mandela United Football Club wat as haar lyfwagte opgetree het, is van ernstige menseregteskendings beskuldig, onder andere intimidasie, ontvoering en selfs moord. Sy is in 1994 aangekla van ontvoering en aanranding van Stompie Seipie en een van haar lyfwagte van moord. ’n Sesjaar-vonnis teen haar is op appèl verander na ’n boete en ’n opgeskorte vonnis van twee jaar. Sy het tot haar dood ontken dat sy ’n aandeel gehad het aan Stompie se dood.

Die Waarheid-en-Versoeningskommissie het egter bevind dat sy wel verantwoordelik was vir growwe menseregteskendings weens die moorde en aanranding wat deur haar lyfwagte gepleeg is.

Haar politieke loopbaan en privaat lewe na haar man se vrylating was ewe stormagtig. Twee jaar na Nelson Mandela se vrylating is hulle geskei. Sy was ook nie ’n groot sukses as adjunkminister nie. Elf maande na haar aanstelling in 1994 as adjunkminister van kuns, kultuur, wetenskap en tegnologie is sy deur haar gewese man Nelson Mandela afgedank na beskuldigings van korrupsie.

Ondanks haar omstredenheid sal Winnie Madikizela-Mandela onthou word vir haar charismatiese persoonlikheid, onverskrokke veggees en haar leeue-aandeel in die stryd teen apartheid.

Sedert haar dood stroom huldeblyke van regoor die wêreld in. Selfs emeritus aartsbiskop Desmond Tutu met wie sy nie altyd om dieselfde vuur gesit het nie, het haar nalatenskap in ’n verklaring geëer. Tutu sê haar weerstand teen apartheid was vir hom ’n persoonlike inspirasie. Opposisiepartye in Suid-Afrika het ook hulde gebring aan die vrou wat onder die grootste deel van die bevolking byna ikoniese status in Suid-Afrika verwerf het.

Haar dood het feitlik alle gesprekke op sosiale media oorheers. Die reaksies op sosiale media was soos te wagte uiteenlopend en in baie gevalle uiters rassisties en negatief. Dit is egter oorskadu deur boodskappe van medelye, selfs van mense wat nie haar politieke sentimente altyd gedeel het nie.

’n Voormalige Nasionale Party-politikus wat later lid van die ANC geword het, Pierre-Jean Gerber, sê haar kantoor was vyf deure van sy kantoor op die vierde vloer van die Parlement. “Jy het geweet as sy in haar kantoor was, daar was altyd ’n roering of twee, altyd ’n sekuriteitswag of twee in die gang.”

Gerber het op Facebook vertel hy was bevoorreg om haar stel "Butterworth's Statutes of South Africa" te "erf" toe sy haar kantore destyds ontruim het. “Daarin het ek die ses ou ‘kerkwette’ wat nog op die wetboeke was, en wat meestal na verskillende rasse ook verwys het, ontdek. Die feit dat dit Ma Winnie se stel wetboeke was, het my gemotiveer om hierdie ses stukke wetgewing te laat afskaf. Al hoe ek dit kon doen, was om elkeen deur middel van ’n privaatwet te laat afskaf.”

Dit het hom 18 maande geneem vandat hy die ses privaatwette ingedien het totdat die ses wette aanvaar is deur beide die Nasionale Raad van Provinsies sowel as die Parlement. Gerber sê elke keer as hy wou tou opgooi, het hy homself net weer herinner aan wie die stel wetboeke behoort het, en dat daar ’n rede was hoekom sy dit vir hom gelos het.

Tot vandag toe is die ses privaatwette die meeste deur een LP ooit deurgevoer in ons parlementêre geskiedenis. Gerber het haar ook in sy parlementêre toespraak tydens die aanvaarding van die privaatwette geëer vir die voorreg wat sy oor sy pad gebring het.

Buro: NB
  • 0
Top