Die vrystelling van die slawe aan die Kaap de Goede Hoop op 1 Desember 1834 is ’n gebeurtenis wat ’n onuitwisbare nalatenskap op die Suid-Afrikaanse samelewing gehad het, sê Danie van Wyk, uitvoerende voorsitter van die DAK Netwerk.
Die onlangse besoek van die Nederlandse koning Willem-Alexander en koningin Maxima aan Suid-Afrika, maar veral hul besoek aan Kaapstad, het die kwessie van slawerny aan die Kaap weer eens op die voorgrond geplaas. Oproepe tot die koning en die Nederlandse regering is gedoen om ’n onvoorwaardelike, amptelike en openbare verskoning aan te bied vir kolonialisme en veral slawerny wat daarmee gepaard gegaan het. Dit sou niks minder as reg wees as die koning sou erken dat die onmenslike behandeling van slawe aan die Kaap beskou kan word as ’n misdaad teen die mensdom nie. ’n Verskoning van die koning sou ’n historiese geleentheid kon wees en sou waarde toevoeg tot sy ontevredenheid oor die wandade van kolonialisme. Sy verskoning sou spreek tot die hart van die slagoffers.
Die verdere vraag wat ontstaan, is of daar reparasie aangebied moet word aan historiese afstammelinge van die slawe en op watter wyse so iets moet geskied. Dit is duidelik dat die oorgrote meerderheid van afstammelinge bruin mense en mense van die eerstenasie is. Slawerny was nie van toepassing slegs op ingevoerde slawe vanaf die Ooste en Afrika nie, maar ook op die plaaslike Khoi- en San-mense wat van hul vee en grond onteien en gestroop is. Dit is ’n feit dat die afskaffing van slawerny ook tot groot ontevredenheid gelei het onder die Afrikaners van die tyd en dat dit een van die direkte oorsake was van die Groot Trek, omdat vergoeding aan slawe-eienaars tot hul ontevredenheid en afkeer van die Britse regering gelei het wat op daardie stadium die koloniale moondheid was.
........
Die verdere vraag wat ontstaan, is of daar reparasie aangebied moet word aan historiese afstammelinge van die slawe en op watter wyse so iets moet geskied.
........
Die invloed van slawe op die lewe en kultuur van mense aan die Kaap kan nie onderskat word nie. Dit spreek tot ons deur tradisionele resepte en kookkuns, sang, musiek, vakmanskap soos skrynwerk, boumetodes, kleremakery en vele ander. Een van die grootste nalatenskappe van die slawe aan die Kaap is die Afrikaanse taal. Dit was ’n manier van kommunikasie onder die slawe wat vanaf verskillende wêrelddele gekom en verskillende tale gebesig het. Die ontwikkeling van ’n taal om met mekaar te skakel op die landerye, op wasklippe of in die slawelosies het gelei tot die aanpassing van die koloniale taal, Nederlands, om dit verstaanbaar onder hulleself te maak. Vandag is hierdie oorspronklike “kombuistaal”, Afrikaans, een van die amptelike tale van Suid-Afrika. Hiervoor kry die slawe geen of weinig erkenning.
Daar was op ’n stadium meer slawe aan die Kaap as koloniste. Enige teken van opstand of ontevredenheid is meedoënloos onderdruk deur teregstellings of swaar en onmenslike tronkstrawwe. Sprake van menseregte was daar nie, nog minder van begenadiging. Dit alles in ag genome kan die vrystelling van die slawe nie gevier word nie. Dit was nie ’n oorwinning van hulle kant nie, maar ’n edik wat deur die Britse regering uitgevaardig is waarin hulle vrystelling gewaarborg is, alhoewel die werklike vrystelling in 1838 vir alle praktiese redes plaasgevind het. ’n Herdenking van die vrystelling van die slawe sal meer gepas wees. Dit kan geskied deur gewyde byeenkomste en musiekuitvoerings. In Amerika is die vrystelling van die slawe aldaar tot ’n vakansiedag verklaar. Die gebeurtenis staan bekend as Juneteenth National Independence Day. “Juneteenth” is kort vir “June Nineteenth”, omdat die slawe op 19 Junie 1865 vrygestel is. Aanvanklik is dit slegs in die staat Texas gevier, maar dit het geleidelik uitgebrei tot waar dit vandag in alle state gevier word. Op 17 Junie 2021 is die dag tot ’n amptelike vakansiedag verklaar en vorm dit nou deel van die Verenigde State van Amerika se amptelike vakansiedae. Die dag gaan gepaard met groot feesvieringe en optogte.
........
Dit alles in ag genome kan die vrystelling van die slawe nie gevier word nie. Dit was nie ’n oorwinning van hulle kant nie, maar ’n edik wat deur die Britse regering uitgevaardig is waarin hulle vrystelling gewaarborg is ... ’n Herdenking van die vrystelling van die slawe sal meer gepas wees.
........
In Suid-Afrika, waar die slawevrystelling byna 30 jaar voor die vrystelling van slawe in Amerika plaasgevind het, is dit ’n ongesiene gebeurtenis. Dit is opvallend dat daar geen nuusberigte in die media of enige aankondigings van die kant van die regering kom nie. Dit is opvallend watter lae profiel slawerny in die geskiedenisboeke en leerplanne in Suid-Afrikaanse skole het. Daar is wel ’n verwysing na slawerny, maar nie ’n in-diepte-bespreking of -behandeling nie. Dit word hanteer as ’n bysaak wat nie veel belang het nie. Dit sou van groter belang wees sou die regering dit oorweeg om erkenning te gee aan hierdie historiese geleentheid. Dit kan ten minste deur die Wes-Kaapse regering oorweeg word om 1 Desember as ’n nie-amptelike vakansiedag te verklaar en op hierdie wyse waardigheid aan die lewens van gestorwe slawe terug te gee. Die moontlikheid kan ook oorweeg word om ’n gedenkteken tot eer van die bydraes wat slawe gelewer het tot die ontwikkeling van Suid-Afrika in geheel, op te rig. Dit sal ook die dag beklemtoon as ’n dag van herdenking aan hulle wat ons voorafgegaan het.
Die aanvanklike arbeidsprobleem aan die Kaap het ontwikkel tot deel van die internasionale slawehandel. Die koms van die Amersfoort op 28 Maart 1658, met slawe aan boord, het die handel in slawe aan die Kaap gevestig. Later het meer skepe gevolg waarvan die Hassalt die belangrikste was. Die Kaapkolonie het vanaf ’n setlaarsgemeenskap tot ’n kolonie van slawerny gegroei. Slawe is name gegee wat by die uitspraak en taal van die koloniste gepas het. Jong mans en vroue was duurder, omdat hulle sterk was om handearbeid te verrig.
........
Die doel van hierdie skrywe is nie om slawerny aan die Kaap te beskryf nie, maar bloot ’n argument op te bou waarom reparasie só ’n ernstige oproep en beroep is om te oorweeg, veral in hierdie geval deur die Nederlandse koningshuis en die Nederlandse regering.
........
Die doel van hierdie skrywe is nie om slawerny aan die Kaap te beskryf nie, maar bloot ’n argument op te bou waarom reparasie só ’n ernstige oproep en beroep is om te oorweeg, veral in hierdie geval deur die Nederlandse koningshuis en die Nederlandse regering. Voorstelle van reparasie wissel van ’n ontwikkelingsfonds tot die daarstelling of stigting van ’n Afrikaanse universiteit in die Wes-Kaap om veral bruin mense wat direkte afstammelinge van slawe is, opvoedkundig te bemagtig. Afrikaans as onderrigtaal is feitlik deur alle universiteite in Suid-Afrika afgeskaf, wat toegang vir bruin, Afrikaanssprekende leerders feitlik onmoontlik maak om in hul moedertaal onderrig te ontvang. Geen wonder dat slegs 4,6% van bruin studente aan tersiêre inrigtings studeer nie, wat die laagste persentasie van alle bevolkingsgroepe is.
Die koning van Nederland het ’n goue geleentheid deur sy hande laat glip om reparasie in alle erns aan te pak. Dit sal nie slegs ’n bydrae lewer tot versoening nie, maar ook om die verlede se onreg op ’n tasbare wyse te hanteer. Dit bly steeds ons wens dat daar wel op ’n dag aandag aan hierdie pleidooi gegee sal word.
Die vrystelling van die slawe móét herdenk word in die nabye toekoms.
Ten slotte: Net soos daar reparasie en verskoning van die Nederlandse koningshuis en die Nederlandse regering geëis word, net so kan in dieselfde asem dieselfde van die Britse koningshuis en die Britse regering geëis word vir die onreg gepleeg aan Boere-vroue en -kinders in konsentrasiekampe gedurende die Anglo-Boereoorlog.
Lees ook:
Die vrystelling van slawe, uit die argief: My naam is Februarie