Bernard Odendaal is ’n buitengewone professor verbonde aan die Navorsingseenheid vir Tale en Letterkunde in die Suid-Afrikaanse Konteks van die Noordwes-Universiteit. Twee digbundels uit sy pen, Onbedoelde land in 2007 en Nootvat. Kwashaal. Stapel. in 2021, het by Tafelberg verskyn. In 2020 sien Kruis van liefde by Naledi die lig – ’n bundel Paasgedigte en -liedtekste wat hy saam met Hans du Plessis geskep het. ’n Oratorium, met toonsettings deur Franco Prinsloo, het hieruit voortgespruit. As liedteksskrywer en -vertaler het Bernard voorts meegewerk aan vyf CD’s, veral met die sanger Herman van den Berg. ’n Bundel getiteld Piaf&Brel. Luisterryk, wat in Maart 2023 by Imprimatur verskyn het, bevat ’n versameling liedvertalings uit die Frans waaraan hy met Naòmi Morgan meegewerk het. As Afrikaanse en Nederlandse letterkundige is hy die skrywer van sowat 70 vakkundige artikels en boekbydraes, asook van meer as 300 resensies en rubrieke. ’n Keur uit sy rubrieke, Woorde hul storie sien ken, is in 2016 deur Naledi gepubliseer.