Cas Vos is met die Andrew Murray-prys en ’n prys van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns bekroon.
Van 2004 tot 2006 was hy president van die internasionale Homiletica Societas.
In 2017 is Die Orde van die Goue Pen vir sy literêre werk aan hom toegeken deur die Cordis Trust. Hy het reeds 11 digbundels die lig laat sien. Daar het ook sy vertalings van Homerus se Ilias en Odusseia uit Grieks verskyn.
In 2017 het hy grepe uit Dante se “La Divina Commedia” uit Italiaans vertaal in sy publikasie Die Goddelike komedie, en in 2018 verskyn sy vertaling van Dante se “Il Paradiso”. Dit is deur Ernst Kotzé met “Magnifico!” begroet.
In 2019 verskyn Cas se 11de digbundel, Vlug van die gees. Johan Myburg, digter en resensent, skryf oor die bundel dat dit “getuig van harmoniese bedrewenheid én van verse wat ontwrigtend lyk en gestroop voorkom van poëtiese eienskappe”. In die vertalings van Dante is “soepel omskrywings waarin sy eie poëtiese hand seëvier”. ’n Nuwe bundel, Onder die vlerke van jou liefde, verskyn binnekort.