Dineke Ehlers

Dineke Ehlers is gebore in Nederland (Den Haag, 1959) en het in 1974 saam met haar ouers en broers en susters na Suid-Afrika geëmigreer. Na voltooiing van haar skoolloopbaan het sy tale gaan studeer aan die Universiteit van Pretoria en die grade BA (1979) en BA (Hons) in Afrikaans-Nederlands (1980) behaal, beide cum laude. In 1981 is sy aangestel as dosent in die Departement Afrikaans en Nederlands aan Unisa, waar sy in 1986 die graad MA in Afrikaans en Nederlands (cum laude) behaal met ’n verhandeling getitel Die taalgebruik in die dagboek van Hendrik Witbooi. Haar eerste akademiese belangstelling en doseeropdrag was historiese taalkunde, later gevolg deur taalgebruikskunde, redaksionele praktyk, oorredende tekste, Nederlandse taalonderrig en dokument-ontwerp.

Na haar voltydse verbintenis van ruim 25 jaar aan Unisa het sy in 2007 ’n vryskutloopbaan begin as vertaler en teksredakteur vir verskeie uitgewerye en akademiese instellings, terwyl sy ook nog deeltyds as gasdosent aan Unisa, UP en UJ verbonde was. In 2015 verhuis sy met haar man naar Duitsland, waar sy tans woon en haar vryskutloopbaan voortsit. Behoudens ’n aantal akademiese publikasies was sy die mede-outeur van Oranje boven: Nederlands voor Zuid-Afrika (2004, saam met Pieta van Beek) en het sy die boek The first female university student: Anna-Maria van Schurman (1636) uit Nederlands na Engels vertaal, saam met dr. Anna-Mart Bonthuys. Leiden University Press het haar in 2016 genader vir die teksredaksie van die hele manuskrip asook die vertaling van die ouer tekste (tot ongeveer die begin van die 20e eeu) in die monumentale werk My mother’s mother’s mother op grond van haar kennis van ouer Afrikaanse/Nederlandse tekste, die idioom wat tipies is van die calvinisties- en piëtisties-gekleurde tekste deur vroueskrywers en haar moedertaalkennis van Nederlands.

Toyota US Woordfees 2020: My moeder se moeder se moedertaal

Menán van Heerden, Pieta van Beek, Dineke Ehlers Interviews 2020-03-10

My Mother’s Mother’s Mother: South African Women’s Writing from 17th-Century Dutch to Contemporary Afrikaans is die grootste boek nóg oor Afrikaanse vroueliteratuur. Komende Donderdag 12 Maart gesels Anastasia de Vries met die skrywers Pieta van Beek en Annemarié van Niekerk by die Toyota US Woordfees. Menán van Heerden gesels met Pieta oor die heel vroegste teks wat deur ’n vrou, in haar eie woorde, geskryf is, oor die navorsingsproses en vandag se vroulike trailblazers. Dineke Ehlers, vertaler van die ouer, voorheen meestal ongepubliseerde tekste in die boek, vertel meer oor die vertalingsproses en taalontwikkeling. 

Verified by MonsterInsights
Top