Elize Vos verwerf haar BA, HOD, BA Hons, MA (cum laude) en PhD aan die Noordwes-Universiteit, Potchefstroomkampus. Sy was vir 23 jaar ʼn Afrikaans Huistaal-onderwyseres (18 jaar agtereenvolgens aan matrikulante), en vir 12 jaar ’n Noordwes-hoofeksaminator van die Seniorsertifikaateksamen (Afrikaans Huistaal, Vraestel 2, Literatuurstudie). In 2011 is sy in die Fakulteit Opvoedkunde in die Vakgroep Afrikaans vir Onderwys aangestel waar sy vanaf Januarie 2016 as vakvoorsitter leiding binne die vakgroep verskaf. Haar navorsingsfokus is die leesmotivering van Afrikaanssprekende adolessentelesers en haar ander spesialiseringsgebiede wat by genoemde fokus aansluit, is kinder- en jeugliteratuur, Afrikaanse prosa en poësie en Afrikaansmetodiek vir die Senior en Verdere Onderwys- en Opleidingsfase. Verskeie artikels in geakkrediteerde vaktydskrifte het al uit haar pen verskyn en sy lewer gereeld referate by nasionale en internasionale konferensies.