Lien Botha

Lien Botha is bekend vir haar fotografiese werk wat dikwels met teks gemoeid is. Sy is in Pretoria gebore en getoë, het tale studeer aan die Universiteit van Pretoria en in die vroeë 1980’s as persfotograaf by Beeld gewerk.

In Januarie 1984 klim sy in haar wit Kewer en ry Kaap toe. Vier jaar later verwerf sy ’n graad in visuele kunste aan die Universiteit van Kaapstad, en in die jare wat volg, lewer sy 12 solo-uitstallings, neem deel aan digby 100 internasionale en plaaslike groeptentoonstellings en gee klas by verskeie tersiêre instansies. Sy word in 1997 bekroon as Standard Bank Jong Kunstenaar vir Visuele Kuns.

Haar debuutroman, Wonderboom, wat in Junie 2015 by Queillerie verskyn het, is die resultaat van ’n meestersgraad in kreatiewe skryfkuns wat sy in 2014 onder leiding van Etienne van Heerden aan die Universiteit van Kaapstad voltooi het. In 2016 het Wonderboom die kortlyste gehaal van die UJ-debuutprys en WA Hofmeyr-prys en ontvang dit die 2016 WOORDtroFEE vir Visuele Kuns by die Woordfees, sowel as die Huisgenoot Tempo-toekenning Leesboek van die jaar.

Hierop volg die Jan Rabie-Rapportprys en die Eugène Maraisprys vir prosa.

In September 2016 neem Lien deel aan die Week van de Afrikaanse roman wat in Nederland en Vlaandere gehou word en in Oktober van dieselfde jaar vorm die visuele komponent van Wonderboom deel van Botha se solo-uitstalling by 1:54 Kontemporêre Afrika-kuns in Londen.

Botha is tans besig met haar tweede roman. Sy is getroud met die argitektuur-en-erfenis-praktisyn Raymond Smith. Hulle woon in Bettysbaai.

LitNet-argief: Hersenspinsels oor die Week van de Afrikaanse roman 2016

Lien Botha Reizen 2016-11-11

"Nederlands wieg teen mens aan soos ’n skip wat kraak teen ’n wye see. Maar ook hoor jy breinaalde."

Top