Naòmi Morgan is hoof van die Afdeling Frans by die Universiteit van die Vrystaat. Sy het ’n parallelle loopbaan as literêre vertaler, wat vertaling van dramatekste soos Oskar en die pienk tannie en Monsieur Ibrahim en die blomme van die Koran (beide Eric-Emmanuel Schmitt) insluit.
Haar 2017-vertaling van Antoine de Saint-Exupéry se Die klein prinsie vir ’n woordkunsproduksie by die Vrystaatse Kunstefees besorg aan Chris van Niekerk die toekenning as Beste Vrystaatse Kunstenaar.
Sy het reeds verskeie toekennings vir haar bydrae tot die vertaalkuns in die taalpaar Frans-Afrikaans ontvang: Sy is onder andere ’n Chevalier des Arts et des Lettres de la République Française (Ridder in Kunste en Lettere van die Franse Republiek) en het in 2015 die Suid-Afrikaanse Vertalersinstituut se prys vir Uitnemendheid in die Vertaling van Kinderliteratuur ontvang vir bogenoemde twee Schmitt-tekste. Haar Franse vertaling van François Smith se Kamphoer verskyn in 2021 by Actes Sud in Frankryk as Fille à soldats.