Pieter GR de Villiers

Pieter GR de Villiers voltooi sy studie aan die Universiteit Stellenbosch (US) met ’n BA (cum laude) in 1966, ’n BA Honneurs (in Grieks, cum laude) in Maart 1969, ’n BTh (cum laude) in November 1969 en ’n LicTheol (cum laude) in 1974. Sy doktorale studie voltooi hy aan die Teologiese Universiteit in Kampen in Nederland (ThDrs, 1973) en aan die US (DTh, 1976). Hy beklee akademiese poste aan die US (1971–84), die Universiteit van Suid-Afrika (1984–88) en Rhodes Universiteit (1989–2002). Sedert 2002 is hy verbonde aan die Universiteit van die Vrystaat (UV), waar hy buitengewone professor in die Departement Nuwe Testament is.

De Villiers het reeds 95 referate by internasionale en nasionale byeenkomste en vakverenigings gelewer en was al gasdosent by universiteite in die Verenigde Koninkryk, Namibië, Switserland, Rusland, Nederland, België en die VSA. Hy was en is lid van 15 nasionale en internasionale vakverenigings, onder andere, op uitnodiging, van die Studiorum Novi Testamenti Societas. Hy was lid van die bestuur van die Nuwe-Testamentiese Werkgemeenskap van Suid-Afrika en die Assosiasie van Suidelike Afrikaanse Teologiese Instellings, en voorsitter van die Suider-Afrikaanse Vereniging vir Bybel- en Godsdienskunde, die DAAD Alumni-Assosiasie van Suid-Afrika en die Spiritualiteitsassosiasie van Suid-Afrika. Hy dien in die raad van direkteure van die Internasionale Vereniging vir die Studie van Christelike Spiritualiteit (Society for the Study of Christian Spirituality; SSCS), ’n affiliaat van die Amerikaanse Akademie vir Godsdiens (American Academy of Religion; AAR). Hy was van 2015 die visepresident en van 2017 tot 2018 die president van die vereniging.

Hy is die skrywer van 140 wetenskaplike artikels, het 16 boeke geskryf of geredigeer en sewe boeke vertaal, en het reeds as studieleier van 30 nagraadse studente opgetree. Hy was redakteur van Neotestamentica, die nasionale Nuwe Testament-vaktydskrif van die Nuwe-Testamentiese Werkgemeenskap van Suid-Afrika(1981–88). Hy was ook verbonde aan die redaksie van verskeie ander vaktydskrifte.

Sedert 1997 is hy toenemend betrokke by die doseer van spiritualiteit, eers aan Rhodes Universiteit en daarna aan die UV. Sedert 2007 is hy die kursusorganiseerder vir ’n gedoseerde meestersgraad in spiritualiteit aan die UV, waar 25 M-studente hul studie in spiritualiteit voltooi het of aan die voltooi is. Hy is ook aktief betrokke by navorsing oor geweld en vrede, waaroor hy tans verskeie navorsingsprojekte organiseer.

Hy het gedurende sy akademiese loopbaan verskeie senior navorsingstoekennings en -beurse van die Nasionale Navorsingstigting (NRF) in samewerking met sy universiteite ontvang vir navorsing in Duitsland (Göttingen, München en Regensburg) en Amerika (Duke en Yale) om referate by internasionale konferensies te lewer, internasionale kundiges na Suid-Afrika te bring, en as senior akademikus meesters- en doktorale studente te begelei en te befonds. Hy was ses jaar lank (waarvan twee jaar as voorsitter) ook ’n lid van die adviespaneel vir teologie, godsdiensstudies en Antieke en Nabye-Oosterse Studies van die NRF.

Pieter is getroud met Susan, ’n universiteitsbibliotekaris, is die pa van drie dogters en het twee kleinkinders. Hy is ’n aktiewe muurbalspeler en neem soms aan marathons deel.

Die Voortrekkermonument: ’n onderhoud

Pieter GR de Villiers, Dolf Britz Geschiedenis 2018-08-16

"Die Voortrekkermonument van Pretoria is onteenseglik een van die merkwaardigste geboue en monumente in ons land. Die gebou maak eenvoudig ’n stelling wat reaksie oproep en navorsing inspireer. Dit word verdag gemaak (’n Vrymesselaarstempel), afgemaak (’n fascistiese struktuur) en opgehemel (vergestalting van die Afrikanerroeping)."

Verified by MonsterInsights
Top