Valda Jansen hou van mooi woorde, onbekende strate, Kaapstad en Kreta, en van mense wat sy kan vertrou. Bo alles glo sy onwrikbaar in boeke. Nadat haar dogtertjie gebore is, was Valda in die wolke – sy hoef toe nie meer skuldig te voel om arms vol kinderboeke te koop nie of om saam met haar dogter in ’n restaurant te sit en inkleur nie.
Voordat Valda se roman, Hy kom met die skoenlappers, in Junie 2016 verskyn, het sy gedigte geskryf. Sy debuteer in 1989 toe van haar gedigte opgeneem word in I Qabane Labantu, die versamelbundel van versetpoësie onder redaksie van Ampie Coetzee en Hein Willemse en daarna ook in die versamelbundel Optog (1990). Haar gedig “Toe skoene” word opgeneem in Gerrit Komrij se bloemlesing Die Afrikaanse poësie in ’n duisend en enkele gedigte en van haar gedigte verskyn ook in Groot verseboek. Haar kortverhaal “Mooi Melissa” verskyn in Boeke-Insig van Lente 2007.