...
Ongelukkig is die keuse vir Oekraïne op 9 Mei 2022 baie soortgelyk aan dié vir Pole op 9 Mei 1945: Veg teen die Russe, of kies om onder Rusland se duim te bly?
...
Popiół i diament (As en diamant) is een van die grootste en bekendste Poolse films van alle tye. Die storie begin op 8 Mei 1945 en eindig met sonopkoms op 9 Mei 1945.
Andrzej Wajda het die film in 1958, 13 jaar ná die einde van die Tweede Wêreldoorlog, gemaak. Dit het steeds veel te sê vir ons almal vandag.
Die Poolse film is met Engelse onderskrifte beskikbaar op die katalogus van The Criterion Collection onder die titel Ashes + Diamonds.
Die datums 8 en 9 Mei was vir jare lank dae van verligting, maar in 2022 het 9 Mei skielik ’n skrikdag geword; iets wat dalk geëggo word in Wajda se film.
Voor ons terugkeer na die film, ’n klein geskiedkundige oorsig rondom die datums 8 en 9 Mei.
Die belang van 9 Mei
Op 30 April 1945 het Hitler sy gesin en homself doodgemaak. Direk daarna het sy opvolger onderhandelinge van stapel gestuur om die oorlog te stop.
Op 7 Mei dis ’n voorlopige vredesooreenkoms gesluit. Die nuus het versprei. Enorme feesvieringe het in die Verenigde Koninkryk en die VSA uitgebreek.
Die partytjie het al vroeg begin, op 8 Mei, maar die ware, finale ooreenkoms vir Duitsland om alle magte te deaktiveer, is in Berlyn gesluit en onderteken een minuut na 11-uur die nag, Berlynse tyd.
In die VK en selfs in die toenmalige Oos-Duitsland sou 8 Mei altyd die dag wees waarop die oorlog geëindig het, maar in Moskou was dit reeds die oggend van 9 Mei toe die ooreenkoms geteken is.
Rusland sou dus 9 Mei beskou as die dag toe Hitler se Nazi’s finaal verslaan is. (Die Russe het 27 miljoen soldate in daardie oorlog verloor.)
In Rusland is die dag wel herdenk, maar nie noodwendig met groot militêre vertoon nie.
In 1995 het Boris Jeltsin ’n groot viering op 9 Mei gehou om die 50ste herdenking van die oorwinning te vier, maar Wladimir Poetin het sedert 2008 gesorg vir ’n jaarlikse militêre skouspel op 9 Mei wat baie sterk trek op Noord-Korea se militêre vertonings tydens groot herdenkings.
Hitler was natuurlik ewe lief vir sulke magsvertonings.
In 2022 is die letter Z orals te bespeur in die opbou tot die enorme parade op die Rooi Plein.
Verskeie Europese nuusagentskappe dra ook foto’s van vegvliegtuie wat in ’n Z-formasie hulle verbyvlug oefen.
Honderde troepe en swaar wapentuig is ook besig om vir die vertoning te oefen. Hierdie video toon die oefeninge vir die 2022-vieringe.
Poetin probeer sy oorlog in Oekraïne regverdig deur vir die Russiese inwoners te lieg oor die sogenaamde Nazi’s wat in beheer is daar in Oekraïne. Vir Poetin is 9 Mei 2022 geweldig belangrike om sy leuens verder te versprei.
In ’n onlangse onderhoud met Eben Viktor vertel Viktor dat inwoners van Oekraïne die datum baie fyn ophou en baie bang is vir Poetin se dade tot en met die 9de Mei.
Lees ook gerus David Willers se uitstekende artikel oor Poetin se oorlogstrategie.
Met die geskiedenis agter die rug, is die vraag: Waarom sou As en diamant op 8 en 9 Mei afspeel?
...
Vir die mense van Oekraïne gaan 9 Mei geen oorwinning bring nie, want soos Szczuka in die film sê: Selfs al eindig die oorlog eendag, is dit net die begin van die stryd.
...
’n Oorwinning, maar ...
As jy twyfel of jy die film wil sien, sou ek aanraai jy kyk die eerste vyf minute wat op YouTube beskikbaar is.
Ek verklap niks van belang as ek intens oor die eerste vyf minute praat nie, want dit skep ’n uitstekende platform vir die res van die film.
Dit is 8 Mei 1945. Twee sluipmoordenaars van die Poolse weerstandsbeweging brand los op ’n Jeep omdat hulle vermoed een van die insittendes is Szczuka, die sekretaris van die distrik se Werkersparty. Die Werkersparty is uit die aard van die saak kommuniste.
Hulle skiet die twee insittendes dood en maak dat hulle wegkom.
Minute later daag die ware Szczuka op en stop by die lyke. Hy besef dadelik wat aan die gang is en besef dat koeëls vir hom bedoel was.
Meer en meer dorpenaars en boere daag op, want hulle het die skote gehoor.
Hulle herken Szczuka en die twee dooies. Een van oorledenes het pas teruggekeer ná hy in ’n Nazi-strafkamp was en hier word hy geskiet op die dag wat die oorlog verby is.
“Hoe lank gaan dit nog aangaan?” wil dorpenaars by die politikus weet.
Dan maak Szczuka ’n briljante toesprakie: As ’n goeie kommunis gaan hy nie die omstanders as kinders hanteer nie, hy praat liewer die waarheid. Die einde van die oorlog is nie die einde van die Pole se stryd nie. Eintlik het die geveg vir Pole pas begin, sê hy. Vandag of môre kan enige een sterf.
“Goed dan,” sê een van die boere dan, “maar wat sê ons vir sy vrou?”
Weer toon Szczuka sy menslikheid, maar skakel dan oor na politieke leier: “Dis deksels moeilik,” sê hy, “aangesien ek weet daardie koeëls was vir my bedoel. Toe, ruk julleself reg. Elkeen van julle het ’n plig om te vervul terwyl jy nog leef. Dit is die belangrike ding.”
Daarmee draai hy om en ry verder om die aand se feesvieringe te gaan bywoon.
Iets oor die geskiedenis van Pole – om die film te verstaan
Pole se geskiedenis kan vir baie honderde jare teruggevors word. Teen 1569 was Pole een van die grootste lande in Europa.
Dit het egter nie lank geduur nie, want uit Rusland, Pruise (ongeveer die begin van Duitsland) en Habsburg (die saadjie vir die begin van Oostenryk) het daar groot opposisie gekom. Teen 1795 het Pole ophou bestaan as ’n onafhanklike land, maar die inwoners van Pole sou nie rus voor hulle weer hul land sou terugkry nie.
Die Poolse weerstandsbeweging was toe reeds bedrywig.
Aan die einde van die Eerste Wêreldoorlog kon Pole weer as ’n onafhanklike republiek figureer.
In 1939 het Hitler presies dieselfde truuk as Poetin uitgehaal en vir die vrye wêreld ’n middelvinger gewys deur Pole te annekseer met presies dieselfde drogredenasies as wat Poetin nou gebruik om Oekraïne te probeer steel. Dit sou uiteindelik tot die begin van die Tweede Wêreldoorlog lei.
Die Duitsers was brutaal en ontsettend baie Pole is vermoor.
Die Russe het besluit om in te gryp. Saam met die VK en die VSA het hulle Hitler aangepak.
Die Russe se opmars uit die Ooste was veral effektief. Pole is ontset, maar die Russe het geen behoefte gehad om die republiek aan die inwoners terug te besorg nie; hulle wou ’n kommunistiese land hê wat deur Rusland beheer sou word.
Dit is hoekom die Poolse weerstandsbewing teen die einde van die Tweede Wêreldoorlog kommuniste begin teiken het in ’n poging om hulle vryheid terug te kry.
As of ’n diamant?
Andrzej Wajda se Popiół i diament is ’n uitstekende film, want dit is subversief sonder om openlik kant te kies in die konflik.
Die twee sluipmoordenaars besef ’n paar uur ná die oggend se skietery hulle fout en kry opdrag om ’n tweede poging aan te wend. Die probleem is egter: Hulle weet nou die oorlog is verby. Daar wag ’n toekoms op hulle. Moet hulle voortgaan en hulself in gevaar stel? Moet hulle aanhou doodmaak, al is die vrede op hande?
Maciek Chelmicki, die ubercool sluipmoordenaar met jeans en donkerbril, ontmoet dan boonop ’n meisie. Hulle gaan na sy hotelkamer toe – een wat hy opsetlik gehuur het om naby sy teiken te wees.
Terwyl hulle in die bed is, loop sy teiken hoorbaar op en af aan die ander kant van die deur.
Ná goeie seks gaan stap Chelmicki en die beeldskone Krystyna. Hulle kom af op die lyke van die twee mans wat Chelmicki vroeër die dag geskiet het.
Daar, naby die lyke van onskuldige mense, lees die meisie ’n inskripsie op die muur. Die stuk poësie vra: Sal net as oorbly na ’n versengende vuur, of ...?
Sy sukkel om die skrif te lees, maar Chelmicki ken die aanhaling. Dit is geskryf deur Norwid, ’n baie bekende Poolse digter. Hy dra voor: “Of sal die as die glorie dra van ’n diamant soos ’n ster, die môrester van triomf wat nooit sal ophou nie?”
Van daar natuurlik die titel.
Die meisie dink dit is pragtig en vra: “Wat is ons?”
Chelmicki sê vir haar: “O, jy is beslis ’n diamant.”
Oor homself is hy nie so seker nie. Hy moet nou kies: Voer hy sy opdrag uit om die kommunis dood te maak voor die son opkom op 9 Mei, of gaan hy kies om weg te loop en moontlik met die meisie af te haak? Sal die son op 9 Mei hom as ’n vry man sien, of een wat gejag word?
Intussen hoor Szczuka, die kommunis wat moes gesterf het, dat sy eie seun ook deel is van die weerstandbeweging en dat hy in hegtenis geneem is. Hy besluit dan om die oggend van 9 Mei na sy seun toe te stap.
Kyk gerus self. Ek gaan nie die einde verklap nie.
Die coolste sluipmoordenaar vs die menslike kommunis
Die film is gebaseer op Jerzy Andrzejeski se roman met die dieselfde titel. Die roman is in 1948 gepubliseer, tien jaar voor die film gemaak is. Andrzejeski het vir Wajda gehelp om die draaiboek te skep.
Die film was egter veel meer gewild as die roman en dit het deels te doen met die keuse van die akteur, wat die hoofkarakter laat gloei op die silwerdoek.
Maciek Chelmicki se rol in die film word gespeel deur Zbigniew Cybulski ’n briljante akteur. ’n Mens kan die film kyk net vir hierdie man se siniese vertoning. Jy kan nie anders as om van hom te hou nie, al is hy ’n koelbloedige moordenaar.
Szczuka, die kommunis, word gespeel deur Waclaw Zastrzezynksi. Szczuka is nie cool nie. Hy verteenwoordig die nuwe leierskorps in Pole wat moet sin gee aan die land wat bevry is van die Nazi’s, maar nou onder Moskou se duim sou wees. Zastrzezynksi verleen ’n soort swaarwigtigheid aan hierdie karakter.
Paul Coates, ’n professor in film aan die Universiteit van Skotland, skryf in ’n essay wat saam met die film verpak is vir The Criterion Collection: “[I]n that model, of course, tragedy is precipitated not by any flaw within a character but by the collision of two figures, each of whom advocates a one-sided good. Tragedy becomes a matter of situation, not character.”
9 Mei 2022
Vir die mense van Oekraïne gaan 9 Mei geen oorwinning bring nie, want soos Szczuka in die film sê: Selfs al eindig die oorlog eendag, is dit net die begin van die stryd.
Oorlog is bekend daarvoor dat dit stede reduseer tot as – diamante word gewoon nie uit konflik gebore nie.
Ongelukkig is die keuse vir Oekraïne op 9 Mei 2022 baie soortgelyk aan dié vir Pole op 9 Mei 1945: Veg teen die Russe, of kies om onder Rusland se duim te bly?
Kyk gerus As en diamant om te sien hoe Andrzej Wajda vir ons wys hoe “tragedy becomes a matter of situation, not character.”
Lees ook:
’n Onderhoud met Jerzy Koch oor Pole, Rusland en Oekraïne
Interview with a former refugee, Karina Szczurek
Russians: Hostages of our own state
Godsdiens, oorlog en sneeuklokkies in die winter van Oekraïne