Die 2021-F1-seisoen deur die oë van ’n petrolkop

  • 0

Max Verstappen | Pixabay

My naam is Zac Steyn, ek is 19 jaar oud, my eerste woord was “kar” en ek is ’n petrolkop. Ek het F1 begin kyk toe ek nog baie jonk was omdat my oorlede pa en my ma al twee aanhangers is.

Die eerste seisoen wat ek regtig begin volg het, was toe Sebastian Vettel in 2010 sy eerste kampioenskap gewen het. Hy het toe vir Red Bull gery en was hierdie jong Duitse kid wat toe op die ou end vier titels gewen het. Ek het ook van Red Bull as handelsmerk gehou omdat hulle hul vingers in baie pies gehad het. Hulle het X Games, surfing en ’n klomp ander moedswillige stuff geborg.

Deur die jare het my spanne verander. Ek het van Red Bull na Williams toe gegaan omdat Felipe Massa van Ferrari na hulle toe geskuif het. Ek het ook gehou van hoe die kar gelyk het – dit het ’n Martini-logo op gehad – maar daardie ondersteuning het net ’n jaar gehou omdat Felipe toe uitgetree het.

Toe ek jonk was, het ek op ’n stadium gedink ek wil ’n Formule 1-bestuurder word, maar ek was seker so 10 jaar oud toe my ma vir my wys dat ek net ’n sentimeter of twee korter as die bestuurders van daardie jaar was. Net om julle ’n idee te gee: Felipe is 1,66 m lank en ek is nou op 19-jarige ouderdom 1,96 m lank. Ek sou nooit in die kar gepas het nie!

Ek het, soos ek ouer begin word het, meer in die sport as geheel begin belangstel. Alles van die bestuurders, die karre, die enjins, die bande, die tye wat gery word en hoe lank die pit stops is en alles anders oor die spanne. Dit was in daardie tyd wat ek vir Sergio Pérez – almal noem hom Checo – begin volg het. Hy was toe een van Force India se bestuurders en ek het toe al sy talent raakgesien. (Force India het later Racing Point geword en is deesdae Aston Martin.) Verlede jaar het Sergio nog vir Racing Point gejaag en tot sommige mense se skok het hy aanvanklik nie ’n sitplek vir vanjaar gekry nie. Maar hy het toe in 2020 so goed in die tweede helfte van die seisoen gery en selfs in Desember die Sakhir-wedren in Bahrein gewen. Dit het beteken dat Red Bull vir Alex Albon gedrop het, vir Checo die sitplek gegee het en hom Max Verstappen se spanmaat vir die 2021-seisoen gemaak het.

Hierdie jaar het onseker begin omdat die eerste wedren, wat tradisioneel altyd in Australië is, afgestel is as gevolg van Covid. Die eerste wedren was toe in Bahrein. Daar was 22 wedrenne hierdie jaar en dit was van die begin af duidelik dat Red Bull en Mercedes vir die eerste keer in jare karre gehad het wat met mekaar kon meeding. En hulle kan nou maar sê wat hulle wil, maar elke span het ’n nommer een- en ’n nommer twee-drywer en hierdie jaar was dit van die begin af tussen Lewis Hamilton, wat sover al sewe titels gewen het, en Max Verstappen, wat reeds in sy sewende jaar in F1 was, maar nog nie ’n titel kon wen nie.

Ek het hierdie jaar verskeie hoogtepunte gehad. Beslis die grootste daarvan was Checo se podium in Meksiko, waar hy derde gekom het. Hy was die eerste Meksikaan wat dit kon regkry om by die Meksikaanse wedren op die podium te wees. Sy pa en seuntjie, asook die toeskouers, se reaksie het dit meer spesiaal gemaak. Daar was ook sy wen in Azerbaijan waar nie Hamilton óf Verstappen kon klaarmaak nie.

Nog hoogtepunte was die deurbrake van jonger bestuurders soos Lando Norris, Pierre Gasly, Esteban Ocon en Carlos Sainz. Dit voorspel ’n baie opwindende seisoen volgende jaar.

Een ding wat die hel uit my uit irriteer, is die mense wat Formula 1: Drive to survive op Netflix gekyk het en nou skielik dink hulle weet alles. Hulle het vreeslik baie opinies, maar weet nie eens wie kampioene soos Jacques Villeneuve of James Hunt of bestuurders soos Rubens Barrichello, Juan Pablo Montoya of Jochen Mass is nie. Sondag, met die finale wedren, het ’n jong vrou gesê Michael Schumacher was Ferrari se eerste wêreldkampioen. Ek het amper my nek afgeruk. Ek wou haar vra of sy nog nooit van Jody Scheckter gehoor het nie.

Daar is egter ’n positiewe kant aan Drive to survive wat ek seker moet erken. Dit het meer kykers na die sport toe gebring en ek kan deesdae met omtrent al my vriendinne oor F1 praat, en dis ’n goeie ding. Daar was ’n tyd toe ek net een vriend gehad het met wie ek oor karre en motorresies kon praat.

Nou moet ons seker praat oor die olifant in die kamer: Sondag se finale resies. Ek was regtig op my senuwees voor die tyd. Ek kan nie eens sê wie ek wou gehad het moes wen tussen Lewis en Max nie. Alles het redelik goed verloop vir ’n hele paar rondtes. Ek is baie jammer dat Kimi Räikkönen nie kon klaarmaak nie – what a legend! – en Nicholas Latifi se onnodige gemors van ’n ongeluk het veroorsaak dat hierdie kampioenskap altyd ’n klad op sy naam sal hê. Daar is hierdie jaar soveel reëls gebuig en gebreek om die uiteinde te verseker en die race director se finale beslissing sal vir altyd bevraagteken word. Dit is jammer. Max het dit dalk meer verdien om te wen as jy kyk na sy statistiek deur die jaar, maar Lewis sou Sondag maklik gewen het as Latifi nie die ongeluk gemaak het nie. Die Red Bull-span se strategie was Sondag beter as Mercedes s’n en as die skoen aan die ander voet was en dit was Lewis wat op so ’n manier gewen het, sou hulle net so kwaad gewees het.

En gepraat van Lewis: Sommige mense se haat en venynigheid teenoor Lewis is onaanvaarbaar. Sy rekords spreek vanself en daarvoor moet hy gerespekteer word. Hy het al geweldig baie vir die sport beteken en doen baie om jonger mense betrokke te kry wat nie andersins die kans sou kry nie.

Dis 94 dae tot die eerste F1 van 2022 – die eerste wedren is op 20 Maart in Bahrain. Checo is steeds my gunsteling. Die spanne waarvoor ek gaan uitkyk, is McLaren en AlphaTauri.

Mag al die drywers volgende jaar ’n goeie, veilige seisoen hê en mag Sergio Pérez sy eerste wêreldkampioenskap wen.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top