Die geweld in Nederland – ’n Suid-Afrikaner probeer verstaan

  • 0
...
“Watter pret kan ons vannag hê om die €95 te regverdig?”
...

Ek was Sondagaand besig met ’n Skype-oproep. Beide my sussies het sakebelange in Europa en skielik sê my Duitse sus: “Ouens, kyk ’n bietjie wat in Nederland gebeur!”

Eindhoven, ’n stad in die suide van Nederland, was besig om kwaai deur te loop. Die stasie is ernstig beskadig en ’n Covid-toetssentrum is afgebrand.

Maandagnag het die geweld uitgebrei na ander Nederlandse stede.

Maar wat is aan die gang? En hoekom?

Die eenvoudige antwoord is dat Nederland ’n aandklokreël afgekondig het. In Suid-Afrika was die meeste Suid-Afrikaners vir dekades lank onderwerp aan ’n aandklokreël, maar in Nederland het daardie soort maatreël laas tydens die Tweede Wêreldoorlog gegeld.

So, die eenvoudige antwoord is: die aandklokreël. Soos met enige ander storie, is hier egter ’n groot aantal verhale wat dié een voorafgegaan het.

“Intelligente inperking” en die tweede golf

Die Nederlandse regering het tydens die eerste golf nie so drasties opgetree soos ons hier in Suid-Afrika nie. Hulle het die term intelligente inperking gebruik en het staatgemaak daarop dat landsburgers die waarde sou insien van versigtig wees.

Skole is byvoorbeeld nie gesluit nie. Soos in Suid-Afrika het hulle na die studies gekyk en die virus se impak op kinders was aanvanklik so klein dat die meeste dokters gedink het kinders kan dit nie versprei nie. Maskers is nie in die klaskamer gedra nie, en meestal ook nie in openbare ruimtes nie. Slegs op openbare vervoer was “mondkapjes” verpligtend.

Later het maskers wel verpligtend geword in winkels.

Die tweede golf het Nederland toe ook getref, en soos in Suid-Afrika, is die getalle veel hoër as met die eerste golf. Nagklubs, restaurante en kroeë is gedwing om vroeër toe te maak. Ook skole is, ten dele, gesluit.

Die hoop was dat die strenger maatreëls en nogeens “intelligente inperking” die virus se verspreiding sou kon vertraag terwyl die inentingsprogram (te stadig) uitgerol word. Die regering is ernstig gekritiseer omdat hulle nie vinnig genoeg inentings aangekoop het nie, en boonop word daar nou allerlei vrae gevra oor die vervaardiger, AstraZeneca, se lewering. Selfs die Europese Unie het al ingegryp.

...
Ongelukkig het daar toe nie soveel “intelligente selfdissipline” plaasgevind soos die Nederlandse regering op gehoop het nie.
...

Ongelukkig het daar toe nie soveel “intelligente selfdissipline” plaasgevind soos die Nederlandse regering op gehoop het nie. Met kroeë en nagklubs wat vroeër gesluit het, was huispartytjies en informele “feesten” in ou pakhuise algemeen. Dié geleenthede het, soos in Suid-Afrika, die sogenaamde superspreaders geword.

Dit is waar die regering toe gedwing is om in te gryp. As mense nie intelligent wil wees nie, wel, dan moet daar ander maatreëls kom.

Maar ook hier is ’n stertjie aan.

Die kabinet wat bedank het

Op 15 Januarie 2021 het die Nederlandse kabinet bedank weens ’n skandaal. (Ek vertel hieroor later meer.)

Die vreemde ding is: Hulle het bedank, maar die meeste het in hulle poste aangebly – deels omdat leierskap in die tyd van korona nou nodig is.

Hierdie afvlerkregering moes toe keuses maak oor die aandklokreël en het uiteindelik “advies gevra” van hulle mediese adviseurs. Laasgenoemde het die aandklokreël voorgestel en Mark Rutte, die minister-president wat bedank het maar nou tog aanhou, kon dus die vinger na sy adviseurs wys. Hy is immers nie meer in staat om sulke verfoeilike selfbesluite te neem nie!

Hoe ook al, ’n aandklokreël is ingestel. Tussen 21:00 en 04:30 sal jy tuis bly, of ’n boete van €95 in die gesig staar.

Sondagmiddag het die grappies begin: “Wie van julle gaan sorg dat julle katte vanaand wegloop sodat jy hulle kan gaan soek?” Of: “Watter pret kan ons vannag hê om die €95 te regverdig?”

Ongelukkig het dit nie by grappies gebly nie.

Die koppies koffie wat in geweld ontaard het

In die hoofstad, Amsterdam, het ’n onbedoelde probleem opgeduik. ’n Jongman, Michel Reijinga (23), het ander uitgedaag om saam met hom op die Museumplein in Amsterdam ’n koppie koffie te gaan drink. Hou wou natuurlik protes aanteken en dit was ’n manier om vreedsaam byeen te kom, ook om te betoog sonder om noodwendig, wel, te betoog.

Sy oproep het talle verbaas. Ook vir hom. Mense het na die plein gestroom en die polisie het in groot getalle opgeruk.

Ongelukkig het die betogers nie by koffie gehou nie. Reijinga het self later sommige lede in die skare met sokkerboewe vergelyk.

Toe klim die polisie in met knuppels, honde en perde ...

Dié optrede van die polisie was waarskynlik ’n laaste strooi vir ander groepe wat niks meer as dit nodig gehad het om hulle frustrasies te gaan uitleef nie.

Eindhoven

Eindhoven is, volgens Nederlandse standaarde, ’n groot stad in die suide wat veral bekend is omdat dit die hoofkantoor van Phillips huisves.

Die stasie is ernstig beskadig, winkels is geplunder, motors en asblikke is aan die brand gesteek, en toe die polisie ingryp, is fietse as versperrings gebruik.

Suid-Afrikaners mag dalk gewoond  wees daaraan dat geweld soms uitbreek tydens betogings, maar die Nederlanders ken nie hierdie “rellen” nie. Gewoonlik is dit die sokkerboewe wat amok maak, of soms is daar opstande wat plaasvind in die “achterstandsbuurten” waar ook groot getalle immigrante woon.

...
Maandagnag was dit Nederlanders wat hul eie aanval.
...

Maandagnag was dit Nederlanders wat hul eie aanval. Die burgemeester van Eindhoven het dit “burgeroorlog” genoem, ’n term wat toe plek-plek in die pers  opgeduik het, maar later as te dramaties gekritiseer is.

Wie en waarom?

Die vraag bly: Waarom het die geweld gebeur en wie het dit aangehits?

Ek het met verskeie mense probeer praat, en die antwoorde is kompleks en uiteenlopend.

Een deel van die antwoord sou gesoek kon word by die twee regse leiers, Thierry Baudet van die Forum voor Democratie, en Geert Wilders, voorman van die Partij voor de Vrijheid. Hulle was tjoepstil oor die geweld. Gewoonlik is hulle die grootste lawaaimakers wanneer hulle kan vingers wys na immigrante, sou daar iewers ’n opstandjie uitbreek.

Baudet en Wilders verteenwoordig die groeiende regse beweging wat onverdraagsaam is teenoor buitelanders. Die situasie wat Sondagnag ontstaan het, is egter veel meer kompleks.

...
Sondagnag was ’n soort katarsis van die “complotwappies”...
...

Sondagnag was ’n soort katarsis van die “complotwappies” (komplotdenkers), en dié komplotte het vele tentakels.

Soos in Suid-Afrika, is daar ’n beduidende groep fasciste wat mense probeer wegrokkel van die formele media wat onderhewig is aan sekere gedragskodes. In die plek daarvan ontstaan “eggokamers” wat dieselfde boodskap oor en oor herhaal: Die media is antiwit en anti-Christen. En soos in Suid-Afrika, het Donald Trump vir van hierdie groepe ’n messias geword.

Hoewel Nederland steeds ’n ryk land is, begin korona ook daar winkeleienaars en restaurante seermaak. Gesprekke, op alle vlakke van die samelewing, draai nou na die langtermynimpak van die virus en die verskillende regulasies wat daarmee gepaardgaan. Vrae begin ontstaan oor werksgeleenthede vir jong Nederlanders wat nie in die kennisekonomie sal kan meeding nie. Hulle is veral die mense wat moet meeding met immigrante vir werk, en, nou ja ... Eindhoven is ’n stad wat al hoe meer na die toekoms kyk en blote vervaardiging begin vervang met ’n gepoogde leiersrol in die kennisekonomie.

Trump se virusboodskappe het natuurlik ook ongekende volumes bereik in die eggokamers van die Nederlandse komplotdenkers, “anti-vaxxers” en klimaatontkenners.

Tog is Trump hoegenaamd nie alleen te blameer vir die wantroue in entstowwe nie. Konserwatiewe Nederlandse Christene het in die jare vyftig reeds massiewe veldtogte geloods teen entstowwe. Dit het gelei tot polio-uitbrake en maseluitbrake onder konserwatiewe Christene in verskeie Nederlandse stede.

Tot vandag is inentings vrywillig in Nederland.

Inentings is dus nie al rede nie, hoewel De Volkskrant hierdie waarskuwing geplaas het wat via Facebook gelewer is: “Stelletje tering tyfus fascisten!, hou er rekening mee dat we bezig zijn jullie adressen en gegevens op te sporen.” 

Dit sou dus alte maklik wees om alleen ’n vinger na regs te wys wanneer skuldiges gesoek word vir Sondag se proteste, maar dit is nie die hele waarheid nie.

...
Die sokkerboewe kon bitter lanklaas hulle frustrasies gaan uithaal op opponerende spanne se stede.
...

Die sokkerboewe kon bitter lanklaas hulle frustrasies gaan uithaal op opponerende spanne se stede. Daardie ouens het net ’n halwe kans en ’n paar blikkies bier nodig vir ’n lekker geveg. Een van die mense met wie ek gesels het, meen die feit dat ’n Covid-toetssentrum vernietig is, gewoon daarmee te doen had dat dit op daardie stadium die plek was waar die sokkerboewe byeengekom het – dit was dus nie ’n simboliese teiken nie. (Terloops: Op nag drie, Dinsdagnag, het talle sokkerondersteuners vrywillig aangemeld om die polisie te help in die beskerming van hulle stede!)

’n Mens kan ook nie ontken dat talle jongmense, veral in die armer buurte, baie skepties is oor die polisie nie. Suid-Afrikaners kan gerus Esther Verhoef se Liewe Mamma lees; dit is in Afrikaans vertaal en uitgegee deur LAPA. Verhoef ondersoek die wantroue van die jong werkersklas in die staatsorgane en veral die polisie. Die betreklik brutale hantering van die “koffiedrinkers” op die Museumplein sou vir te veel jong, minderbevoorregte Nederlanders maar net nog ’n voorbeeld wees van ’n stelsel wat hulle nie na waarde ag nie.

Maandagnag, die tweede nag van protes en geweld, was daar ook beduidende steun uit kringe wat betoog gewoon omdat hulle weier om ingeperk te word, of wat betoog omdat dit ’n Nederlander se goeie reg is om te betoog. Dié groepe neem deel om aan die regering te sê: “Moenie met ons grondwetlike regte mors nie.” In Nijmegen was daar klaarblyklik ook ’n tienjarige wat in hegtenis geneem is.

Koppel hierdie hele storie boonop aan die gemors wat aanleiding gegee het tot die bedanking van die kabinet, dan was ’n kruitvat dalk gereed om te ontplof.

Die bedanking kan deels ook na immigrante teruggevoer word. In 2013 is ’n skandaal oopgevlek van Bulgare wat valslik miljoene euro’s van die Nederlandse staat geëis het vir kindersorg. In reaksie het die staat strenger maatreëls oor die betaling van kindersorg ingestel en talle Nederlanders is ondersoek. Mark Rutte, die man wat tans in beheer is van die kabinet wat bedank het, was ’n voorprater om strenger maatreëls teen Nederlanders toe te pas. Dinge het egter lelik skeefgeloop, en  ’n geraamde 26 000 gesinne is verkeerdelik gedwing om geld terug te betaal aan die staat en is sodoende in diep skuld gedompel.

Die “hoekom” is dus kompleks.

Mark Rutte, die einste man wat nou steeds in beheer van sy afvlerkregering is, hou egter onversetlik vol dat die aandklokreël bly.

Dit sal interessant wees om die situasie dop te hou en om nog beter te probeer verstaan wat werklik daar aan die gang is.

***

(Ek het met verskeie bronne gesels en het wyd gelees om die situasie te probeer verstaan. Nie al my bronne wou hulle name noem nie, maar een het toestemming gegee: Solet Scheeres het, soos die goeie onderwyser wat sy is, vir my met oneindig baie geduld deur die historiese én die huidige situasies in Nederland gelei. Dankie Solet. Die stuk is egter my eie, en ek alleen kan blaam dra vir moontlike foute.)

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top