Op 24 Mei 1921 het daar voor die stadsaal in Pietermaritzburg 34 mense weggespring en al met die stofpad langs na Durban se stadsaal toe gedraf. Hulle was pioniers en sou self nooit weet watter enorme impak hulle later op hardlopers van regoor die wêreld sou hê nie.
Op 13 Junie 2021 het ’n paar duisend mense regoor die wêreld ’n virtuele wedloop gehardloop om daardie dag te herdenk. Ek ook. Ek het die 45 km kaalvoet gehardloop.
Maar hoekom? Oor my eie kaal pote vertel ek later meer, maar eers ’n oorsig oor die wedloop.
Die Comrades se geskiedenis
Waarom is daar iets soos die Comrades en hoekom is die 2021-wedloop opgedra aan die verpleegpersoneel wat wêreldwyd in Covid-hospitale werk?
Oorlog. Dis hoekom.
Die idee agter daardie eerste wedloop in 1921 was om kamerade wat tydens die Eerste Wêreldoorlog gesneuwel het, te gedenk.
Padwedlope en langafstandwedlope was nie ’n “ding” in daardie jare nie. Dié wedloop was ’n persoonlike uitdaging vir deelnemers.
Bill Rowan het uiteindelik die stowwerige okkasie gelei en was eerste by die eindpunt. Sy tyd was 8 uur 59 minute. Harry Phillips was tweede – 40 minute na Rowan.
7 days and 21 hrs to go, on this day in 1921 the first ever Comrades was run, Bill Rowan won it in 8:59 pic.twitter.com/9kA7qeqV6h
— ComradesRace (@ComradesRace) May 24, 2014
Net 16 mense het klaargemaak.
Hierdie vreemde gedrag – effens gek mense wat vrywilliglik tussen Pietermaritzburg en Durban hardloop – het die verbeelding aangegryp en die volgende jaar is besluit om van Durban na Pietermaritzburg te hardloop.
Min mense het gehardloop, maar 2 000 toeskouers het by die begin vergader om die hardlopers af te sien.
Dié keer het Arthur Newton die bulte beter hanteer as enigiemand anders en die eindstreep gehaal in ’n tyd van 8 uur 40 minute. Harry Philips was weer tweede en Bill Rowan derde.
In 1923 was Arthur Newton terug. Hy wou wen. Hy het daadwerklik geoefen, en was goed voorbereid.
Dit was bitter koud toe hulle by die Pietermaritzburgse stadsaal opdaag.
Daar was ’n ligte opskudding toe Frances Hayward langs die manne aantree. Vroue is nie toegelaat om sulke lang wedlope te hardloop nie; sy het dus as “nie-amptelike” drawwer weggespring en was nie-amptelik in die 29ste plek aan die einde. Haar tyd was 11 uur 35 minute.
Dit was weer Arthur Newton wat vir die pers gewys het dat die Comrades ’n ernstige kant het. Sy wentyd van 6 uur 56 minute was ongehoord en sy naaste teenstander, Lukas Nel, het eers 52 minute later opgedaag.
Newton sou die eerste persoon word wat die Comrades vyf keer gewen het.
Saam met Newton se gewildheid het kennis van en belangstelling in die Comrades gegroei.
Vir baie jare was dit juis nie iets wat gewone mense gedoen het nie – net effens gek mense hardloop so ver. Die pers het egter dekking aan hierdie bisarre geleentheid bly gee.
Die wedloop het jaarliks bekender geword en het gestadig gegroei.
In 1935 was daar weer ’n klein opskudding toe Robert Mtshali by die beginpunt aantree. Hy was swart! Swart mense was nie toegelaat om amptelik saam met wit mense deel te neem nie.
Mtshali het klaargemaak en is informeel met ’n toekenning beloon deur die liberale organiseerders van die wedloop, maar die staat het ferm gestaan: Swart mense hoort nie ’n wit wedloop nie.
In 1940 was die Tweede Wêreldoorlog ’n werklikheid, maar die organiseerders het die Comrades laat voortgaan. Slegs 23 mense het weggespring en slegs 10 het klaargemaak.
Van 1941 tot 1945 is daar nie ’n wedloop aangebied nie.
Eers in 1946 is die Comrades weer aangebied. Slegs agt atlete het weggespring; almal het klaargemaak.
Dit was ’n hartseer wegspring, want twee voormalige wenners, Phil Masterson-Smith en Frank Sutton, is oorlede terwyl hulle diens gedoen het in die oorlog.
Van hier af het die gewildheid van die wedloop toegeneem.
Teen 1970 was daar 759 hardlopers by die begin, van wie 640 klaargemaak het. In 1974 was daar 1 350 hardlopers wat weggespring het, van wie 1 162 klaargemaak het.
1975 was ’n baie belangrike jaar.
Dit was 50ste keer dat die wedloop aangebied is, maar meer nog: Die organiseerders het van toe af amptelik toegelaat dat swart atlete en vroue ook kon deelneem.
Vincent Rakabele het 20ste klaargemaak en het daarmee die eerste swart atleet geword wat amptelik ’n Comrades-medalje gekry het.
Elizabeth Cavanagh was die enigste vrou wat klaargemaak het en was daarmee dus die eerste vrou wat amptelik ’n Comrades-medalje kon kry.
Bron: WikiMedia Creative, Commons CC0 1.0 Universal Public Domain Dedication.
Deesdae is die Comrades die grootste ultramarathon in die wêreld (nie die langste of die moeilikste nie). Mense vlieg van oral oor in om deel te neem.
In 2017 was ek een van 17 031 mense wat voor Durban se stadsaal weggespring het om na Pietermaritzburg te hardloop; daar was 13 851 van ons wat klaargemaak het.
Van skoolseunfotograaf tot kaalvoethardloper
In 1983 het ons as gesin uit die Wes-Kaap na Pietermaritzburg getrek. Ons huis was ’n paar 100 meter van die Comrades se wenstreep.
In 1983 het Bruce Fordyce die derde keer gewen. Oral om ons was Comrades – die 5 365 hardlopers wat klaargemaak het, moes vlak by ons huis die laaste opdraand pak voor die einde.
Landloopspan van 1983: Ek is in die derde ry, derde van links. (Uit my album, ek weet nie wie die skoolfotograaf was nie.)
Ek was nou in ’n groot skool waar fotografie as klub aangebied is, en waar landloop ’n sport was.
My ma, wat my baie van fotografie geleer het, se ou Voigtländer-kamera het aanvanklik diens gedoen, maar ek het uiteindelik vir my ’n tweedehandse Ricoh gekoop.
Ek het begin landloop doen en het ook buite skoolverband by ’n klub aangesluit om padwedlope te doen.
In 1985 wou Bruce Fordyce by die groot name aansluit – hy sou dit deur sy vyfde oorwinning bewerkstellig. Wat meer is, hy wou dit vyf na mekaar maak, iets wat niemand anders nog kon regkry nie.
Die uwe was ’n knopperige skoolseun, ’n kranige hardloper en taamlik vinnig oor die 1 500 m.
Ek het Fordyce se segetog oor die radio gevolg en was reg om ’n paar foto’s van my held te kry. Op pad na Camperdown het Fordyce en Hoseah Tjale by tye 3 minute 36 sekondes per kilometer gehardloop. Min mense kan dit oor één kilometer doen – en hulle was al by 75 km verby.
Teen Polly Shortts was Fordyce voor en net ’n ramp sou hom stuit.
Toe hardloop Sakkie en sy kamera om Fordyce te gaan afneem.
In daardie dae was daar nie ’n groot persvragmotor en baie motorfietse nie.
Fordyce het bo-op die bult verskyn en ek het my lens in sy rigting gedruk.
Daar was nie outofokus en servostellings nie. Dit was filmkameras en jy het met die hand gefokus.
Ek het geskiet tot hy naby my was, toe probeer ek vooruit hardloop om nog kiekies te kry.
Wel, ek kon. Net-net. Ek het doodmoeg en uitasem weer gekniel vir ’n paar kiekies, maar helaas, ná sy meer as 85 km had ek moeite om vinniger as hy te wees.
Fordyce het gewoon voortgestorm. My kiekies? Ek kon bewys dat ek langs die pad was toe hy sege nommer vyf ingepalm het. Ek weet ongelukkig nie wat van daardie foto’s geword het nie.
Kort tevore het ek vir Poobie Naidoo leer ken. Hy was op daardie stadium Suid-Afrika se 100-myl-kampioen. “Only start running long distances when you get tired of running,” was Naidoo se advies aan dié blinkoog skoolseun.
Ek voltooi my eerste Comrades. (Foto: JetLine Action Photography)
My eerste Comrades het egter gouer gekom as wat ek verwag het. Terwyl ek ’n joernalis vir 5 Seinkorps was tydens my dienspligjare, het ek baie tyd gehad om te oefen en een van die senioroffisiere het aangebied om my ’n geleentheid te gee. Ek kon by my ouers gaan oorbly.
Op Dinsdag 31 Mei 1988 het my pa my by die Durbanse stadsaal gaan aflaai. Ek was een van 11 225 mense wat weggespring het.
Daardie heuwels ... Die wedloop was 87,5 km en ’n mens klim meer as 1 000 m vertikaal oor daardie afstand.
Kort voor my het Wally Hayward gehardloop. Hy het ook die Comrades vyf keer gewen in sy jonger dae. Nou was hy 79 jaar oud en hy was terug.
Die oubaas het een wêreldrekord na die ander opgestel daardie dag – in sy ouderdomskategorie was hy verstommend. Eers op Polly Shortts kon hierdie 19-jarige hom verbygaan. Ek het so ongeveer vyf minute voor hom klaargemaak, en was dus in die stadion toe hy inkom. Dit was ’n magiese oomblik.
In 1989 was ek in die Kaap en het nie geld gehad om te hardloop nie, maar in 1990, 1991 en 1992 het ek in Pietermaritzburg gestudeer en kon ek elke jaar hardloop.
Die einde van my tweede Comrades. Let op die wit armband. (Foto: JetLine Action Photography)
In 1990 het ek ’n verhouding met ’n meisie ontwikkel en ek het al die pad met haar wit haarlint om my arm gehardloop. Die wit lint was om die aandag te vestig op die toenemende geweld tussen Inkatha en die terugkerende ANC-kamerade.
Dekades het verbygegaan voor ek weer ernstig begin hardloop het. Ek het by Celtic Harriers aangesluit en in my vrye tyd het ek met die bemarking van die Durbanville Kinderhuis gehelp.
Peter Taylor (Foto: Izak de Vries)
’n Spanmaat by Celtic Harriers, Peter Taylor, is ’n legende wat die Twee Oseane-marathon al meer as 30 keer sonder skoene gehardloop het.
Ek het op daardie stadium nog skoene gedra, maar het ná my voete blase ontwikkel het in die Kaapstad-marathon, my skoene by die huis gelos en op die gras gaan oefen by ’n nabygeleë skool. Dit was pret en ek het besluit om die volgende marathon sonder skoene te doen.
Ná ek die marathon voltooi het, wou een van my klublede weet wat ek gaan doen met my vreemde gedrag; Peter samel geld in vir die Gidshondvereniging.
Toe onthou ek dat Michael Olivier, die bekende sjef en wynkenner, eendag vir my vertel het dat hy saam met kinders uit die Durbanville Kinderhuis op skool was. Hulle het bekendgestaan as die kaalvoetkinders ...
Wel. Net daar skryf ek vir Johanna Strauss en vra: “Hoe kan ek help?”
Ek het ’n uiteindelik ’n hele aantal Comrades-marathons sonder skoene gehardloop en die Suid-Afrikaanse skrywers was baie goed vir die Kinderhuis. Mense soos Chanette Paul, Alta Cloete, Sakkie Spangenberg en Dine van Zyl het oor die jare skenkings gemaak as ek so mallerig met my kaal pote die bulte aandurf. Daar was ook talle ander, ook selfs besighede, wat gehelp het.
Ek praat skaamteloos oor die Durbanville Kinderhuis wanneer ek oor die Comrades praat. Dit help hulle, maar dit help my ook.
Bruce Fordyce, koning van die Comrades, het by geleentheid gesê dat ’n mens ’n ultraïstiese rede moet hê om aan te dink wanneer die pyn erg raak – dit gee jou die moed om aan te hou.
Fordyce het self by geleentheid met ’n swart armband gehardloop om teen die Nasionale Party se vergrype te protesteer.
Tog, die Comrades bly iets wat jy doen om jouself uit te daag.
Die begin van my 10de Comrades. (Foto: JetLine Action Photography)
Toe ek in 2016 in ’n bitter koue Pietermaritzburg wegspring met my kaal pote, was die opwinding groot. Die adrenalien het gepomp. Op my bors was ’n geel nommer. Maak ek klaar, dan kry ek ’n groen nommer.
Veel later, toe dit seer word, het ek weer aan die 144 kinders in die Kinderhuis gedink.
Op 60 km is alles in jou lyf seer, selfs op plekke wat jy nie eens geweet het jy het nie. Dit is die gevaarsone daardie. Jy is moeg, en daar lê nog byna 30 km voor, iets wat skielik onmoontlik voel. Vasbyt is al wat help.
Die einde van my 10de Comrades; hier het ek nog 20 meter oor. (Foto: JetLine Action Photography)
Daardie aand toe ek by Kingspark inhardloop, is ek uitgevang, soos ’n skapie, en na die tent gelei om deel te word van die groennommerklub. Dit was ’n groot oomblik; een wat ek dalk nie sou probeer bereik het as dit nie was vir die Durbanville Kinderhuis nie.
Ek ontvang my groen nommer van Grace de Oliveira. Sy het tien Comrades-medaljes verower, waarvan sewe goud. (Foto: JetLine Action Photography)
2021, ’n spesiale jaar
Dit het nog ’n wêreldoorlog gekos om die Comrades se jaarlikse byeenkoms te kelder.
Die begin van die 2020 virtuele Comrades. (Selfie)
In 2020 was die wêreld reeds in die greep van die Covid-pandemie en die Comrades-vereniging het vir die eerste keer ’n virtuele wedren aangebied. Dit was eksperimenteel en ek het buite om die Durbanville Kinderhuis my 10 km gedraf – ek was dus nooit op hulle gronde nie.
2021 was egter spesiaal en die Comrades-vereniging het vroeg reeds geweet dat hulle nie ’n formele wedloop sou kon hou nie.
So het die Hope Challenge ontstaan, en die virtuele wedloop op Comrades-dag is opgedra aan al die verpleegpersoneel wat wêreldwyd met Covid-pasiënte werk.
Ek het ingeskryf vir die 45 km en het mense gevra om R45 vir die Durbanville Kinderhuis te skenk.
Talle ander hardlopers het ook vir liefdadigheid gehardloop.
In die gees van kameraderie is die virtuele wedloop in vyf kategorieë afgelê.
- Daar was 674 mense wat ingeskryf het vir die 90 km, en 387 het klaargemaak.
- Daar was 2 165 mense wat ingeskryf het vir die 45 km, ek was een van die 1 599 wat klaargemaak het.
- Daar was 5 086 mense wat ingeskryf het vir die 21 km, en 4 064 het klaargemaak.
- Daar was 3 541 mense wat ingeskryf het vir die 10 km, en 2 880 het klaargemaak.
- Daar was 2 958 mense wat ingeskryf het vir die 5 km, en 2 379 het klaargemaak.
’n Virtuele wedloop
Hoe werk die virtuele wedloop?
Die toep se voorblad. (Skermgreep)
Ek het gehardloop met ’n toepassing op my foon. Die maatskappy wat die wedloop gereël het, was dus bewus van my die oomblik toe ek begin en het dadelik my resultate gehad ná ek die wedloop voltooi het.
My Garmin-horlosie het ook my vordering dopgehou. (Skermgreep)
Jy kon egter ook jou oefenhorlosie gebruik en die resultate op die webruimte laai.
Hier was nie geld of pryse by betrokke nie. Dit was soos die ou dae. Elke persoon het dit vir haar-/homself gedoen. Wou jy verneuk, dan kon jy.
Halfpad in my 11de Comrades, nou met ’n groen nommer op my bors. Let op die swart bandjie om my enkel. Dit is waar die skyfie sit. Minder gek mense maak die skyfie aan hul skoenveters vas. (Foto: JetLine Action Photography)
Dit is baie anders tydens die ware wedloop, waar elkeen met ’n skyfie hardloop wat op talle plekke tydens die wedloop gemonitor word.
Almal wil altyd weet hoe my voete lyk na die Comrades. So. Geneem na Comrades nommer elf. (Foto: Marianne de Jager)
Mag ons eendag weer kan!
Ons weet groot geleenthede is die manier waarop die virus versprei. Sal Suid-Afrika genoeg mense teen 2022 kan inent?
Ek weet nie. Gauteng se hospitale loop tans weer oor. In die Wes-Kaap lyk dinge sleg. Ons gaan waarskynlik binnekort weer strenger beperkings in die gesig staar.
Daarom was hierdie jaar virtueel – elke persoon kon in sy of haar eie dorp, stad of voorstad hardloop. Regoor die wêreld het die wedloop van 2021 dankie gesê aan die mediese personeel wat vreesloos teen die virus veg.
Klaar met die 2021 virtuele Comrades oor 45 km. (Foto: Elma de Vries)
’n Toepassing op jou foon is egter nie dieselfde as 17 000 bang lywe om jou nie. Bang? Ja. As jy nie bang aan die begin van ’n Comrades is nie, moet jy dadelik huis toe gaan.
Tog, ons doen dit, nie omdat dit maklik is nie, maar juis omdat dit moeilik is.
Dit sal dus heerlik was as genoeg mense ingeënt kan word om weer bymekaar te kan kom om as kamerade ’n ware Comrades te hardloop.