Die klank van oorlog: Van Jerigo tot Oekraïne

  • 0

"I'm not sure if I could go back to Kyiv and pick up a gun and start shooting – but I am going to take my guitar and use it as a weapon." – Postman (aka Kostiantyn Pochtar),  Oekraïense sanger

Postman se stelling is gelaai met simboliese en praktiese waarde. Kitaarakkoorde en geslypte lirieke kan nie ’n missiel stuit nie. Dit kan wel ’n groepsidentiteit vir die onderdruktes skep wat op lang termyn meer skade kan aanrig teen die opposisie as ’n bomontploffing. In Augustus 1963 het 300 000 optoggangers saam met die 22-jarige Joan Baez haar weergawe van “We shall overcome” gesing. Hierdie saamtrek by die Lincoln Memorial was te midde van die burgerregtebeweging in die VSA en word beskou as een van die grootste protesgeleenthede nog. Dit is bloot spekulasie, maar dit laat mens wonder of die gevoel van samehorigheid en gemeenskaplike strewe na rassegelykheid ewe geslaagd sou gewees het sonder Baez en haar kitaar op die verhoog.

Die situasie in Oekraïne versleg by die dag. Daar word talle sterftes en ernstige beserings aangemeld. Meer as drie-en-’n-half miljoen burgers is landuit. Meer as twee miljoen van die vlugtelinge word tans in Pole gehuisves. Talle kunstenaars het sosialemediaplatforms aangewend om steun te verleen aan ontheemdes, soldate en kampvegters in die stryd teen Poetin. Postman het onlangs ’n konserttoer in Pole van stapel gestuur waarvan al die opbrengste geskenk word aan sy geboorteland se dapper terugvegpoging teen die Russe. Hy is een van vele liedjieskrywers wêreldwyd wat die afgelope drie weke hul skeppings met kernkrag gelaai het. The Kiffness van Suid-Afrika het onlangs ’n YouTube-video gelaai waarin hy en Andriy Khlyvnyuk, die hoofsanger van  die Oekraïense groep Boombox, ’n duet uitvoer. In plaas van ’n kitaar hang daar ’n masjiengewer om sy nek. Hy sing:

In the meadow a red kalyna has bent down low
For some reason our glorious Ukraine has been worried so.
And we'll take that red kalyna and we will raise it up
And we, our glorious Ukraine, shall hey, hey rise up and rejoice!

Die tantieme van die lied bedra reeds meer as R200 000 en word ook bewillig vir die stryd teen Poetin.

Waarom maak mense musiek tydens oorloë?

In J Martin Daughtry se Listening to war: sound, music, trauma, and survival in wartime Iraq maak hy ’n insiggewende stelling. Hy verduidelik dat die mens met sy ore en liggame na musiek luister. Ons skrik met die aanhoor van harde geluide nog voor die brein die inligting kon verwerk. Ontploffings ontketen supersoniese lugversteurings wat mettertyd spoed verloor en dan hoorbare klankgolwe – die hoeksteen van musiek – word. “It is therefore a mistake to place music and violence in separate categories.”

Steven Mithen ondersoek die vraagstuk uit ’n kalmer perspektief. Hy beweer in sy boek The singing Neanderthal dat endorfiene vrygestel word wanneer ’n groep mense aan ’n gemeenskaplike aktiwiteit deelneem. Hy sê: “Music is a medium through which individual brains are coupled together in a shared activity.” Die oorkoepelende term van dié verskynsel staan bekend as “coupling” en/of “boundary loss”. Hy verduidelik dat wanneer mense hul danse en sang sinkroniseer, ontstaan daar ’n kollektiewe emosionele “ruimte”. Die individu verdwyn in belang van die groep. Sportbyeenkomste is een voorbeeld hiervan. Die Springbokke (die manne wat in die voorste linies teen die opposisie “veg”) gaan ongetwyfeld skeef kyk sou jy op jou eie langs die veld sit en skree “Go Bokke!” As 50 000 mense die volkslied sing, stort miljoene trane, want “Ons is almal een. Tackle die All Blacks in hulle moere in!” Soms gebeur die teenoorgestelde en ons manskappe in groen en goud sneuwel een na die ander. Woede, hartseer en teleurstelling volg ’n soortgelyke trajek. As die helfte van ’n stadion skree en voete stamp, ontstaan daar ook “coupling”. 

Musiek in die voorste linies

Musiek op die slagveld het basies twee funksies: Dis ’n kommunikasiemiddel en sielkundige oorlogvoering. Van die oudste verwysings na dié dubbele funksie word vervat in die Bybel in die boek van Josua. Die konflik by Jerigo word grotendeels geassosieer met die gebruik van ramshorings. Alhoewel hierdie instrument ’n knal kan spuug, is dit onwaarskynlik dat die sewe meter hoë mure inmekaar sou getuimel het. Allegories of te not – of dalk was dit bloot ’n gelukskoot in die vorm van ’n toevallige aardbewewing – Josua het die twee oorlogsfunksies van musiek verstaan. Die welbekende “hit and run”-taktiek en die priesters wat met presiese tydsberekening ’n geskal ten hemele blaas, het die Kanaäniete se moreel geknak. ’n Netjiese oorwinning vir die Israeliete wat William R Trotter, ’n militêre historikus, beskryf as “a battle won by sound communication and psychological warfare”.

Die bose kant van klank

Daar is egter ’n minder-bekende gebruik van musiek wat mens laat huil – of laat lag, indien jy sadistiese neigings toon. Die praktyk van musikale marteling is reeds in die 1950’s deur die Amerikaanse intelligensiediens nagevors en later jare in gebruik geneem. Die doel was om informasie van krygsgevangenes te bekom deur hul psigies te mishandel met oorverdowende klank. “No-touch torture” soos dit bekend staan, is baie effektief, goedkoop, bloedloos en vermaaklik vir die personeel aan diens. Gevangenes is in ’n donker kamer op ’n stoel vasgeboei met ’n vyftien-duim-luidspreker as kamermaat. Mohammed al-Qahtani, die sg twentieth hijacker, verwysend na die 9/11-katastrofe, is in 2001 gearresteer. Sy verklaring was nie na wense nie. ’n Klanksisteem is nadergesleep en ’n spellys is saamgestel om sy tong los te maak. Sy oordromme is getrakteer op ’n Christina Aguilera-keurspel, Eminem se “Kim” (“Sit down, bitch / If you move again I’ll beat the shit out of you”) en Drowning Pool se “Bodies” (“Let the bodies hit the floor”), AC/DC se “Thunderstruck” (“The thunder of guns tore me apart”) en glo dit of nie, die temalied van Barney and Friends (“I love you, you love me, we’re a happy family”). Die intimidasietegniek het sterk teenkanting gekry en is nie meer in gebruik nie. Wêreldberoemde musiekgroepe en solokunstenaars het hul handtekening gevoeg by ’n petisie om die bose gebruik van hul kunsvorm stop te sit. Van die ondertekenaars sluit in Christopher Cerf (komponis van Sesame Street), Tom Morello (RATM/Audioslave), Massive Attack, REM, Rise Against, Pearl Jam, Bonnie Raitt en Trent Reznor. Quignard noem in The hatred of music: “... the Latin word obaudire, to obey, contains audire, to hear. Music hypnotizes and causes man to abandon the expressible. In hearing, man is held captive.” En meer insiggewend in die bespreking van hoe musiek as ’n euwel aangewend kan word, sê Alex Ross in The New Yorker: “To admit that music can become an instrument of evil is to take it seriously as a form of hu­man expression.”

Oorlog volg nie reëls nie. Wanneer reëls verdwyn, val sosiale norme en waardes by die venster uit. Die gevolg is groepering. Die goeie vs die bose. Wanneer die bose heers, bring dit kameraderie tot stand. Kameraderie maak van gewone mense helde. Joernaliste berig oor die ware stand van gebeure terwyl koeëls oor hulle koppe vlieg, Zelensky word staande toegejuig in die parlementsgeboue van wêreldmoondhede.

Volodymyr Zelensky (Grafika: lbokel via Pixabay.com)

’n Dogtertjie in ’n bomskuiling sing die temalied van Frozen (“Let it go, let it go. Can’t hold it back anymore”) en word sodoende ’n simbool van jeugverset teen die Russiese invalle.

Terwyl bomme die meeste van die metropole reeds in puin gelaat het, doen verhoogkunstenaars wat hulle die beste doen: om ’n onderdrukte nasie saam te laat staan deur ’n kunsvorm wat ’n atoombom in die gesig kan staar, en sing: And we, our glorious Ukraine, shall hey, hey, rise up – and rejoice!

Bronne: 

https://www.newyorker.com/magazine/2016/07/04/when-music-is-violence

https://www.theatlantic.com/culture/archive/2022/03/ukraine-war-music-history/627024

https://www.businessinsider.co.za/a-folk-song-remixed-by-sas-the-kiffness-has-raised-over-r200000-for-ukraines-govt-so-far-2022-3

https://www.historynet.com/the-music-of-war

https://www.bbc.com/news/entertainment-arts-60586817

https://www.bbc.com/news/world-60555472

Steven Mithen. 2007. The singing Neanderthal: The origins of music, language, mind, and body. Harvard University Press

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top